Foto’s: Goeie nuus: Leerlinge pak duisende skooltasse vir liefdadigheid

Leerlinge van Laerskool Lynnwood het Dinsdag fluks gehelp om nagenoeg 4 000 skooltasse te pak wat aan aan behoeftige graadeens geskenk gaan word. Foto's: Helpende Hand en Maroela Media.

Leerlinge van Laerskool Lynnwood het Dinsdag fluks gehelp om nagenoeg 4 000 skooltasse te pak wat aan aan behoeftige graadeens geskenk gaan word. Foto’s: Helpende Hand en Maroela Media.

Die grondslagfase van Laerskool Lynnwood het Dinsdag fluks gewerk om saam met Solidariteit Helpende Hand byna 4 000 skooltassies te pak wat in 2015 aan behoeftige graadeens regoor die land uitgedeel sal word.

Dit vorm deel van Helpende Hand se nasionale Skooltassieprojek waardeur skooltassies propvol skryfbehoeftes elke jaar aan minderbevoorregte graadeens uitgedeel word.

Die leerlinge het van 08:00 gewerk om die tassies na pakstasies aan te dra waar dit gevul is met ʼn skêr, gom, liniaal, witbordjie, pennesakkie, inkleurpotlode, uitdraaikryte, waskryte, witbordpenne, uitveër, skerpmaker, inkleurboek, witbord-uitveër, legkaart, springtou en tennisbal. ʼn Leesboekie wat eksklusief vir Helpende Hand geskryf is, is ook in elke tassie gepak. Teen 12:00 was die enorme taak afgehandel en kon die leerlinge rus en smul aan die lekkernye waarmee hulle vir hul harde werk beloon is.

Jak de Priester het ook nie geskroom om te gaan help nie en het die entoesiastiese pakkers kom motiveer. “Dit is vir my ʼn voorreg om my ondersteuning aan hierdie projek te bied en op so manier te help om ʼn glimlag op kinders se gesigte te sit,” het hy gesê. “Hierdie projek herinner ons almal net weer daaraan dat daar kinders is wat nie so bevoorreg is soos ons en ons kinders nie, en dit is wonderlik dat Helpende Hand op hierdie manier ook aan hulle ʼn gelyke wegspringkans kan gee.”

Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, is die Skooltassieprojek een van Helpende Hand se vlagskipprojekte. “Met hierdie projek kon meer as 25 000 skoolleerders daarbuite hul skoolloopbaan begin met ʼn volgepakte skooltas en die hoop wat daarmee gepaardgaan,” het Brink gesê. “Helpende Hand glo dat opleiding die magtigste wapen teen armoede is, en dit begin reeds wanneer ʼn graadeen uit behoeftige omstandighede sy of haar skoolloopbaan met sekerheid en trots kan begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.