Foto’s: Geredde krimpvarkie ses kleintjies ryker

Een van die baba krimpvarkies. (Foto: Sarah Kempen/Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital)

ʼn Krimpvarkie wat onlangs uit ʼn tuin in Johannesburg gered is, het vandeesweek haar versorgers stom gelaat nadat sy geboorte aan ses kleingoed gegee het.

Hoewel verskeie mense bekommerd was oor die krimpvarkie se welstand, het hulle nie eers geweet sy is swanger nie.

Dié inheemse krimpvarkie, wat algemeen in Suid-Afrika, Botswana en Namibië voorkom, is vroeër die week uit ʼn vrou se tuin gered nadat sy bekommerd was oor die dier se welstand.

Op pad na die Johannesburg Wildlife Veterinary-hospitaal in Midrand het die krimpvarkie egter geboorte begin gee.

Ses krimpvarkies is perdfris en gesond in ʼn motor gebore, nog voordat hulle by die hospitaal kon uitkom.

“Die hele krimpvarkiefamilie is geweeg toe hulle by die hospitaal aankom en vir beserings ondersoek,” lui ʼn sosialemedia-inskrywing deur die hospitaal.

“Ons is verheug om te sê dat die hele gesinnetjie gesond en ongedeerd is.”

Die hospitaalpersoneel het intussen ʼn stil en knus omgewing vir die ma en haar kleingoed gemaak waar hulle gemaklik kan herstel. Stres is glo ʼn groot probleem onder krimpvarkies wanneer hulle pasgebore babas moet versorg, en dikwels kan die ma haar kleintjies doodmaak as sy oorweldig voel.

Die hele gesin is bymekaar. (Foto: Sarah Kempen/Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital)

“Ons monitor steeds die krimpvarkies en maak seker dat hulle goed eet. Sodra die babas gespeen is en almal suksesvol op hul eie kan eet, sal hulle saam met hul ma in ʼn veilige omgewing vrygelaat word.”

Die ma en haar babas kan nie op hierdie stadium vrygelaat word nie, aangesien die ma haar babas sal verlaat indien hulle dadelik in ʼn nuwe omgewing geplaas word.

Volgens die hospitaal is dit normaal vir die meeste vroulike diere om hul jong babas agter te laat as hulle nie met hul omgewing vertroud is nie.

“Pasgebore diere is dikwels ʼn las en sal roofdiere lok, daarom sal die ma hulle agterlaat om haarself te red.”

Die hospitaal wag wel totdat die krimpvarkies goed vir hulself kan sorg voordat die diere aan hul eie genade oorgelaat word.

Die hospitaal het intussen ʼn beroep op lede van die publiek gedoen vir donasies om die spannetjie te voer.

“Die ma is tans besig om groot hoeveelhede insekte te verorber om genoegsame melk vir die ses babas te produseer. Haar gunsteling op die oomblik is superwurms en meelwurms.

“Ons behandel inheemse diere altyd gratis en maak slegs staat op die skenings en ondersteuning van die gemeenskap.”

  • Klik hier om ʼn paar sappige wurms aan moeder-krimpvarkie te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

wilhelm ·

Ouilik ons het ook n krimp varkie mar blaas altyd vir my as ek hom uit sy vis tenk haal

Suzette ·

Wat ‘n pragtige storie om my dag op te kikker. Mal oor ‘n krimpvarkie.

Skappie ·

Hierdie is nou ‘n positiewe storie vir die dag, en dit laat mens sommer gelukkig voel. Dankie Maroela Media.

Samuel ·

So het ek een aand in Pierre van Ryneveldpark gedink dit is sommer ‘n opgerolde stuk gras, tot ek agtergekom het dit is opgerolde krimpvarkie. Baie oulik. Mooi storie.

M ·

Foeitog en ek het gekla oor my kinders gevoel het soos krimpvarkies wat ek in die wêreld bring. Dit moet seker seer wees????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.