[Foto’s] Familie groet boer wat in helikopter-ongeluk sterf

Douw Wentzel is op 23 Junie ter ruste gelê (Foto: Facebook)

Die familie van Douw Wentzel, die boer van Vrede wat verlede maand saam met André Deale (14), sy medeboer se seun, in ʼn helikopter-ongeluk gesterf het, het Vrydag van hom afskeid geneem.

Maroela Media het vroeër berig Douw Wentzel en Louw Deale was saam met hul seuns op pad terug huis toe van die Nampo-oesdag op Bothaville in die Vrystaat toe die ongeluk plaasgevind het.

Douw jr. (14), ʼn graad 9-leerling aan die Hoërskool Wilgerivier, en Louw Deale (49), André se pa, het die ongeluk oorleef.

“Vandag groet ons ʼn legend hier op sy plaas by Tafelkop. Rus sag, my vriend. Ons sal jou nooit vergeet nie,” het ʼn familievriend op sosiale media geskryf.

Douw Wentzel is op 23 Junie ter ruste gelê (Foto: Facebook)

Louw is reeds uit die hospitaal ontslaan, terwyl Douw jr. vandeesweek weer ʼn operasie ondergaan het. Hy is vroeër verlede maand ook geopereer om skade aan sy been en sy rugwerwels te herstel wat in die ongeluk beseer is.

Veranda Wentzel, Douw sr. se vrou, het in ʼn roerende inskrywing op Facebook gesê die gesin moes verlede naweek die eerste Vadersdag sonder Douw deurbring.

“[Vandag is die] eerste Vadersdag vir jou in die hemel. Ons mis jou op aarde my lief. Ons sien uit na die weer sien, en kan nie wag nie. Jy was die beste man vir my en jy was die beste pa vir ons kinders. Ek was elke dag van my lewe lief vir jou. Jy het my gehelp om twee pragtige kinders groot te maak. Vandag weet ek jy voel nes ek – breë bors en trots op ons twee kinders.”

Sy het  ook geskryf die engele het die gesin deur dié moeilike tyd gedra.

“Ek het gisteraand 20:30 by die huis aangekom. Dit was ’n moeilike hospitaaldag. Douwtjie was nog Donderdag teater toe… Vandag besef ek terwyl ek gestoei het in die hospitaal, vele engele het ʼn  begrafnis laat gebeur. Hoe sal ek ooit kan dankie sê.

“Aan ons gemeenskap, ons vriende, ons familie, ons mense – julle is die heel beste. Dankie is vandag ’n klein woord. Die begrafnisbrief is net vir ons gedoen en beplan, die slideshow, die kos, die graf en alles [is net gedoen]. Hoop ek kan eendag vir elkeen van julle iets beteken. Mag God elkeen betrokke seën en bederf. Lief vir almal.”

Lees alle vorige berigte oor die Heilbron-helikopterongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gustav ·

Dis ‘n lewe te gou verby, maar dit was ook ‘n lewe goed gelei. Dis mense soos hierdie wat ‘n volk en die volk se land bou. Daar is nooit genoeg van hulle nie. Sterkte vir die gesin met die lang, veeleisende proses om weg te pak wat weggepak moet word en om te heg wat geheg moet word.

Drakensberger ·

Wat ‘n voorreg om Douw te kon ken! Ons gemeenskap het ‘n groot man verloor. Sterkte aan sy gesin, familie, vriende en elke werknemer van hom. Daar is groot skoene om vol te staan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.