Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Simonstad moes Saterdag bontstaan nadat ʼn seiljag ʼn walvis getref het en besig was om te sink.
“Die span is omstreeks 12:15 ontbied na berigte dat ʼn 35 voet seiljag, Slegte gewoonte (Bad Habit), besig is om te sink,” het Darren Zimmerman, NSRI Stasie 10-stasiebevelvoerder, in ʼn verklaring gesê. Die seiljag, wat aan die jaarlikse Lenteregatta deelgeneem het, was ongeveer een seemyl van Vishoek.
“Die seiljag het die walvis per ongeluk getref terwyl hulle teen ongever 13 knopie (24 km/h) gevaar het en die roer het uitgeskeur. Water het dadelik in die seiljag begin invloei in ʼn gat van ongeveer ʼn halfmeter breed.”
Die seiljagbemanning het vinnig reageer en lewensreddingsbaadjies, seile, sitplekkussings en ander los voorwerpe op die seiljag gebruik om die gat te probeer toestop. “Die bemanning het ook met emmers van die water uitgeskep.”
Terwyl die NSRI die seiljag begin sleep het, het die bemanning aan boord gebly om steeds die gat te probeer toestop en water met emmers uit te skep.
Dit was moeilik om die seiljag te sleep, aangesien die roer nie gebruik kon word om dit te stuur nie.
“Die NSRI het gereël dat die kusbemanning ekstra waterpompe bring om die water uit die seiljag te kry,” het Zimmerman verduidelik. ʼn 44 gallon-drom, gevul met water, is op die voorste punt van die seiljag geplaas om die agterkant van die seiljag uit die water te lig. Valsbaai se seiljagklub het hul hyskraan gebruik om die seiljag uit die water te tel.
“Drie van die seiljagbemanning het beserings opgedoen. ʼn Vrou is vir verkluiming en verdrinkingsimptome behandel,” het Zimmerman gesê. “Nog ʼn vrou het sagteweefselbeserings aan haar knieë opgedoen en sy is in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem. ʼn Man het ʼn geringe besering aan sy lip opgedoen.” Die res van die bemanning, vier mans, het nie beserings opgedoen nie.
“Die seiljagbemanning word geëer vir hul goeie seemanskap om te verhoed dat die seiljag sink.
Dit is soort van lekker om re lees van ‘n 44-gallon drom! Wanneer laas het ons daarvan gehoor. Aan die standard sessies, dit is 200L. Klink asof sommige van die passasiers kneusplekke opgedoen het maar nie asof enige een aan die walvis gevra het hoe diè na die onderonsie voel nie. Miskien het die walvis dit net so terloops opgemerk.
Gelukkig is almal gered en is daar goed omgesien na die beseerdes. Maar wat het met die walvis gebeur? Is daar iemand wat aan die arme dier gedink het?
Al die beserings was lig en die bemanning sal weer spoedig op die water wees.
As n 2 ton seiljag teen 24km/h in n 40ton walvis vas seil, kom die boot tweede beste daarvan af en die walvis het dalk n blou kol en n ligte hoofpyn. Mooi so manne en dames, julle het kop gehou en lewens en die boot gered. En baie dankie aan Stasie 10 vir julle hulp, baie professioneel.