Foto’s: Feesgangers span uit by Aardklop in Pretoria

Riaan Grobler op die kykNET-verhoog by Momentum Beleggings Aardklop. (Foto: Maroela Media)

Momentum Beleggings Aardklop het vanjaar vanaf 30 September in verskeie venues in Potchefstroom, Pretoria en Johannesburg opgewip.

Hoewel die fees se aanbieding in Potchefstroom reeds verby is, wag daar dié naweek nog ʼn propvol program op feesgangers in Gauteng.

Dit is veral by die Voortrekkermonument in Pretoria, wat die amptelike feesterrein is, waar besoekers ʼn goeie dosis visuele kuns, diskoers, boekegesprekke, stalletjies, musiek en ʼn rits ander opwindende aktiwiteite kan beleef.

Feesgangers kan hulleself tussendeur by die kos- en kunsmark verlustig voor hulle by van die aktuele gesprekke aansluit, ʼn draai by die visuele kunsuitstallings maak of ʼn drankie saam met vriende by die kykNET-verhoog geniet met musiek in die agtergrond.

Aanhangers kan uitsien na vermaak deur kunstenaars soos Jakkie Louw, Willem Botha, Jak de Priester, Janie Bay en Beeskraal.

Nataniël (Foto: Bernard Brand)

Hoogtepunte op die naweek se teaterprogram sluit in Oom Bey, my pa, met Ira Blanckenberg en Robert Hindley, en Kitaarkonings wat by die AfriForum Teater op die planke is.

In Kitaarkonings kom ses van Suid-Afrika se gewildste en bekroonde kitaarspelers byeen om die wonderlike variasie en unieke klanke van die kitaar te vier.

Die feesaanbod sluit ook boekgesprekke met onder andere Marida Fitzpatrick, Ben Booysen en Gerard Labuschagne, asook ʼn gesprek oor kinder- en jeugboeke in die tyd van TikTok in.

Die fees word Sondag (9 Oktober) afgesluit met vertonings deur onder andere Nataniël, wat Die Smitstraat Suite by Afrikaanse Hoër Seunskool se ouditorium aanbied, en DuPreez Strauss, wat by die Atterbury Teater te sien is in Droomland.

Besoek Aardklop se webwerf en hou die fees se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor die feesprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.