[Foto’s en video] Durban begin omvang van skade bepaal

Julian Singh van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) dra ʼn kind na veiligheid in Montclair (10 Oktober 2017). Foto: ANA/NSRI Durban

Owerhede was Woensdag steeds besig om ʼn beraming van die skade in Durban in KwaZulu-Natal te doen nadat ʼn hewige storm die hawestad Dinsdag geruk het.

EWN berig sewe mense het Dinsdag in die storm gesterf, onder wie ʼn agtjarige kind wat deur weerlig getref is en ʼn 46-jarige man wat verdrink het toe hy ʼn rivier probeer oorsteek het.

ʼn Polisiebeampte is dood toe reuse-skeepshouers deur die stormwind omgewaai en bo-op sy motor geval het. Nog ʼn man wat saam met hom in die motor was, is beseer. Vier ander mense, onder wie ʼn kleuter wat deur vloedwater meegesleur is toe ʼn kleuterskool oorstroom is, het omgekom.

Die stad se rampbestuursentrum is oorval met oproepe van mense wat hulp versoek, terwyl reddingswerkers onverpoosd gewerk het om motoriste uit voertuie te red, mense uit huise wat oorstroom is te help en beseerdes te hulp te snel.

Bote en skepe by die hawe in Durban is deur die hewige storm van hul ankers losgeruk (10 Oktober 2017). Foto: Verskaf

Swak dreineringstelsels van die stad se paaie het probleme vererger terwyl wind van meer as 70 km/h in die stad gewoed het. Die King Shaka Internasionale Lughawe het wind wat tot 120 km/h gemeet.

Sam Mkhwanazi, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid, het gesê vyf hospitale, King Edward-, Addington-, King Dinuzulu- en Wentworth-hospitaal asook die Prince Mshiyeni-gedenkhospitaal, is erg deur die storm geraak. By die King Edward-hospitaal het ʼn gedeelte van die dak ineengestort en pasiënte moes uit die gebou verwyder word.

Berigte is ook ontvang van ʼn modderstorting en ʼn skool op die Bluff wat ineengestort het.

Die volle omvang van die skade sal eers oor die volgende paar dae bekend word namate inwoners, versekeraars en stadsbeamptes voorraad neem van die skade. Na raming sal die skade miljarde rande beloop.

Kyos Magupe, ook bekend as DJ Kyos, het die onderstaande video van ʼn haelstorm in Durban op sy Instagram-rekening gedeel (10 Oktober 2017). Video: ANA/Kyos Magupe

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.