[Foto’s en video] Brandtragedie by gewilde vakansieoord

Die houthuis wat gebrand het. Foto: Verskaf

Die houthuis wat gebrand het. Foto: Verskaf

Twee mense van Gauteng is Sondagoggend dood nadat die houthuis waarin hulle oornag het by ʼn gewilde vakansieoord in Mpumalanga tot op die grond afgebrand het.

Ziska Haak, verhoudingsbestuurder van die Forever Resorts-groep, het Maandag by navraag aan Maroela Media bevestig dat ʼn brand in ʼn houthuisie by hul Loskopdam-oord ontstaan het.

“Die oorledenes se identiteit kan nie in die stadium bekend gemaak word nie. Hulle is van Gauteng afkomstig, en het die oord vir die naweek besoek,” het Haak gesê.

Sy het gesê die polisie het reeds ʼn ondersoek na die oorsaak van die brand van stapel gestuur, maar dat dit nog nie bepaal kon word nie. Geen ander houthuise is deur die brand geraak nie.

Die groep kon nie meer inligting oor die voorval bekendmaak nie. “Ons staan die polisie by in hul ondersoek en sal terugvoer gee sodra die forensiese eenheid sy ondersoek voltooi het,” het sy gesê.

ʼn Ooggetuie het Maandag aan Maroela Media gesê die brand moes tussen 04:30 en 05:00 ontstaan het. “Ons het ook vir die naweek in die houthuise oorgebly en het die oggend ʼn groot geraas gehoor. Dit het geklink asof iemand klappers skiet,” het die man, wat verkies om anoniem te bly, gesê.

Hy het gesê die huis is in sowat ’n uur in puin gelê.

Die gewilde jaarlikse Loskop Kurper Bonanza is die naweek by die oord gehou. Sover vasgestel kan word, is die oorledenes nié deel van die groep mense wat die geleentheid bygewoon het nie.

Maroela Media het navraag by die polisie gedoen en wag nog vir terugvoer.

[wpvideo AnbLL3vN]

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Julie ·

Uiters tragies – ek wonder wat die brand laat ontstaan het??? Dalk elektriese kortsluiting iewers???

DPJ ·

Ons innige empati met die naasbestaandes van die man en vrou.
‘n Ongeluk gebeur baie vinnig. Net jammer dat die egpaar nie betyds wakker geword het nie. Die vrae sal maar altyd bly.
Wees gerus hulle is in ‘n beter plek as ons.

Corrie ·

So tragies! Wonder of dit nie van die braaivleis vuur kon gebeur het nie. Sterkte aan die familie.

Jan ·

Miskien is daar gas stofe/geysers in die huisies? Wonder of daar gas en brand alarms geinstalleer was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.