Foto’s: Geskiedenis dié kleindorp-toergids se ‘passie, plig’

Roydin Engelbrecht voor die pastorie. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

“Een van die eerste goed wat ons as vreemdelinge mekaar altyd vra, is waar ons vandaan kom.”

Só sê Roydin Engelbrecht, ʼn boorling van Oudtshoorn wat as geesdriftige toergids daagliks sy passie vir sy Karoodorp se geskiedenis uitleef.

“Dis mos sleg as jy nie veel meer as jou geboorteplek of tuisdorp se naam ken nie, want jy verteenwoordig dit altyd – of jy nou wil of nie.”

Onder die vaandel van sy onderneming RJ Tours, bied hy al vir meer as sewe jaar lank stap- en fietsrytoere in die omgewing aan om vir toeriste ʼn unieke blik op die geskiedkundige argitektuur en interessante karakters van die wêreld se volstruishoofstad te gee.

Vanjaar is boonop sy derde wandeltoer vir feesgangers van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

Hoogtepunte van dié gemaklike oggenduitstappie sluit die indrukwekkende NG Moederkerk, die pastoriehuis en die verskeie besonderse sandsteen-volstruispaleise in wat tydens die dorp se destydse “feather boom”-era opgerig is.

Roydin sonder een só ʼn praghuis, wat nou as die Mimosa Lodge bekendstaan, met ʼn breë glimlag uit.

“As ek eendag groot is, soek ek nou daardie een om in te bly.”

ʼn Rugbybesering vir sy plaaslike klubspan het dié voormalige natuurgids noodgedwonge van loopbaan laat verander.

“Naas die natuur was geskiedenis nog altyd een van my belangstellings. Ek het ʼn nuuskierige gees, hetsy oor diere, mense of geboue. Ek wil altyd meer weet van iets.”

Hy het self aan ʼn soortgelyke staptoer deelgeneem en hier het sy paaie met ʼn mede-geskiedenisliefhebber en kenner, Hazel Jonker, gekruis.

As mentor bring sy gereeld vir hom boeke om te lees en hulle kan ure lank oor geskiedenis praat.

“Die toer gee vir mense ʼn breë prentjie van Oudtshoorn, maar daarbenewens wil ek altyd mense aanmoedig om na te dink oor hul eie geboorteplek. Gaan terug en vra dieselfde vrae oor jou eie familieboom of tuisdorp as jy hier weggaan.”

Die mense en hulle verskillende persoonlikhede en uitkyke op die toere, is een van sy hoogtepunte.

“Ná byna elke toer word ek uitgedaag om nog iets op te soek, of ʼn gebou of onderwerp van ʼn ander kant af te bekyk. Danksy die toeriste verbreed ek deurlopend my eie kennis oor die dorp.”

Een van sy gunstelinggesegdes is dat mens nie weet waarheen jy op pad is, sonder om te weet waarvandaan jy kom nie.

“Dinge kon vir my baie anders uitgedraai het. As ek kyk na wat my dorp en die Here al vir my op my lewenspad gedoen het, voel ek dis niks minder as my plig om terug te ploeg in Oudtshoorn en sy mense nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.