Foto’s en video: Veldbrand ‘buite beheer’ in Kaapse Wynlande

Die veldbrand wat sedert Maandagaand in die Kaapse Wynlande woed. (Foto: Kenny Africa)

Die veldbrand wat sedert Maandagaand in die Kaapse Wynlande woed hou tans ʼn bedreiging vir Franschhoek en omliggende plase in.

Volgens Jo-Anne Otto, adjunkdirekteur van kommunikasie by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, is brandbestryders gister tussen 20:00 en 21:00 ontbied nadat ʼn brand verby die Theewaterskloofdam na die Franschhoek-berge versprei het.

“Met die oorkom het die brand in ons distrik inbeweeg. Die brand woed nou in die Franschhoekberge. Dié gebied word die Franschhoekpas genoem,” verduidelik Otto.

Otto het aan Maroela Media gesê dat die brand vanoggend teen sonsopkoms steeds buite beheer was. “Die brand woed baie hoog op in die berg. Om sake te vererger is dié gebied baie bosagtig.”

Otto sê dat nooddienste reeds van vroegoggend met helikopters oor dié berge vlieg om die brand met waterbomme te blus, maar ook om vas te stel in watter gebiede grondspanne ontplooi kan word om die brand onder beheer te bring.

Sy verduidelik dat die blus van die brand voorlopig nié ter sprake is nie. “Realisties gesproke is die prioriteit nou net om te verhoed dat die brand na die dorp of omliggende plase versprei,” sê sy.

Volgens Otto is dit vandag redelik windstil en branddienste sal deur die loop van die dag onverpoosd werk om die brand onder beheer te bring.

Die veldbrand wat sedert Maandagaand in die Kaapse Wynlande woed. (Foto: Kenny Africa)

Geen plase in die Kaapse Wynland-distrik het tot op hede skade gely weens die brand nie.

Kenny Africa, die Wes-Kaapse verkeershoof, het aan Maroela Media bevestig dat die Franschhoekpas deur die loop van die nag gesluit is weens die brand en tot verdere kennisgewing gesluit sal bly. Die pad tussen Villiersdorp en Franschhoek is ook gesluit aangesien die brand aan weerskante van dié pad woed.

ʼn Dik rookwolk hang oor die gebied. Motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Hoewel die R45 en die R320 in die distrik nié gesluit is nie, kan rook op dié paaie ook motoriste se sig belemmer. Africa maan motoriste om versigtig te wees wanneer hulle van dié roetes gebruik maak.

“Die brandweer het vir dagbreek gewag sodat helikopters kan begin water gooi oor die dele wat brand. Ons hoop dit gaan help om die brande onder beheer te kry en die verkeer te laat vloei,” sê Africa.

Dit is in die stadium onduidelik wat die oorsprong van die brand is en sal eers later vasgestel kan word, sê Otto.

Die munisipaliteit het ʼn beroep op die publiek gedoen om waaksaam te wees en nie brande opsetlik of per ongeluk te sit nie.

“Ons vra die publiek ook om ons brandbestryders vandag in hul gedagtes te hou,” sê Otto.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Afrikaner ·

Al die brande die afgelope tye in die land is net té toevallig.

Johan van Greunen ·

Ek glo dit word doelbewus gestig . Die satan se plan is om die land onregeerbaar te maak. Kyk maar stakings en beurt krag en korrupsie en brande. Maar onthou God is nog in beheer.

Filosoof ·

Dit lyk my darem nou al te glashelder dat die Wes-Kaap die enigste provinsie is wat gedurig brand veral as die Kaapse wind so lekker waai! Baie duidelik sit iets of iemand hieragter. Nevermaaind die verkeer! Wat word van al die diertjies wat in die bosse bly?

Johan van Greunen ·

Die satan wil die land onbeheerbare maak. Stakings en korrupsie en brande en plaas moorde. Maar ons kan ñ verskil maak. Stem reg.
Laat ons weer ‘n Gods vresende regering kry.

Joon ·

As dit die vlakte after Graymead, ouwerf is wonder ek wat van bokke volstruise en wilde diere wat daar gevestig word. Hartseer

Deloris ·

???ai nee ek hoop en bid dat als vinnig onder beheer gebring sal word. N vuur of brand begin nie sommer vanself nie, mits dit n kort sluiting is….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.