Verskeie van die Bloemfontein-dieretuin se tiere, luiperds, wildehonde en voëls begin reeds aanpas by hul nuwe tuistes. Dit nadat dié Vrystaatse dieretuin verlede maand sy deure finaal gesluit het weens die haglike toestand waarin sy diere verkeer het.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein het oor die naweek in ’n verklaring gesê al die diere is na hul nuwe tuistes geskuif.
Luidens die verklaring was dit aanvanklik ’n gespook om twee van die dieretuin se tiere, Shevar en Sharukh, uit hul skuiling by die dieretuin te bevry aangesien dié diere se slaapplek onder water van sowat twee meter diep was. Die diere se slaapplek was ook die diere se enigste pad uit die hok.
Vrywilligers kon egter daarin slaag om dié water uit die skuiling te pomp en die diere is sedertdien na Lions Rock-reservaat in die omgewing van Bethlehem oorgeplaas.
Luidens die verklaring pas Shevar en Sharukh goed by Lions Rock aan. “Die twee is nou klaar met hul aanvanklike aanpassingsperiode en is baie nuuskierig oor hul nuwe bure. Die reuk van ander tiere is iets nuuts vir hulle,” lui die verklaring.
Shevar en Sharukh se gedrag word nou gemonitor. Dié twee word ook vier keer per week gevoer. “Albei tiere is gesond en hulle is baie gelukkig in hul nuwe huis.”
Kyk hier na die onderskeie diere se nuwe tuistes:

Love Lions Alive Project Sanctuary was betrokke by die hervestiging van vier groot katte. Hulle het dringende veranderings aan bestaande leeukampe aangebring om hierdie diere te akkommodeer. Nog veranderinge word beplan. (Foto: Verskaf)

Birds of Eden, Monkeyland en Jukani het sommige van die ape, voëls en wildehonde in hul sorg geneem. (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
7 Kommentare
I’m so ecstatic to hear this.
Wonderlike nuus!
So lekker om bietjie positiewe nuus te hoor en sien!! Dankie aan alle rolspelers!
Ek vra lankal myself af: wat gebeur nou met die dieretuin gronde wat nou vakant gaan staan? Ek dink al lankal dat die dieretuin geoormerk was vir ontwikkeling. Dit sal nie net ‘n groen area bly in Bloemfontein- dit kan ek julle nou al waarborg.
Ek is so bly … darem het ek n hand in saak gehad, ek ondersteun maandeliks vir four paws… Die diere lyk sommer baie beter!