Foto’s: Goeie reën vir groot dele van SA

Reën in Mokopane, Limpopo. Foto: Neels Smuts via @ReenvalSA

Talle sosialemediagebruikers het Sondag verheug foto’s van hul reënmeters, nat grasperke en lopende geute gedeel nadat goeie reënval Saterdag oor die meeste van die provinsies voorgekom het.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS) het Vrydag gewaarsku dat donderstorms oor groot dele van die land verwag word en dat oorstromings plek-plek kan voorkom. Die weerdiens het vroeër gesê die nat weerstoestande kan toegeskryf word aan drie kenmerkende weerverskynsels wat vanaf Vrydag oor die binneland van Suid-Afrika waargeneem kon word, waaronder ʼn stroom tropiese vog wat na die suidelike dele beweeg het en beduidende koeler en vogtige lug wat vanaf Saterdag oor KwaZulu-Natal en die Hoëveld beweeg het.

Volgens die SAWD het goeie reënval Saterdag oor die meeste provinsies voorgekom, behalwe vir die Noord-, Wes- en Oos-Kaap, waar daar geen beduidende reënval waargeneem is nie.

In Limpopo is 53 mm reën in Mokopane waargeneem, gevolg deur 45 mm in Tzaneen, 41 mm in Tshivhase, 32 mm in Marken en 39 mm in Roodewal. In Thabazimbi is 31 mm waargeneem, 23 mm in Bela-Bela, 26 mm in Mara, 10 mm in Lephalale en 18 mm in Levubu.

Mpumalanga het ook goeie reënval geniet met die meeste reën wat in die Graskop-gebied (34 mm) en Secunda (27 mm) voorgekom het. Reën het onder meer ook in Belfast (22 mm), Witbank (14 mm), Nelspruit (10 mm) en Ermelo (4 mm) geval.

In Noordwes is 25 mm reën by Pilanesberg waargeneem, 22 mm by Lindleyspoort, 20 mm by Hartbeespoortdam, 19 mm by Marico, 14 mm in die Lichtenburg-omgewing en 8 mm in Potchefstroom.

In Gauteng is die meeste reën by die Wonderboom-lughawe (19 mm) waargeneem, gevolg deur Zuurbekom (17 mm), die sentrale gedeelte van Pretoria (16 mm) en Bronkhorstspruit (10 mm). In die Vrystaat is reënval van nie meer as 4 mm in Frankfort, Ficksburg en Hennenman waargeneem

Die meeste plekke in KwaZulu-Natal het nie beduidend baie reën ontvang nie, behalwe vir Kosibaai wat 19 mm reën gekry het. In Mandini is 5 mm waargeneem, 7 mm in Pennington South, 3 mm in Paddock, 2 mm in Van Reenen en net 1 mm in Estcourt, Virginia en Ixopo.

Volgens die SAWD word nog reënval vir die res van die dag en deur die nag verwag voordat die nat weerstoestande na verwagting teen Maandag sal opklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Penellope Jones ·

Ai, dit sal so lekker en welkom wees as die erg droogte geteisterde gebiede van die land ook so reen kan kry!
Dit sal ‘n heuglike dag wees.

Chris Ws ·

Ons sowel as verskeie van ons bure op plase buite Koster in Noordwes het 40mm gemeet.Dis baie lekker NAT!

Hansie slim ·

Ek is mal oor hierdie direkte terugvoer van goeie reën! Mag ons ook sulke terugvoer kry van die Kaap. Mag hulle ook so gelukkig wees!

Pop ·

En wat van ons, 80 gemeet hier in die berg in Westville. Tel ons nie

FA ·

ñ Geddelte van die berig is feitlik foutief.
Dit meld dat Wonderboom lughawe se 19 mm die hoogste reënval in Gauteng was. Daar is baie plekke in Gauteng wat meer as 19 mm aangeteken het, bv Nigel met 24 mm.

E.K. (vra net) ·

Hoekom is daar altyd, altyd, ALTYD mense wat simpel kommentaar op ander se kommentare lewer? Hou by die berig! Hier is mense nou verheug en dan kom die ou lelikes weer uit. Sies man!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.