[Foto’s] Gordonsbaai-brand: Skade beloop reeds miljoene

Foto: Verskaf.

Die skade van die verwoestende brand wat sedert Dinsdag teen die berg by Gordonsbaai in die Wes-Kaap woed word reeds op miljoene rande beraam. Die finale skadeberaming sal na verwagting baie meer wees.

JP Smith, die DA se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, het Woensdag gesê die eerste “rowwe” beraming van die skade is R38 miljoen. “Die finale bedrag sal waarskynlik heelwat hoër wees.”

Die brand woed reeds twee dae lank en het talle wonings vernietig. Die dierewelsynsvereniging in Helderberg in Gordonsbaai moes ook Dinsdag sy perseel ontruim.

Woensdag was daar steeds 17 brandweerwaens by brandbestryding betrokke, asook twee watertenks en ongeveer 60 grondspanne. Brandbestryders van City Biodiversity, Working on Fire en die Overberg-brandweerdienste was ook betrokke.

Smith het gesê die N2 en R44 is intussen weer oopgestel.

“Die polisie het gesê boosdoeners het gepoog op by drie van die beskadigde huise in te breek, maar is in hul spore gestuit deur lede van die buurtwag,” het Smith gesê.

Volgens hom het die brand tien private eiendomme, drie motors, een vragmotor, twee fabrieke en twee buitelugstore beskadig. Hy het gesê wind van 20 km/h word vir vandag voorspel, wat die situasie beheerbaarder maak.

Die Kaapstadse brandweer en reddingsdienste het Woensdag nog hard gewerk om ʼn hele paar brande reg oor die Kaapse Skiereiland te blus. Smith het Woensdag gesê die spanne wat ontplooi is sal “nog vir ʼn hele ruk” op die toneel teenwoordig wees.

Daar woed ook ʼn reuseveldbrand in Simonstad. Die vloot het volgens hom ook skade gely ten opsigte van stoorkamers en ander fasiliteite.

Volgens hom bedreig dié brand in dié stadium nie enige eiendom nie. Daar is vyf brandweerwaens, vier watertenks en 28 brandbestryders op dié toneel.

Smith het gesê vier helikopters help met lugbrandbestryding.

Road Hill-weg was Woensdag weens erge rook gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Mens weet nie meer wat om vir die Wes Kapenaars te sê nie. Die Knysna brand is nog vars in die geheue en daar begin dit alles weer van voor af.

Hul het nie eens stortwater oor nie, nou lyk die ontsoutingsplanne n gesondheidsrisiko in te hou vanweë huidige besoedeling van die see, die boere boer op dorre velde en die diere vrek op strepe.

Ons bid vir julle.

Ja Eish ·

Ja Eish ! Ons moet bid.
Baie van ons vriende en familie het heel vermakerig met ‘n bietjie trots Wes-Kaap toe getrek – Gordonsbaai en Kleinmond.
Hul het die wilde weste, by name Gauteng verlaat. Hul rede -‘n rustiger leef wyse en veiligheid.
Lyk of daar min oor gebly het van die vooruitsig. Bendes, digte rook en droogte belemmer die uitsig oor Tafelberg en die see …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.