Foto’s en video: Dele van SA toe onder sneeukombers

Dennekruin in Ceres. Foto: Twitter via Lizann Muller Boltman op @ReenvalSA.

Die intense kouefront wat Sondag in die Wes-Kaap aangeland het, het prentjiemooi tonele in sommige provinsies geskep.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Maandag op Twitter laat hoor daar is besonder goeie reënval oor die afgelope 24 uur in die westelike dele van die Wes-Kaap aangemeld.

“Die meerderheid van die streek het gemiddeld sowat 30 mm reën gekry. Ceres het 124 mm gekry, Villiersdorp het 67,4 mm gekry, Tulbach 66,2 mm, Grabouw 65 mm, Kirstenbosch 52,8 mm, Jonkershoek 52 mm en die Strand 41mm.”

Maroela Media het vroeër berig  daar het Sondag wydverspreide kitsvloede in Kaapstad voorgekom. Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, het Sondag gesê verskeie paaie oor die hele stad heen is oorstroom.

Volgens die SAWD sal reënbuie Maandag in die westelike en suidelike dele van die land voortduur met sneeu wat op die hoogliggende gebiede verwag word.

“Die kouefront wat oor die sentrale binneland geposisioneer is sal Gauteng teen Maandagaand bereik. Koue en baie koue toestande kan vandag verwag word oor meeste van die sentrale en westelike Suid-Afrika asook stormsterk winde langs die Suid- en Ooskus.”

Die weerdiens het verlede week in ʼn verklaring gesê die kouefront sal teen Dinsdag na die suidwestelike binneland van KwaZulu-Natal beweeg, met koue maksimumtemperature van minder as 10 °C.

“Teen Maandagmiddag behoort die kouefront sneeu na die meeste dele van Lesotho te bring en daar behoort teen laat Maandagaand of vroeg Dinsdagoggend sneeu op die piek van die Saniberg te val. Ons kan moontlik ook sneeu in KwaZulu-Natal sien met sneeuval wat voorspel word vir Underberg, Mooirivier, Rosetta en Impendle,” lui die verklaring.

Pretoria sal Dinsdag maar ʼn maksimum van 16 °C ervaar en Johannesburg Dinsdag slegs 15 °C.

Die SAWD het ook gesê daar word Maandagaand en Dinsdagoggend erge ryp verwag oor dele van die Vrystaat, Noordwes, die binneland van die Noord-Kaap; die noordelike binneland van die Oos-Kaap asook die suidelike hoëveld van Mpumalanga, met minimumtemperature onder -5°C in sommige plekke.

Sosialemediagebruikers het sedert Sondag verskeie foto’s op sosiale media begin deel van paaie, tuine, motors en huise wat toe is onder ʼn sneeukombers.

Reënval SA het op Twitter foto’s gedeel van spierwit tonele in onder meer Sutherland in die Noord-Kaap, Ceres in die Wes-Kaap en die Hantam- en Outeniquaberge met wit mussies op.

Snow Report SA, het op hul amptelike Facebook-blad ʼn video gedeel van een van hul verslaggewers oftewel “sneeusoekers” wat in vlae sneeu staan by die Matroosberge in die Wes-Kaap. Die video is laat Sondagaand op grondvlak geneem en die sneeu lê reeds ʼn spierwit mat op die grond.

Ander plekke waar daar sneeu gewaar is sluit in Middelburg in die Oos-Kaap, Somerset-Wes, Swellendam, De Doorns, tussen Touwsrivier en Worcester, De Hoop, Gydopas buite Prince Alfred, die Bo-swaarmoedpas in die Wes-Kaap asook Tafelberg.

Snow really coming down at Matroosberg

Our new snow reporter in the Western Cape experiences the most impressive falling snow he's been in while in South Africa – in fact it almost felt like being in a North Americam winter! Richard and the team stayed up late waiting for the snow so that you could all enjoy an early morning video, but they were not expecting it to come down so heavily around the cottages at Matroosberg Private Nature Reserve near Ceres.

Posted by Snow Report SA on Sunday, July 1, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.