Foto’s: Gees van gee by kleuters gekweek met Kersprojek vir bejaardes

Andrea Willis (links) en Elsabé Booyzen van Tiny Troopers saam met Kersvader. Hulle het die projek vanjaar in Pretoria-Oos gelei. (Foto: Verskaf/Janine Clark Photography)

Wat in 2018 begin het as ʼn eenvoudige projek om bejaardes in die Vanderbijlpark-omgewing spesiaal te laat voel tydens die feesseisoen, het gegroei tot ʼn volwaardige organisasie sonder winsbejag wat nou sorg dat bejaardes reg oor die land ʼn Kersfees-bederfie ontvang.

Elsabé Booyzen, koördineerder van die Ouma en Oupa Kersprojek in die Pretoria-Oos-area, sê dit is vanjaar die tweede jaar wat Tiny Troopers Baby and Toddler Village-kleuterskool in Garsfontein by die Kersprojek betrokke is.

Booyzen, wat ook die eienaar van dié kleuterskool is, vertel aan Maroela Media die kinders het, tot die bejaardes se groot teleurstelling, nie verlede jaar self besoek aan die ouetehuis afgelê om die geskenke te help uitdeel nie.

Vanjaar is daar egter besluit om die oumense die teleurstelling te spaar, en het die kinders van die skool af na die Serene Park-ouetehuis gestap, waar hulle geskenke vir altesaam 155 bejaardes gegee het.

Kersvader het musiek gemaak met sy kitaar terwyl die Bull-sekuriteitsmaatskappy die kinders die kort afstand van die skool na die ouetehuis begelei het.

“Al het van die bejaardes nie ʼn wenslysie ingevul nie, het ons steeds seker gemaak dat hulle ook iets ontvang en deel van die dag voel,” sê Booyzen, wat ook gesorg het vir Cream Soda- en roomysdrankies.

Elsabé dra ‘n hoop geskenke. (Foto: Verskaf/Janine Clark Photography)

Skenkers vanuit die gemeenskap koop die geskenke op die bejaardes se wenslysies aan, verduidelik Booyzen.

“Die kinders geniet dit om by die bejaardes te kuier, maar hulle geniet natuurlik ook die koeldrank, roomys en geskenke. Die hoofsaaklike doel is egter eintlik om die kinders te leer dat dit belangrik is om te gee, en dat ʼn mens nie net kan ontvang nie.”

Die Ouma en Oupa Kersprojek het in 2018 sowat 1 700 geskenke in vier dorpe ingesamel. Die projek poog egter vanjaar om meer as 3 000 geskenke in altesaam 20 dorpe reg oor die land uit te deel.

“In die hartjie van ons missie lê die toewyding om die uiters belangrike les van die koestering en versorging van ons bejaardes aan die volgende generasie oor te dra.

“Bejaardes is gereeld agtergelaat of vergete, of selfs net afgelaai by ouetehuise, en hulle stories raak in die agtergrond weg. Ons missie is om aandag en liefde aan dié oumas en oupas van die gemeenskap te gee.”

Klein Duan (5) het aan Maroela Media gesê hy kuier lekker by die oumas en oupas, maar dat hy ook oor die roomys opgewonde is.

“Ek is mal daaroor om saam met oumense te wees,” het Sweden (6) gesê.

Die kinders het ook vir elkeen van die bejaardes ʼn Kerskaartjie gemaak.

“Ons glo die Kersfeesgees is stil, maar dit raak aan die hart op ʼn manier wat woorde nie kan vasvang nie. Jy kan dit nie hoor of sien nie, jy kan dit net voel,” sê Booyzen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anje ·

Wat n pragtige gebaar. Ek hoop dit bly n instelling vir nog baie jare!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.