Foto’s en video: Vloede in Bloemfontein

Foto: @_ArriveAlive op Twitter.

Foto: @_ArriveAlive op Twitter.

Die hemel het Donderdagmiddag behoorlik sy sluise oopgemaak en kitsvloede in Bloemfontein in die Vrystaat veroorsaak.

Phemelo Moloabi, weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerdiens, het Donderdag aan Maroela Media gesê die stad ervaar tans matige na swaar reënval wat die gelokaliseerde vloede veroorsaak.

“Daar het vandag reeds 25.4mm reën geval, wat nie ongewoon is nie,” het Moloabi om 13:40 gesê. “Die reën het vir eers opgeklaar maar ons verwag binnekort nog ʼn vlaag swaar reën.”

Sy het gesê daar word nie enige hael of erge donderstorms in die stadium voorspel nie.

Foto’s van motoriste wat in strate vol water ry, stroom in op Twitter.

Arrive Alive het gewaarsku teen swak sigbaarheid en het motoriste versoek om met hul hoofligte aan te bestuur, stadig te ry en ʼn veilige afstand van ander motors te handhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Herman Toerien ·

By ons huis in Langenhovenperk het ons met hierdie bui ‘n raps meer as 30 mm gereën. Dit het ook liggies gehael.
Die water het goed geloop, want dit is taamlik nat. Van dit in die loop van November begin reën het, het dit nou reeds meer as 200 mm by ons gereën. (Voor hierdie bui was dit net onder die 200 mm). Voor dit begin reën het vroeër die maand was dit werklik verskriklik droog.
Die Rustfonteindam het nog min water gehad voor vandag, maar ons het van iemand in Botshabelo verneem dat dit daar ook goed gereën het, wat waarskynlik ‘n goeie afloop na die dam sal veroorsaak. Die ander hoofwaterbron, die Knelpoortdam, se vlak is ook taamlik laag, maar so lank die Caledon loop kan water in hom gepomp word. Terselfdertyd gebruik die inwoners minder water.
Ons hoor weer donderslae na die weste en dit kan wees dat ons weer reën gaan kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.