Foto’s en video: Helpende Hand help net nie-stakers in platinumgordel

Foto’s en ‘n video volg onderaan die berig.

Solidariteit Helpende Hand sê sy uitdeelaksies in Rustenburg sal voortaan nog streng gemonitor word om te verseker dat slegs nie-stakende mynwerkers skenkings ontvang.

Christine Breet, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê die organisasie ondersteun nie die staking nie. “Voedsel, skenkings en berading word slegs aan die nie-stakers voorsien. Ons uitdeelaksies word voortaan streng gemonitor deur Helpende Hand personeel, vakbondpersoneel en mynverteenwoordigers om te verseker dat slegs nie –stakers skenkings ontvang.”

Breet sê Solidariteit se lede sal per SMS ingelig word van die lokaal en tyd waar uitdeelaksies gaan plaasvind. “Wanneer skenkings uitgedeel word, moet die persoon sy of haar vakbondledekaart sowel as ‘n laaste salarisstrokie toon. Indien nodig sal daar van veiligheidsdienste gebruik gemaak word om dié maatreëls te versterk.”

Breet sê Helpende Hand het reeds meer as R700 000 se kos onder nie-stakers en hul gesinne in die platinumgordel versprei. “Ons ondersteun na raming 1 000 gesinne of ongeveer 4 000 mense. Ons versprei ook ander dringende benodighede soos babadoeke en formulemelk aan die nie-stakers se kinders.”

Breet sê Helpende Hand is ook betrokke by nege skole se voedingskemas en dat daar al R250 000 hierop spandeer is. “Ons fasiliteer gratis emosionele- en skuldberading aan nie-stakers wat dit nodig het.”

Die vakbond Solidariteit het intussen die staat en Amcu gekritiseer omdat hulle niks doen om die humanitêre krisis wat deur die Amcu-staking veroorsaak word te verlig nie. Volgens Dirk Hermann bestuurshoof van Solidariteit, sê honderde Amcu-lede op ʼn voedingprojek van Solidariteit toegesak en groot ontwrigting veroorsaak.

“Solidariteit Helpende Hand kan nie verantwoordelikheid vir Amcu–lede en die hele gemeenskap neem nie. Amcu en die staat moet self ook verantwoordelikheid neem.” Hermann sê Solidariteit is ook teleurgesteld in die staat se afwesigheid in die krisis. “Die situasie begin rampafmetings aanneem en die staat bly afwesig.”

Persone wat Helpende Hand wil ondersteun kan die webwerf, staaknie.co.za, besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Melissa ·

Mooi so Solidariteit!! En ek stem 100% saam, dis reg dat julle net NIE-stakende mense help!! Hierdie staking moet nou end kry!!

Jan Greeff ·

Dis goed so, dankie. Mens voel baie jammer vir hierdie mense wat graag wil werk. Hulle weet nie meer herwaarts of derwaarts.

Belinda ·

Baie dankie aan ieder en elk ook die wat sorg vir die skenkings en dat julle sorg dat dit in die regte hande kom soos dit hoort! Julle is GREAT!

Sandrie ·

Net ‘n vragie…. wat van nie-lede wat ook gebuk gaan onder die staking? Word hulle weggewys?

Liza ·

As ‘n betalende lid, verwag ek tog van my unie om my te “beskerm” in sulke tye. Om aan ‘n unie te behoort is tog elke een se eie keuse. En veral in ‘n sektor soos die mynbedryf is die van kardinale belang om aan een te behoort……

110% Boerevrou ·

My dogter se Hoerskool in Alberton is ook besig om kos in te samel. Dinsdag moet dit inwees. So warm gevoel om te ons kan ook ietsie bydra. Julle is puik

110% Boerevrou ·

My dogter se Hoerskool in Alberton is ook besig om kos in te samel. Dinsdag moet dit inwees. So warm gevoel om te kan bydra. Julle is puik

Erna ·

Dankie en dankie God vir uitkoms en mense wat n helpende hand uitgereik het. My beroep het berading behels planne maak egskeidings en selfmoord afgeweer! Steeds op my kniee dat stakings tot n einde kom!

Erna ·

Dankie en dankie God vir uitkoms en mense wat n helpende hand uitgereik het. My beroep het berading behels planne maak egskeidings en selfmoord afgeweer! Steeds op my kniee dat stakings tot n einde kom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.