Foto’s en video: Geweld tydens betogings by Luthuli-huis

Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het Maandag by Luthuli-huis ʼn memorandum in ontvangs geneem van die Black First Land First (BLF)-beweging.

Verskeie groepe betogers het Maandagoggend buite Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad saamgedrom. Een groep was ANC-ondersteuners wat ANC-president Cyril Ramaphosa en “Zuma must fall” ondersteun terwyl die ander ANC-ondersteuners is wat pres. Jacob Zuma ondersteun en sê “Hands off Zuma”. Lede van die BLF het ook later by Luthuli-huis opgedaag nadat hulle eers op die Gandhi-plein bymekaargekom het.

Op Twitter het gebruikers video’s gedeel van ʼn njala-pantservoertuig met ʼn sleepwa vol doringdraad wat by die toneel opgedaag het. Daar was ook ʼn onderonsie tussen ʼn BLF-ondersteuner wat by die toneel opgedaag het en toe swetsend deur ANC-lede weggejaag is.

ʼn Vragmotor het later opgedaag waarna ʼn struweling tussen ANC-ondersteuners en die mense agter op die vragmotor uitgebreek het. Die vragmotor het glo BFL-lede vervoer. Foto’s en beeldmateriaal van die voorval wys onder meer hoe ʼn man ʼn vrou skop terwyl sy op die grond lê. Volgens berigte is die man ʼn ANC-taksekretaris.

Foto: AP Photo/Themba Hadebe

ʼn Woordvoerder van die ANC het aan PowerFM gesê hulle het die beeldmateriaal onder oë gehad en sal ondersoek instel na die voorval. Die ANC in Johannesburg het in ʼn kort verklaring gesê die ANC veroordeel geweld en dat die skuldige dissiplinêr verhoor sal word.

Die BLF waarsku in die memorandum wat aan Magashule oorhandig is dat die leierskap van die ANC nie ʼn “staatsgreep” teen Zuma moet instel nie. Die BLF eis onder meer dat radikale ekonomiese transformasie geprioritiseer moet word, dat die grond wat in besit van tradisionele leierskap is uitgelos word en dat onteiening sonder vergoeding onmiddellik plaasvind.

Die ANC se werkkomitee vergader vandag by Luthuli-huis oor Zuma se toekoms.

Nog foto’s volg onderaan die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Linda Gouws ·

Wil graag weet of die man wat n vrou 2 keer in die maag geskop het al gearresteer is?

Siek en sat ·

Glo nie hys mos een van hulle. Maar laat dit nou iemand anders was was hy lankal toegesluit.

neels ·

He he oor n jaar of wat is dit weer Cyrel se beurt om te val as hulle nie hulle sin kry nie. So gaan dit aan en aan sonder het einde niet.

Pop ·

Dankie vader ons besit nie grond nie. Malema en kie moet voortgaan met hulle opstokery. Weet nie wat dink hy waar gaan hulle wees oor 5jr nie.

Ada ·

Die foto” s se alles waarmee SA te doen het
Mooi opgesom in die foto” s en video

Jean ·

Ai wat.n klomp lagwekkende narre!
Plaas die op sosiale media regoor die wereld vir al daai liberale broeders!!! Siestog…

Potlood ·

Van 1986 tot vandag en alles is presies nog dieselfe… NO CHANGE!

Casper Labuschagne ·

Net laasweek was albei hierdie vegtende groepe vurig saam voor die hekke van Hoërskool Overvaal. Toe was hul teiken die skool wat so rassisties is dat hulle klasse in Afrikaans wil aanbied. Zuma is nog nie desperaat nie, maar eendag sal hy wees en dan sal hy sy bes doen om sy troefkaart te gebruik wat almal sal verenig teen ‘n gemeenskaplike vyand. Ons moet daarop voorbereid wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.