Foto’s: Federer is hier!

Roger Federer praat met die media in Kaapstad. (AP Photo)

Roger Federer is in Suid-Afrika. Die 38-jarige tennislegende het gister in Kaapstad geland nadat hy ’n vinnige kuipstop in Namibië gemaak het.

Sy aankoms beteken dat Kapenaars, sowel as die res van Suid-Afrika, hul vere kan regskud vir ’n tennisskouspel soos min wanneer die Switserse superster Rafael Nadal in ’n liefdadigheidswedstryd op die Kaapstad-stadion aanvat.

“Ná maande se beplanning en harde werk, is ek uiteindelik in Suid-Afrika om ’n baie unieke belewenis eerstehands te ervaar. Ek sien só uit na ’n ongelooflike aand in Kaapstad en ek hoop so veel as moontlik ondersteuners woon die kragmeting by of volg die aksie op die TV,” het Federer gesê.

So van aksie gepraat; daar wag ’n watertand-spyskaart op plaaslike tennisliefhebbers.

Hy het gister in Kaapstad geland. (AP Photo)

Federer, wat al 20 Grand Slam-titels agter sy naam het, sal Nadal met sy 19 titels in ’n enkelspelwedstryd, aanvat. Vooraf sal die twee ook in dubbelspelaksie saam met Bill Gates en Trevor Noah wees.

“Ek is opgewonde om weer saam met Roger in die Match in Africa-konsep te speel. Om saam met hom te speel is altyd ’n belewenis en ek kan nie wag om teen Rafa en Trevor kragte te meet nie,” het die rekenaar-ghoeroe gesê.

Maar vir eers terug na die man van die oomblik. Die Match for Africa-vertoonwedstryde is voorheen in Amerika en Europa gespeel en Federer is in sy noppies dat vanjaar se skouspel in Suid-Afrika aangebied word. Sy ma, Lynette, is in Johannesburg gebore.

Hy het eers die Namibiese president ontmoet, terwyl hy ook ’n skool in dié buurland besoek het. Foto: Verskaf.

“Dit is uiteindelik hier! Ek het nog familie hier en ek was as kind op baie vakansies in Suid-Afrika. Nou hoop ek net dat die weer sal saamspeel sodat ons ’n vertoonwedstryd soos min kan speel.”

Kaartjies vir die wedstryd is binne 10 minute uitverkoop, maar daar sal ’n ondersteunerspark buite die stadion wees, terwyl SuperSport die aksie regstreeks sal beeldsend.

Organiseerders sal ook poog om die wêreldrekord vir die meeste ondersteuners by ’n tenniswedstryd te verbeter. Die Kaapstad-stadion kan meer as 50 000 ondersteuners akkommodeer.

Die vorige rekord van 42 217 is verlede jaar in Meksiko opgestel toe Federer Alexander Zverev in die Plaza te Toros aangevat het.

  • Die dag se program:

16:00: Hekke open.

19:30: Vertoonwedstryd – Roger Federer en Bill Gates teen Rafael Nadal en Trevor Noah.

20:00: Vermaak wat die Ndlovu-jeugkoor insluit.

20:30: Enkelspelwedstryd tussen Federer en Nadal.

  • SuperSport sal reeds om 18:30 met hul opbou-program begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Moedeloos

Welkom in SA Rodger. Ai jy is een van my groot fans. So spyt dat kaartjies so vinnig uitverkoop is. My hartsbegeerte is nog om eendag die Wimbledon toernooi te kan bywoon in London. Maar die jare stap aan so die hartsbegeerte sal nie waar word nie en nou kan ek ook nie my 2 top fans gaan kyk in Kaapstad nie. Al bly ek net 60 km van die stadion af. Sal maar op TV volg.

Smurf

Daar is n paar ander gebroedsels wat ook hulle tande slyp vir hierdie gebeutenis.