Foto’s en video: Jong hartontvanger weer tuis

Gemeenskapslede en leerders van Wellington in die Wes-Kaap verwelkom Chris by die huis (Foto: Facebook)

Honderde gemeenskapslede en leerders van Wellington in die Wes-Kaap het Maandag op dié dorp saamgedrom om die 11-jarige Chris Truter wat vroeër vanjaar ʼn hartoorplanting ondergaan het, weer by die huis te verwelkom.

Chris het op 19 Februarie vanjaar ʼn skenkerhart ontvang nadat hy verlede jaar onomkeerbare hartversaking opgedoen het. ʼn Hartoorplanting was sy enigste kans op volkome herstel; en selfs lewe ook aangesien hy by geboorte met hipoplastiese linkerhartsindroom gediagnoseer is – ʼn toestand wat tot gevolg het dat hy as’t ware net ʼn “halwe hart” het.

Die Truter-gesin het reeds op 20 Februarie geweet dat die operasie ʼn sukses was, maar Chris moes weens komplikasies en longontsteking drie keer weer noodoperasies ondergaan weens dié seldsame toestand waaraan hy sedert ʼn jong ouderdom ly.

Celeste en Hugo, Chris se ouers, sê hulle is “baie dankbaar” dat hy nou ná vier opehartoperasies en vyf weke in die hospitaal weer terug by die huis is.

Chris saam met sy pa, Hugo, en broer, Basson, in die hospitaal (Foto: Facebook)

“Ons het vermoed dat hy hierdie week ontslaan sou word, maar dit het as ʼn verrassing gekom dat hy reeds Maandag kon huis toe gaan,” vertel Celeste. “Hy was weens die komplikasies langer in die hospitaal as wat ons verwag het, maar ons is dankbaar dat ons nou ʼn gesonde seun saam met ons by die huis kan hê. Dit is alles regtig net genade.”

Celeste sê Chris “lyk baie goed” en is baie positief. Volgens haar sal hy egter nog die hele tweede kwartaal van sy gr. 4-skooljaar moet misloop. Hy sal ook nog elke twee weke vir die volgende paar maande vir ʼn biopsie moet gaan om te kyk of sy liggaam nie die skenkerhart verwerp nie.

“Ons het besluit dat ons hom sommer tuisonderrig gaan gee sodat hy steeds die eksamen sal kan skryf sodat hy nie té ver agterraak nie,” sê sy. “Die biopsies sal dermate minder word, maar hy sal wanneer hy volwasse is vir die res van sy lewe een keer per jaar ʼn biopsie moet kry.”

Sy sê die gesin is uit die veld geslaan oor die gemeenskap se hulp, bystand en bemoediging die afgelope paar maande.

Gemeenskapslede en leerders van Wellington in die Wes-Kaap verwelkom Chris by die huis (Foto: Facebook)

“Ek het vanmôre ook eers weer ná 10:00 by die werk gekom omdat ek nie uit die dorp kan kom nie. Die gemeenskap is ongelooflik en het ons baie bygestaan die afgelope tyd. Chris is selfs deur die hele Wellington terug op die dorp verwelkom. Ons is baie dankbaar.”

Celeste sê die gesin kyk vandeesweek terug op die reis van die afgelope tyd en sien duidelik dat hulle nét kon staande bly weens al die ondersteuning en genade. “Ons het baie genade ontvang die afgelope ruk – iets waarvoor ons baie dankbaar is. Hoewel ons nie nou die toekoms kan voorspel nie, gaan ons voortaan die lewe dag vir dag aanpak.”

Die Truter-gesin beywer hulself nou vir die bewusmaking van orgaanskenking. Vir meer inligting oor die Stigting vir Orgaanskenkers, besoek hul amptelike webwerf. Om in kontak te tree met die Truter-gesin, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die Heart4Chris-Facebook-blad.

After 5 weeks and 1 day Chris is welcomed back to #Wellington. What n lekker gees!

Posted by Heart4Chris on Monday, March 26, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize Geldenhuys ·

Watter wonderlike gebaar van die leerders en gemeenskap. Wellington julle is tops en ‘n voorbeeld van ‘n gemeenskap wat omgee! Sterkte aan die gesin en ons glo volkome herstel is op pad!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.