Foto’s: Fakkel glo oorsaak van hewige Overberg-brand

Grafika wat Donderdag (3 Januarie 2019) om 07:30 deur die Groter Overberg-brandbeskermingsvereniging gedeel is, toon waar die brande woed. Grafika: Facebook via @goFPA

Een mens is dood en minstens drie beseer in die hewige brande wat tans by Bettiesbaai, Pringlebaai en Hangklip aan die Overbergkus in die Wes-Kaap woed.

Die Groter Overberg-brandbeskermingsvereniging het Donderdagoggend in ʼn verklaring gesê een persoon is in die vroeë oggendure dood, terwyl twee mense ernstig beseer is en ʼn derde geringe beserings opgedoen het. Meer inligting was nie onmiddellik bekend nie.

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, sê die R44 tussen Bettiesbaai en Pringlebaai is tans gesluit weens die hewige veld-en-bergbrand. Africa het motoriste wat die R44 gebruik om tussen Gordonsbaai en Kleinmond of van Hermanus na Kaapstad te reis versoek om van alternatiewe paaie gebruik te maak. Dit is nie duidelik hoe lank die R44 gesluit sal wees nie.

Die brand het Woensdag in die vroeë oggendure in die Kogelberg-natuurreservaat in die berge bokant Pringlebaai en Hangklip ontstaan. Luidens ʼn verklaring van die Overstrand-munisipaliteit beweer lede van die gemeenskap dat hulle net ná middernag ʼn fakkel sien afgaan het en die vermoede bestaan dat dít moontlik die brand veroorsaak het.

ʼn Beloning van R5 000 is uitgeloof vir inligting wat tot die opsporing kan lei van die persoon wat die fakkel aangesteek het.

Teen 01:45 het owerhede begin om inwoners by Mooiuitsig en Hangklip te versoek om hul huise te ontruim. Diegene wat hul huise moes verlaat, word tydelik by die Crassula-saal in Bettiesbaai gehuisves.

Die R44 is Donderdagoggend gesluit weens die brand. Foto: Verskaf

Brandbestryders veg deurentyd teen die vlamme, maar deur die nag het sterk wind veroorsaak dat die brand in die rigting van Pringlebaai versprei het. Dit is nie tans duidelik of enige eiendomme in die slag gebly het nie.

Vanoggend teen 07:30 het die Groter Overberg-brandbeskermingsvereniging die brand as “buite beheer” bestempel. “Ons versoek die publiek om die gemeenskappe van Bettiesbaai, Pringlebaai, Hangklip en die omliggende gebiede in hul gedagtes te hou. Dit was ʼn traumatiese nag vol onsekerheid,” sê die vereniging in ʼn verklaring.

“Brandbestryders het die hele dag onverpoosd probeer om die vlamme onder beheer te kry sonder die moontlikheid van lugondersteuning. Die windspoed het aansienlik toegeneem en teen Woensdagaand was inperking nie meer moontlik nie en gebeurlikheidsplanne is in werking gestel. Waarskuwings en ontruimings is reg deur die nag gedoen terwyl brandbestryders hoë berge en golwe van vlamme trotseer,” lui die verklaring.

Intussen word die publiek versoek om enige donasies vir brandbestryders by die Crassula-gemeenskapsaal in Bettiesbaai of die Hermanus Brand-, Reddings- en Rampbestuurkantoor in Hermanus af te gee. Donasies van energiestafies, sjokolade, gebottelde water, 500ml-gaskoeldrank, Energade en oogdruppels is gevra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.