Foto’s: Gewilde restaurant brand aan Oos-Rand

Fahrenheit Seafood & Grill in vlamme gehul. (Foto: Verskaf)

’n Bekende restaurant in Edenvale aan die Oos-Rand is Donderdag in ’n brand beskadig.

Personeel en klante is vroeër vanmiddag uit die Fahrenheit Seafood & Grill op die hoek van Hudson- en Terraceweg in Eastleigh begelei nadat ’n brand daar ontstaan het.

Niemand is beseer nie en die vlamme is reeds geblus. Een gedeelte van die restaurant het egter glo heeltemal afgebrand.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-rampbestuurdienste, sê die restaurant is in twee dele verdeel, waarvan een met ’n grasdak bedek is. ’n Brandmuur het verhoed dat die vlamme vanaf die gedeelte met die grasdak na die res van die restaurant versprei.

Fahrenheit Seafood & Grill in vlamme gehul. (Foto: Verskaf)

Sowat 30 brandbestryders en vyf brandweerwaens is ingespan om die vlamme te blus nadat hulp kort voor middagete ontbied is.

Gary Wilson, operasionele bestuurder van S.W.A.T SOS 24/7, sê dié plaaslike veiligheidsmaatskappy het omstreeks 11:50 ’n boodskap rakende die brand ontvang waarna die plaaslike brandweerdiens ontbied is.

Terraceweg is tans nog gesluit. Twee katte wat op die perseel woon, is tydens die brand beseer en sedertdien na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem vir mediese behandeling.

Die oorsaak van die brand is steeds onduidelik.

“Dit is ’n jammerte. Fahrenheit is een van Edenvale se bakens,” het Wilson vanmiddag aan Maroela Media gesê.

Fahrenheit Seafood & Grill in vlamme gehul. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

VaalDonkie ·

Daai lyk soos ‘n kookolie-vuur. Wat seker nie verbasend sou wees in hierdie geval nie. Hoop maar die versekering is nie vol nonsies nie en ek’s bly niemand is beseer nie.

Surfer ·

Vir my weer meer gelyk na n Johnie Walker vuur Vaaldonkie. :-(

AW ·

Het daar skool ge gaan by Edenvale Afrikaans Hoër, 1986 klaar gemaak daar,.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.