Foto’s: “Enigiets vir liefde”-video 4.6 miljoen keer gekyk; Gerdi kry goeie nuus

Foto: Albert Bredenhann/Pixel Pro

Foto: Albert Bredenhann/Pixel Pro

Die professionele foto’s wat tydens die maak van die video geneem is verskyn vandag eerste op Maroela Media. Dit volg onderaan die berig.

Die video wat wys hoe Gerdi McKenna van Pretoria se vriendinne hul hare afskeer om haar te ondersteun in haar stryd teen borskanker, is reeds meer as 4.6 miljoen keer regoor die wêreld gekyk. Dit is ʼn rekord vir Afrikaanse video’s op die internet.

Boonop het Gerdi, wat in Desember verlede jaar met borskanker gediagnoseer is, Vrydagoggend goeie nuus gekry.
“Toe ek aanvanklik gediagnoseer is, het die CT-skandering ʼn kankergewas so groot soos ʼn gholfbal in my regterbors gewys. Daar was ook ʼn klier onder my arm wat positief vir kanker getoets het,” vertel Gerdi. “Ek het Vrydagoggend gehoor die gewas in my bors en die klier kon met die mees onlangse CT-skandering glad nie gesien word nie.”

Vir Gerdi is die stryd egter nog nie verby nie: Sy begin Maandag met ʼn nuwe reeks chemoterapie-behandeling van drie maande, en sy sal ʼn dubbele mastektomie ondergaan. Dit sal tydens die operasie eers moontlik wees om vas te stel of daar enige kankerselle oor is. “Kanker is ʼn baie eensame pad,” vertel Gerdi. “Ek is van nature ʼn baie positiewe mens; lief vir die lewe, vir mense en vir die Here. Maar as mens so siek voel soos kankerbehandeling jou maak, is dit moeilik om die lig te sien. Jy wil weghardloop uit jou eie lyf uit, maar jy kan nie.”

Te midde van haar behandeling het ʼn groep vriendinne besluit om iets te doen wat vir Gerdi nuwe hoop sal gee. Met aanmoediging van die fotograaf Albert Bredenhann van Pixel Pro het hulle besluit om hulle hare af te skeer en vir Gerdi by ʼn ontbyt te verras met hul kaalgeskeerde koppe. “Die aand voor die ontbyt, wat ek gedink het vir ʼn vriendin se verjaardag gehou word, het ek in die bed gelê en huil en vir my man gesê ek voel bitter alleen. Ek weet ander mense moet aangaan met hulle lewe, maar ek kry baie swaar.”

Min het sy geweet watter nuwe inspirasie die volgende oggend by die Lombardy boetiekhotel op haar wag. “Ek het al Gerdi se vriendinne se nommers in die hande gekry, en elkeen gebel en gevra of hulle hul hare vir Gerdi sal afskeer,” vertel Albert. Vandaar het die projek sy eie momentum gekry. Gary Rom het aangebied dat sy haarsalon in Woodlands al die dame se hare gratis sal skeer. ʼn Suster van een van die vriendinne, Jacoline de Klerk, het vir die ontbyt betaal, en MUD (Make-up Designory) het vyftien grimeerkunstenaars gegee om die dames te grimeer nadat hulle hare afgeskeer is. Paul Kruger van Hartiwood Films het gesorg dat ʼn video van die geleentheid geneem word, en Carike Keuzenkamp en Kevin Leo het aangebied om as spreker en gaskunstenaar by die ontbyt op te tree. Albert het self foto’s van die geleentheid geneem, en ook van elke dame voor- en na-foto’s geneem. Almal het reeds 7:00 die Sondagoggend by die haarsalon bymekaar gekom om hul hare te skeer voor Gerdi by die ontbyt opdaag, met ʼn glasie sjampanje vir die senuwees.

Toe Gerdi ʼn paar ure later niksvermoedend by die hotel se restaurant instap, was sy verbaas om haar sussie, wat in Potchefstroom woon, by die ingang te sien wag.“Die tweede ding wat ek opgemerk het, was dat my ma ook daar is, en dat hulle altwee musse op hul koppe het,” vertel Gerdi. Haar sussie het eerste haar mus afgehaal, en toe haar ma. “Ek was eers ontsteld,” onthou Gerdi. “Ek het van die begin af gesê hulle moenie hulle hare afskeer nie. Maar toe sien sy oral pienk kaalkoppe soos haar vriendinne een-een hul musse afhaal. “Dit was verskriklik – die wind was heeltemal uit my seile. Toe sien ek daar staan Kevin Leo en hy sing ‘Jy’s ongelooflik’, Carike Keuzenkamp is daar, en iemand druk ʼn videokamera in my gesig… Ek het toe maar begin huil, soos enige normale mens sal doen. My vriendinne met hul kaal koppe was pragtig.”

Haar bos krulhare was nog altyd haar grootste kenmerk, vertel Gerdi. “Toe my hare na die eerste behandeling begin uitval, het ek dit self afgeskeer – ek kon dit nie verduur om te sien hoe my hare in bosse uitval nie. Ek weet hoe erg dit vir elkeen van my vriendinne moes wees om dit te doen. Ek hoor daar het baie trane gevloei terwyl die hare gewaai het!” Vir Albert was hierdie ʼn gebeurtenis wat al sy verwagtinge oortref het.

“Ek het nooit gedink fotografie of om ʼn fotograaf te wees, kan so bevredigend wees nie,” sê hy. “Ek het gehoop hierdie ding gaan groot wees, maar ek het nooit gedink dit gaan só wyd uitkring nie. Teen Vrydag was daar elke sekonde 30 nuwe trefslae op die video. Die meeste trefslae – 600 000 – kom uit Brasilië, en die VSA, Kanada, Australië en België is hoog op die lys. Suid-Afrikaanse besoekers is nie naastenby so baie soos dié uit die buiteland nie. My e-posbus is vol, want ek is die enigste kontakpersoon op die video. Ek het selfs ʼn oproep van Oprah af gehad! Die video was ‘viral’ binne vyf dae nadat dit op die internet gelaai is. En die beste van alles is dat elke persoon wat hierby betrokke was, nie ʼn sent gevra het nie. Almal het dit uit hul harte gedoen.”

So iets beteken vir iemand wat ʼn pad met kanker stap, meer as wat ʼn mens ooit in woorde kan uitdruk, vertel Gerdi. Sy is in November met borskanker gediagnoseer nadat sy ʼn knop in haar bors gevoel het. “Ek het ʼn seuntjie van 5, ʼn dogtertjie van 1 jaar en ʼn wonderlike man,” sê sy. “Die eerste ding waaraan ʼn mens dink, is: nou gaan ek doodgaan. Ek het dadelik met behandeling begin en dit het my verskriklik siek gemaak. Maar soos ʼn mens meer leer oor kanker, besef jy dis nie noodwendig ʼn doodsvonnis nie. Borskanker is een van die meer algemene tipes kanker, en baie navorsing is al daaroor gedoen. Ek het ʼn wonderlike, bekwame span dokters wat baie omgee.”

Gerdi is verstom oor almal wat hierby betrokke was se groothartigheid. “Albert Bredenhann was die dryfveer agter alles. Hy het ʼn hart van goud. Paul Kruger van Hartiwood Films was ook daar en het gesorg vir die professionele video. My ma, sussie en vriendinne was daar om my te ondersteun van die dag dat ek gediagnoseer is. Daar is elke dag iemand wat bel om te hoor of hulle kan kos maak of met die kinders kan help. Vir hulle wil ek sê: julle is diamante; vroue wat Godvresend is; onselfsugtig en dierbaar,” sê Gerdi. “Carike Keuzenkamp het by die ontbyt gepraat, maar sy wou nie eers in die video wees nie. Kevin Leo het vir ons gesing. Gary Rom het vir al die dames wat hul hare afgeskeer het, geskenkbewyse vir gratis haarstilering gegee vir so lank dit hulle neem om hul hare weer in ʼn styl te laat groei, én duur haarprodukte vir almal.”

Gerdi moedig mense aan wat geliefdes het wat ʼn pad stap met kanker, of wat deur ʼn ander krisis gaan, om ondersteuning te gee op enige moontlike manier. “Elke SMS, blommetjie, drukkie, boodskap van bemoediging of teksvers dra ʼn mens deur. Moet nooit dink dit wat jy doen, is te klein nie. Elke gebaar maak ʼn reuse verskil. Dis immers waarvoor Jesus aarde toe gekom het: om ons te wys hoe om vir mekaar om te gee,” sê sy.

“Mense wat die video kyk, moet verstaan: dit gaan nie oor my nie. Ek is ʼn instrument wat die Here gebruik het om met ander mense aan te raak. Uiteindelik gaan dit daaroor dat ons weer hoop moet skep en mense moet inspireer om vir ander goed te doen en vir mekaar lief te wees.”

Die foto’s is deur Albert Bredenhann van Pixel Pro geneem en word met sy vergunning gepubliseer.

Volg die skakel om die video te kyk:
Video: Enigiets vir liefde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anon ·

Dis so mooi gebaar, ai wat n mooi storie is dit nie. Ek het lekker gehuil terwyl ek die storie gelees het en na die foto’s gekyk het. Dit se baie as jou vriendinne hulle hare afsny vir jou. Ons almal weet hoe heilig ons vroue spesie is oor ons hare. Dis mos ons kroon, lol. Aan elke vrou wat haar hare vir Gerdi af geskeer het wil ek se, “julle is vriendinne duisend” . Sterkte Gerdi met jou pad voorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.