[Foto’s] Gert van Rooyen-soektog duur voort

Opgrawings by Blythedale-strand in KwaZulu-Natal Foto: GB Jordaan (verskaf aan Maroela Media)

JONGSTE: Die soektog is Donderdag laatmiddag afgelas. Lees meer.

ʼn Span polisie-ondersoekers is steeds besig met opgrawings op Blythedale-strand in KwaZulu-Natal op soek na die oorskot van slagoffers van die pedofiel Gert van Rooyen.

Verslaggewers van die SABC2-program Fokus berig daar is vroeër beendere, van vermoedelik diere, gevind. Die polisie se honde-eenheid is ook op die toneel en twee groot uitgrawers is gebruik.

Maroela Media het vroeër berig Fokus het sowat 15 maande gelede opnuut met ’n ondersoek begin na die meisies wat deur Van Rooyen en Joey Haarhoff ontvoer is en nooit weer gesien is nie.

Alet van Rensburg Wright, uitvoerende regisseur van Fokus, het gesê daar is ’n stormwaterafvoerpyp in die omgewing waar daar gegrawe word. Volgens die inligting wat gekry is, is die liggame van twee meisies moontlik êrens in die omgewing. Fokus saai Sondagaand om 18:00 op SABC2 ’n spesiale program hieroor uit.

Van Rooyen en Haarhoff het tussen 1988 en 1990 meisies ontvoer. In Januarie 1990 is die 16-jarige Joan Booysen ontvoer. Sy kon egter kort daarna uit die paartjie se huis in Pretoria ontsnap waarna sy die polisie op hulle spoor gesit het.

Van Rooyen en Haarhoff het dae later op die vlug geslaan toe hulle die polisie voor hul huis in Capital Park gesien het. Hulle het tot by die Apiesrivierbrug gejaag waar Van Rooyen glo eers vir Haarhoff en toe homself doodgeskiet het.

Vandag, jare later, is daar steeds geen spoor van Tracey-Lee Scott-Crossley, Fiona Harvey, Joan Horn, Anne-Marie Wapenaar, Odette Boucher en Yolanda Wessels, wat almal ook deur Van Rooyen en Haarhoff ontvoer en vermoedelik vermoor is, nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Tussen 1988 en 1990. Twee jaar se klaarblyklike wellus het soveel lewens gekos.

anton ·

Hulle grawe so verskriklik diep, glo nie van Rooyen hulle sal hul so diep kon begrawe het nie tensy hulle ook sulke toerusting gebruik het wat ek betwyfel.
Iemand sou seker ook gesien het dat hulle besig is om gate te grawe ens.
Persoonlik twyfel ek of hulle iets daar gaan kry.

karen ·

Uiteindelik ! Eintlik Skandelik ! Hierdie inligting is reeds maart 2016 ontvang nou eers word daar iets gedoen? Goeiste is ons Regstelsel so deurmekaar dat dit regtig 15mnde neem voor verrigtinge begin? En ook hoekom elke keer die vals hoop gee en dan groot hoeehaa Öndersoek Inligting en dan net weer stil stil wegraak. Ondersoek julle inligting en lig die families wat alles verloor het, in as daar sukses was. Hou op Vals Hoop skep asb.

Elmarie Pretorius ·

Karen dit is n groot skande die inligting al in 2016 gekry is en nou eers daaraan gewerk word. Ek het al 2015 inligting deur gegee ook oor saak en nou nog glad ook nie eers n oproep van OB nie. So is dit met baie Gesinsgeweld en Seksueleteistering sake ook. SWAK.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.