[Foto’s] Erge skade vir Noordwes-dorp ná haelstorm

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

ʼn Erge hael- en donderstorm het Vrydag in die vroeë oggendure derduisende rande se skade in Lichtenburg in Noordwes aangerig.

Jean de Beer, ʼn sakeman van die dorp, het aan Maroela Media gesê dit het Donderdagaand erg begin reën en Vrydag teen 01:00 begin hael en ysreën. “Dit was hael en reën en wind, alles gelyk. Dakke het inmekaargestort, vensters het gebars; dit was verskriklik,” het hy gesê. “Die nuwe winkelsentrum wat hulle onlangs klaar gebou het se hele dak is omtrent daarmee heen.” De Beer het gesê sy twee motorhandelaars het gelukkig slegs waterskade opgedoen.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Foto’s van die skade toon hoe afdakke bo-op motors inmekaargeval het en die hael dik op die grond lê.

Cobus Cronjé, ʼn voorspeller by die Suid-Afrikaans Weerdiens, het gesê die dorp kan heel moontlik nog reën te wagte wees. “Donderstorms en kitsvloede word Vrydag en Saterdag vir die sentrale dele van Noordwes voorspel met tussen 60% en 80% kans op reën Vrydag. Die noordoostelike dele kan teen Sondag nog reën te wagte wees.”

Hy het gesê dit is nie moontlik om ʼn haelstorm meer as drie uur vooruit te voorspel nie, maar weens die groot kans op reën is nog hael ʼn moontlikheid oor die naweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Swart ·

Is dit net die hoek bokant Edgars en Woolworths watse dak ingeval het of is daar nog skade aan die Mall?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.