[Video] ‘Finale rusplek’ ná pa en seun van Pta in vliegongeluk sterf

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die video volg onderaan die berig.

Pretorianer Anouka Petr (39) het onlangs ʼn unieke en pragtige laaste rusplek vir haar man, Hans (38), en hul sesjarige seuntjie Alexander geskep nadat hulle in Februarie in ʼn vliegtuigongeluk oorlede is.

Maroela Media het vroeër berig oor die tragedie waarin Hans en sy seuntjie saam gesterf het toe Hans se Lancair-vliegtuig in ʼn veld in Parys in die Vrystaat neergestort het nadat dit vermoedelik enjinprobleme ervaar het. Hy en Alexander is op slag dood.

“Ek het Hans en Alexander se as by my gehad en wou graag iets betekenisvols daarmee doen. Ek wou die as by my gehou het, maar natuurlik kan ʼn mens dit nie sommer net daar in ʼn kas by die huis druk of so iets nie,” het Anouka aan Maroela Media vertel.

Sy het toe ʼn beeldhouer en vriend wat saam met haar op Pro Arte Alphen Park op skool was, genader en gevra om ʼn beeld te ontwerp wat in haar tuin kan staan en waar sy Hans en Alexander se as in kan wegbêre. André Stead het die standbeeld ontwerp en vier maande lank daaraan gewerk voordat dit voltooi is.

Die standbeeld is ʼn man wat ʼn jong seuntjie vashou en onderaan is ʼn voetstuk waarin die as gebêre is. “Dit is nie ʼn standbeeld van Hans en Alexander nie, maar dit is volgens hul mates gemaak sodat daar ʼn ooreenkoms is,” het Anouka gesê. “André is ʼn ongelooflik talentvolle kunstenaar en die werk en detail wat in daardie standbeeld ingegaan het, is net ongelooflik.” André het die standbeeld Amare Abbraccio genoem, wat beteken liefdesomhelsing.

Anouka en Hans.

Anouka en Hans.

Sy het gesê die idee is dat haar en haar ander seuntjie, Thomas (3), se as ook eendag in die voetstuk geplaas moet word. Die standbeeld kan geskuif word. Indien Anouka ooit sal trek, sal sy dit saam met haar vat.

“André het dit wat ek in gedagte gehad het perfek vasgevang. Elke oggend as ek na daardie standbeeld kyk, ervaar ek soveel vrede. Dit is so mooi gedoen. Ek weet hulle is nie daar nie, maar om dit hul laaste rusplek te maak, hier by ons, is hoe ek dit wou hê.”

Volgens Anouka gaan dit goed met haar en Thomas ná Hans en Alexander se dood, maar hulle is steeds besig om die reuseverlies te verwerk. “Ons werk hard daaraan, elke dag. Die terapie is harde werk. Maar ons is baie dankbaar vir baie dinge. Ons is baie geseënd, ook met ʼn wonderlike ondersteuningsnetwerk. Dit gaan goed met ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ella Hiles ·

Anouka, dit is pragtig. Ek was bevooreg genoeg om 7 Jaar saam Hans te werk. Kan ek eerder se dit was n eer. Hy was een van die beste mense wat ek al ooit ontmoet het en het gelewe vir sy kinders en sy vrou. R.I.V Hans en Alexander. Anouka sterkte vir jou en Thomas weet julle sal altyd in my gebede bly.

Anouka ·

Baie dankie Ella – ek waardeer dit baie en jou woorde beteken baie vir my. Groete, Anouka.

Rene' ·

Anouka

Ek het die voorreg gehad om vir Alexander by die kleuterskool wiskunde klassies te gegee het! Hy was die pragtigste, vriendelikste seuntjie met die mooiste hart! Ek het hom nooit gesien sonder ‘n glimlag nie!
My gebede is met jou in die genesings proses. Mag die wonderlike herhinderinge jou bemoedig in moeilike tye.
Liefde Rene’

Anouka ·

Baie dankie Rene – dit beteken baie vir my. Ek waardeer dit verskriklik baie. Ons mis hom elke dag. Liefde Anouka

ladybug ·

Dis ‘n besonderse beeld en ‘n buitengewone idee, maar briljant daarby …

Baie sterkte vir jou en jou seuntjie .. mag julle berusting vind

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.