Foto’s en Video: EF1-sterkte tornado het Vryheid getref, meen kenners

Dian du Plooy (links) en Nathon Viljoen. Foto: Verskaf.

Dian du Plooy (links) en Nathon Viljoen. Foto: Verskaf.

Kenners by die Suid-Afrikaanse Weerdiens beweer die tornado wat Saterdag vir groot opwinding naby Vryheid in KwaZulu-Natal gesorg het, was glo ʼn EF1-tornado.

Craig Powell, ʼn weervoorspeller, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle het talle foto’s en video’s van verskeie bronne van die tornado ontvang. “Ons kan ongelukkig nie met sekerheid vasstel watter tipe storm dit was nie want ons radar strek nie so ver om die nodige inligting te bekom nie,” het Powell gesê. “Ons het wel die foto’s en video’s ontleed en kan daarvolgens sê dit lyk eg en die sterkheid kan bepaal word volgens skade wat aan die bome aangerig is.”

Powell het gesê volgens die foto’s kan die tornado moontlik as ʼn EF1-sterkte tornado geklassifiseer word. Tornado’s word op die verbeterde Fujita-skaal gemeet met EF0 wat relatief swak is, tot EF5 (baie sterk).

Hy het gesê EF1-tornado’s is ʼn algemene verskynsel en volgens boere in die omgewing nie ongewoon vir die gebied nie. Dit kan wel gevaarlik wees en windsnelhede van sowat 130 km/h bereik.

Maroela Media het ook met Nathon Viljoen, ʼn 17-jarige leerling aan Hoërskool Pionier in Vryheid wat die verskynsel eerstehands ervaar het, gesels. Hy was saam met sy skoolmaats op ʼn leierskapkamp by Bloedrivier.

“Ek was besig om te stort toe my vriende my geroep het en gesê het daar is ʼn tornado,” het Viljoen gesê. “Ek het gedink hulle maak ʼn grap, maar het my handdoek gegryp en gaan kyk.”

Hy het gesê toe hy die tornado sien, was dit groot en ver van hulle af. Hy en ʼn vriend, Dian du Plooy het foto’s geneem terwyl die tornado in die agtergrond woed.

“Dit was ʼn baie opwindende ervaring, maar ek het nogal bekommerd geraak toe dit nader aan ons kom en ons die wind voel ruk. Dit het toe darem gou opgeklaar en net een of twee bome verwoes, en ʼn streep in die veld agtergelaat wat sowat 1 km ver gestrek het,” het hy verduidelik. “Gelukkig het my handdoek nie afgewaai nie,” het hy geskerts.

Niemand by die kamp is beseer nie.

http://youtu.be/UvNTjwytoLU

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.