Foto’s: Fietsryer wat deur taxi doodgery is, gegroet

Geskryf deur: Terésa Coetzee

Alex Otto soos baie van sy goeie vriende hom sal onthou – op sy fiets waar hy baie gelukkige tye deurgebring het. (Foto: Verskaf)

Familie, vriende en kollegas van die fietsryer Alex Otto het gister (13 Oktober) by die Aucklandpark‑buiteklub in Aucklandpark bymekaargekom vir sy gedenkdiens.

Otto se dood het skokgolwe deur die wêreld gestuur nadat hy op Sondag 3 Oktober tydens ʼn oefenrit op sy fiets deur ʼn minibustaxi getref is en vir sowat 400 meter oor die pad gesleep is. Otto is op die toneel dood verklaar en die taxibestuurder is in hegtenis geneem. Daar is intussen verneem dat hy op borgtog vrygelaat is.

Die kleredraginstruksie op die uitnodiging na Alex Otto se gedenkdiens was duidelik: kleurvol en gemaklik – en dis presies hoe die 450 vriende van Alex sy lewe wou vier en gedenk. Dié 50-jarige familie- en sportman het alles wat hy gedoen het met oorgawe aangepak – hy het in die bankwese uitgeblink en was ʼn uitvoerende hoof by Transaction Capital. Hy was ook ʼn toegewyde gesinsman, en wanneer hy fiets gery het, het hy dit met oorgawe gedoen, vertel almal wat hom ken.

Die gedenkrit ter nagedagtenis aan Alex Otto. (Foto: ZC Marketing)

“Ons is ʼn groep van 27 mans wat aan die Parks Cycling Club (PCC) behoort het en die afgelope dertien jaar ry ons feitlik elke naweek saam fiets. Ons almal het van Alex as die coach gepraat, want hy het altyd graag sy kennis met ons almal gedeel,” sê Gareth Rees, die woordvoerder van die PCC-klub. “Alex was ʼn briljante fietsryer en ʼn joviale spanmaat. Wanneer ons geoefen het, het hy ons almal in die rooi gedruk, maar ons het net so lekker na die tyd saamgekuier.”

Die dag van die ongeluk

Dit was ʼn doodgewone Sondag in die Otto-huishouding toe Alex vroeg die oggend hul huis in Oaklands verlaat het om te gaan fietsry.

Janet en die dogters, Jocelyn (20) en Cailin (18), het nog geslaap en hy het gery sonder om te groet. Hy wou vroeg terug wees om saam met die familie ʼn laat ontbyt te eet om sy dogter Jocelyn se verjaarsdag te vier. Cailin is vanjaar in matriek en begin binnekort met haar eindeksamen.

Alex Otto soos baie van sy goeie vriende hom sal onthou – op sy fiets waar hy baie gelukkige tye deurgebring het. (Foto: Verskaf)

Alex sou vanjaar aan sy vierde Absa Cape Epic‑marathon deelgeneem het, wat eerskomende Sondag in die Kaap afskop. Omdat hy pas 50 geword het, sou dit die eerste keer wees dat hy in die Masters-kategorie deelneem en hy was vasbeslote om die podium in dié kategorie te haal. Hy was op ʼn  streng oefenprogram en sy afrigter was dr. Mike Posthumus.

Die oggend was dit net Geoff Lee, ook ʼn lid van die PCC-klub, wat saam met Alex gery het en hy het die ongeluk voor hom sien gebeur.

“Alex en Geoff het die oggend bergfiets gaan ry en die res van ons het ʼn ander roete op ons padfietse gedoen. Ons was besig om te ry toe Geoff se oproep deurkom – hy was op die ongelukstoneel en duidelik in skok,” onthou Rees. “Ons almal het omgedraai, maar niemand het ʼn woord gesê nie, die nuus was eenvoudig net te erg.”

Intussen het die klub op Donderdag 7 Oktober ʼn gedenkrit van die Museum vir Militêre Geskiedenis in Saxonworld na Alex se huis in Oaklands onderneem, waar hulle simpatie aan sy gesin gaan betoon het. Alex se suster Chani en sy broer René was ook daar. Sowat 300 ander fietsryers van ander klubs het ook by die museum opgedaag om saam te ry toe hulle van die gedenkrit gehoor het.

Alex Otto is tydens ʼn oefenrit op sy fiets deur ʼn minibustaxi doodgery. (Foto: Verskaf)

“Alex was betrokke by die stigting van die jaarlikse Cycle4Kids, ʼn rit van Johannesburg na Durban wat oor die R12 miljoen oor ʼn tydperk van 12 jaar ingesamel het vir liefdadigheidsorganisasies vir kinders.

Hy is een van vele fietsryers wie se lewe onnodig beëindig is deur roekelose bestuurders en ek wens daar is iets wesenliks wat ons daaraan kan doen. Alex was ʼn wonderlike mens wat ʼn betekenisvolle lewe gehad het; sy dood is sinneloos en tragies,” voeg Rees by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Het sy borgtog gese dat hy nie ‘n voertuig mag bestuur nie, want ons almal weet dat die domme is ‘n uur na hy vrygelaat is weer agter die stuurwiel van ‘n taxi.

Misky ·

MM hou ons asb op hoogte en wat met die saak gebeur en daardie taxi drywer wat nou op borg is. Weereens sterkte en simpatie aan Alex se vrou, dogters familie en almal wie se lewe hy geraak het.

Di ·

Ja nee “our brother” klaar weer uit op borg! Dis slaan my asem weg hoe hierdie klomp wegkom met als in die land. Hy het moord gepleeg, moet in die tronk sit vir die res van sy lewe, PUNT

SlinkseKoljander ·

Ons mense sal sorg dat niks met hom gebeur nie, more is hy weer uit op straat.

Viva ANC, Viva Cyril, Viva Beki!!

FJ ·

Gepraat van Vrystaat mense. Medewerker het my destyds vertel daar was ‘n Ingle Sing op Bloem wat sake uitsorteer het, op sy eiesoortige manier.

Samuel ·

As ek reg onthou, is daar berig dat die taxibestuurder onder die invloed bestuur het. Maar hy is een van our people en sal moontlik lig daarvan afkom. Ek hoop Alex rus on vrede.

MARTIE ·

Innige simpatie en baie sterkte aan al sy familie, vriende en kennisse. Sy dood is vir almal ‘n baie groot verlies. Ook vir ons land wat nog ‘n kwaliteit landsburger van formaat verloor het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.