Foto’s: Geloftedag gevier

Duisende mense het Donderdag op talle plekke landwyd Geloftedag gevier. (Foto: FAK)

Duisende mense het Donderdag op talle plekke landwyd Geloftedag gevier. Dit is vanjaar die 183ste keer sedert die Gelofte vir die eerste keer op dié dag in 1838 afgelê is.

By die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria kon nie eens die reënweer die groot skare mense keer om die Geloftedagfees by te woon nie.

Geloftedag is vir die eerste keer in jare by die monument se amfiteater gehou waar die musikant Ghapi “Die Gelofte”-lied gesing het. Ghapi is een van vyf kunstenaars wat dié besonderse lied sing.

Johan Vorster en Christoph Kotzé, beter bekend as Appel, het die lied getoonset.

“Dit is die eerste keer dat ek Geloftedag by dié monument bywoon. Jy kan nie help om te dink dat jy deel van hierdie nasie en volk is as jy hier is nie. Dit is vir my ’n groot voorreg om ‘Die Gelofte’-lied vandag hier te sing,” het Ghapi gesê.

Sorine van Gass, ’n direkte afstammeling van Sarel Cilliers, wat tydens Bloedrivier “Die Gelofte” afgelê het, het haar voorvader se belofte aan die Here vandag opnuut gestand gedoen deur die Gelofte voor te lees.

Tina en Lieb Prinsloo was van die talle mense wat die byeenkoms bygewoon het. (Foto: VTM)

Prof. Alwyn Swanepoel het die diens gelei.

Dit is vanjaar die 183ste keer sedert die Gelofte vir die eerste keer op dié dag in 1838 afgelê is. (Foto: VTM)

“Die betekenis van Geloftedag kan, anders as wat die kritici sê, juis ’n reinigende en florerende uitwerking op Suid-Afrika en veral Afrikaners hê, maar dít kan net gebeur wanneer ons die dieptedimensies van Geloftedag bewandel.”

Kittie Kok en haar man, Kobus (albei 75), het in tradisionele Voortrekkerdrag die verrigtinge bygewoon.

Die Kok-egpaar in hul tradisionele Voortrekkerdrag. (Foto: VTM)

Hulle seun, Gerhard, en sy gesin was ook by die monument. Hy sê hulle is hier omdat “ons ’n belofte voor die Here afgelê het. Dis vir ons ’n belangrike dag. Ons moet dít nakom”.

Volgens Lieb Prinsloo sou Afrikaners nie vandag hier gewees het as dit nie vir Bloedrivier en Sarel Cilliers was wat die Gelofte afgelê het nie.

“In my hart is ek ’n Afrikaner en boer.”

(Foto: VTM)

In Orania het mense die Geloftedagviering ook in groot getalle bygewoon. ’n Erediens en feesrede het deel van die viering gevorm.

In Orania het mense die Geloftedagviering ook in groot getalle bygewoon. (Foto: Orania/Facebook)

(Foto: Orania/Facebook)

Woensdagaand, op die vooraand van Geloftedag, het Voortrekkers van oor die land “nuwe geskiedenis geskryf” toe hulle vir die eerste keer sedert 1949 weer die historiese fakkel aangesteek en vanaf Fort Schanskop na die Voortrekkermonument gedra het.

Die Voortrekkers het in 1938 die Groot Trek se honderdste herdenking en die hoeksteenlegging van die VTM met ’n fakkelloop gevier. (Foto: FAK)

“Julle was deel van die eerste Geloftekamp wat hierdie fakkel ingedra het en wat hierdie lampie aangesteek het,” het dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers en besturende direkteur van die Voortrekkermonument (VTM), in die Senotaafsaal gesê.

Die Voortrekkers het in 1938 die Groot Trek se honderdste herdenking en die hoeksteenlegging van die VTM met ’n fakkelloop gevier. Die feesfakkel is op 30 November in Kaapstad aangesteek en is die aand van 15 Desember 1938 by Monumentkoppie in Pretoria ontvang.

Dit was die eerste keer sedert 15 Desember 1949 dat dié fakkel weer by die VTM se trappe opgedra is. (Foto: FAK)

Dié fakkel is toe in veilige bewaring by die Universiteit van Pretoria (UP) bewaar en brandend gehou.

In 1949, met die inwyding van dié monument, het 3 000 Voortrekkers op Monumentkoppie gekamp, en toe die 1938-fakkelvlam vanaf die UP na die Senotaafsaal gebring.

Die oorspronklike feesfakkel is gisteraand weer aangesteek.

het Voortrekkers van oor die land “nuwe geskiedenis geskryf” toe hulle vir die eerste keer sedert 1949 weer die historiese fakkel aangesteek en vanaf Fort Schanskop na die Voortrekkermonument gedra het. (Foto: FAK)

Voortrekkerkinders van gr. 5 tot gr. 11 het vanaf Fort Schanskop afgestap na die trappe van die Voortrekkermonument waar die brandende fakkel in die Senotaafsaal ingedra en dit saam met die Ewige Vlam opnuut aangesteek is.

Die ewige vlam was oorspronklik ’n olielamp, maar is later met ’n elektriese “vlam” vervang. Met vanjaar se nuwe historiese fakkelloop is die elektriese lig spesiaal met ’n olielamp vervang.

“Dit was die eerste keer sedert 15 Desember 1949 dat dié fakkel weer by die VTM se trappe opgedra is.”

(Foto: FAK)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

My volk – My trots !!

Papsak

Is dit nie wonderlik nie pragtig my volk my land SIUD AFRIKA VIR JOU SAL ONS STAAN EN BAKLEI

KB

Solank mens die Gelofte gestand nakom. Hierdie dag het met politiek NIKS uit te waai nie, dis ʼn Christelike dag, punt.
Ek wás in my kerk vandag. Dit ís ʼn gewyde dag, en só sal ek dit eerbiedig…lewenslank.

Samuel

Dit js goed dat Geloftedag nog gevier word. Ek hoop net die mense is eerlik en ernstig met die heraflegging van die gelofte.

piet

So die son skyn elke 4 jaar omtrent presies op dieselfde plek en tyd as 4 jaar vantevore. So vanjaar na 72 jaar was dit bykans op presies dieselfde posisie as 1949 met die inlywing. Son behoort dus vanjaar absoluut in die middel van die van die senotaaf te geskyn het om 12h00 soos in 1949.