Foto’s: Goeie nuus vir motoriste rakende Centurion-sinkgat

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, by die amptelike geleentheid waartydens die pad gedeeltelik oopgestel is. Foto: Verskaf

Motoriste in Centurion kan ʼn mate van verligting in verkeersdruk te wagte wees nadat ʼn gedeelte van die aansluiting by Jeanlaan en Gerhardstraat, waar daar maande gelede ʼn reusesinkgat gevorm het, Vrydag vir verkeer oopgestel is.

Dié gedeeltelike oopstel van die pad sal help om verkeersfrustrasie in dié gebied, wat as sentrale sakegebied van Centurion daagliks swaar verkeer moet dra, te verlig.

Die pad is Vrydagoggend tydens ʼn amptelike geleentheid deur Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, en ander stadsamptenare oopgestel. Foto’s van die geleentheid is kort daarna op sosiale media gedeel en talle gebruikers het hul blydskap uitgespreek dat dié hoofroete nou weer gebruik kan word.

Samkelo Mgobozi, die burgemeester se woordvoerder, het gesê Gerhardstraat is in ʼn noordelike én suidelike rigting gedeeltelik oopgestel. “Voertuie sal nou vanuit Gerhardstraat in ʼn oostelike rigting in Jeanlaan kan indraai. Voertuie sal egter nie vanuit Gerhardstraat in ʼn westelike rigting in Jeanlaan kan indraai nie omdat daardie gedeelte van die pad steeds gesluit is om die tweede fase van die herstelwerk te voltooi,” het Mgobozi verduidelik.

Die sinkgat is die duurste enkele padherstelwerkprojek wat die stad nóg moes onderneem en dit sal R25 miljoen kos om die sinkgat ten volle te herstel. ʼn Kontrakteur het in Januarie vanjaar met die herstelwerk begin.

Maroela Media het vroeër berig kontrakteurs wat opknappingswerk in die omgewing gedoen het, het in Mei verlede jaar op dié sinkgat afgekom voordat dit heeltemal ingeval het. Die gat was minstens 12 m diep en so groot soos ʼn skoolsaal. Die dikte van die pad tussen die teer en die gat was slegs sowat 75 cm en die padoorgang is noodgedwonge vir die publiek en motoriste se veiligheid gesluit.

Die sinkgat is egter net een van talle sinkgate in Centurion. Mgobozi verduidelik hoewel sinkgate oor ʼn tydperk natuurlik kan vorm, kan dit in beboude gebiede vererger word weens lekkasies en die ondergrondse invloei van stormwater, water of afvalwater, asook weens die daling van grondwatervlakke.

“Minstens R27,5 miljoen is in die finansiële jaar 2017-’18 toegeken om die vyf ergste sinkgate te herstel. In die huidige finansiële jaar is R25 miljoen beskikbaar gestel vir die herstel van die ander sinkgate.”

Mgobozi het gesê die prioritisering van sinkgate word aan die hand van verskeie faktore bepaal, waaronder die veiligheid van inwoners, blootstelling aan risiko, omvang van skade, stabiliteit van die sinkgat, die omvang van die herstelwerk en die beskikbaarheid van geld.

“Ons doen ʼn beroep op inwoners van die stad om enige tekens van sinkgate in hul omgewing onmiddellik aan te meld sodat ons vinnig daarop kan reageer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lientjie ·

Ek ry daardie pad elke oggend en nog nooit ‘n probleem gehad nie al was dit gesluit.

Ellisras ·

Magnus Malan het die pad ook ‘n paar keer gery. Dit is toe hy nog die troepe deur die ore gewerk het. Vroeër jare toe hy troepe op ander maniere “deur die ore” gewerk. Maar ons praat nie oor dit nie.

Jef ·

Een gedeelte van die pad is op n amptelike geleentheid oopgestel dus die ander klomp sinkgate word ook op n amptelike geleentheid oopgestel na herstel.
Geen wonder dit kos miljoene Rande nie.

Yankee ·

Lol. Ek let dit ook op. Waar was die President dan? Gits, hy moet sekerlik ook genooi word.

Ella ·

Ai tog ons het so min om te vier deesdae dat die heroopstel n hoofroete amptelike gevier moet word.
LW Net in een rigting so ons kan nog n amptelike oopstelling in die toekoms verwag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.