Die video en meer foto’s volg onderaan die berig.
Een persoon is dood en ten minste 65 mense word behandel vir verskeie beserings nadat twee busse Vrydag in Johannesburg reg van voor gebots het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het op die toneel gesê die ongeluk het in Jan Smutsrylaan in Saxonwold plaasgevind.
“Die persoon wat dood is, is vermoedelik een van die busse se bestuurders,” het Meiring gesê. “Die pasiënte wat behandel word het matige tot kritieke beserings opgedoen.”
Paramedici van ER24 en ander nooddienste is steeds op die toneel besig om die pasiënte by te staan en na nabygeleë hospitale te vervoer vir verdere behandeling. Beamptes van Fire and Rescue Services is besig om sommige mense, waaronder ʼn swanger vrou, uit die busse uit te sny.
Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.
Ek verstaan nie. Die busse is dan soooo grooot, hoe kan die bestuurders dit dan miskyk in die aankomende verkeer?
Ek het intussen op ‘n radio berig gehoor dat die swanger vrou ook oorlede is. Dis so tragies want dit beteken dat haar ou babatjie ook nie gebore gaan word nie. Verder het hulle oor die radio genoem dat dit ‘n kop aan kop botsing was. Mens kan sit en bespiegel oor hoe die ongeluk plaas gevind het maar op die ou end van die dag is 3 lewens geneem weens iemand se nalatigheid.
Skynbaar het die een bus die randsteen raakgery, rigting (balans) verloor en het die busbestuurder oorkorrigeer.