Foto’s: Gesin se huis in puin gelê op Nuwejaarsdag

Die huis Woensdagoggend in vlamme gehul. (Foto: Verskaf)

’n Gesin van Randburg in Johannesburg gaan die nuwe jaar met byna net die klere aan hul lyf in nadat hul huis op Nuwejaarsdag afgebrand het.

Laurence Upton (48) sê aan Maroela Media hy het Woensdag omstreeks 03:30 in sy huis in Jacanlee wakker geskrik. “Die huis was in rook gehul. Ek kon nie asemhaal nie.”

Upton vertel hy het dadelik na die huis se voordeur gehardloop om sy bejaarde ma (76) in die kothuis teenaan die huis wakker te maak. Sy 20-jarige dogter was genadiglik nie dié aand tuis nie.

Sy ma was reeds wakker en die twee kon daarin slaag om saam met hul twee honde na buite te hardloop waar hulle hulpeloos moes toekyk hoe vlamme hul huis verswelg.

Volgens Upton kon hy ná herhaalde pogings nie die brandweerdiens in die hande kry nie waarna hy sy ma beveel het om in hul motor te klim en na die plaaslike brandweerstasie te ry om hulp te ontbied. Die brandweer het eers ’n uur en 15 minute later op die toneel aangekom en die huis was toe reeds in puin gelê.

Die huis Woensdagoggend in vlamme gehul. (Foto: Verskaf)

“Ek het deur die badkamervenster terug in die huis gegaan om my ID en bestuurslisensie te kry. Dit was seker ʼn dom ding om te doen. Ek kon dít, my skootrekenaar en iPad voor my bed gryp. My ma se kothuis het darem nie heeltemal afgebrand nie en sy het nog van haar klere oor. Maar ek en my dogter het net die klere aan ons lyf,” sê Upton.

Hy vertel dat die gemeenskap se hulp sedertdien oorweldigend was.

Volgens Upton het iemand dieselfde dag nog ’n huis vir hulle aangebied om vir tyd en wyl te woon. Ander het weer geskenkbewyse van nabygeleë kruidenierswinkels vir hulle gekoop.

“Dit help so baie. Dit is ’n aardige gevoel. Een dag het jy eintlik meer as wat jy nodig het en die volgende dag het jy nie eens ’n tandeborsel nie,” verduidelik hy.

Die oorsaak van die brand is in dié stadium nog onduidelik. Die brandweerdiens het wel aan Upton genoem dat die televisiekamer gedurende die brand die warmste vertrek in die huis was.

Vrywilligers kan geskenkbewyse by nabygeleë kruidenierswinkels, waaronder Cresta-winkelsentrum, aan die gesin skenk. Hulle kan ook met Upton kontak maak by 083 777 1773 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.