Foto’s: Groot beloning ná stropers drie renosters doodmaak

Foto's: Mount Camdeboo / Facebook

Foto’s: Mount Camdeboo / Facebook

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is grafies van aard en nie geskik vir sensitiewe lesers of kinders nie.

Verskeie rolspelers in die Oos-Kaap het ʼn beloning van R150 000 uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisname en vervolging van stropers kan lei nadat ʼn dragtige renoster en ʼn jong bul verlede week daar vir hul horings doodgemaak is. Die koei sou na verwagting oor twee weke aan ʼn kalfie geboorte gegee het.

Die koei en die bul se karkasse is Dinsdag in die Mount Candeboo-privaat wildreservaat naby Graaff-Reinet aangetref. Die diere se horings was verwyder.

“Ons het dadelik die Valke in kennis gestel en hulle was spoedig op die toneel met die hulp van die Wilderness Foundation wat gereël het dat ʼn helikopter hulle in Port-Elizabeth gaan oplaai,” het ʼn woordvoerder van Mount Candeboo op hul Faceblook-blad gesê. “Die Groen Skerpioene het ook opgedaag om met die ondersoek te help. Dr. Williams Fowlds is ontbied om ʼn nadoodse ondersoek te doen en hy het ontdek dat die koei hoogsdragtig was.”

Die kalfie sou oor twee weke gebore word, maar het saam met sy ma gevrek.

Dit is die derde stroping wat by die wildsreservaat plaasgevind het sedert Mei verlede jaar. ʼn Totaal van vyf renosters, die baba ingesluit, is tydens die voorvalle deur stropers doodgemaak.

“Ons eiendom is een van die mees afgeleë wildreservate in die Oos-Kaap, indien nie Suid-Afrika nie, en was vermoedelik die laaste plek waar stropers in staat sou wees om toegang te verkry. Ons weet nou dat hierdie misdadigers hoogs georganiseerd en goed befonds is en elke voorval strategies beplan.”

Die reservaat het gesê dat veiligheidsmaatreëls opgeskerp is.

Wilderness Foundation, Mount Camdeboo en ʼn naburige plaas het die beloning uitgeloof vir enigiemand met inligting wat kan lei tot ʼn inhegtenisname wat verbind kan word met enige voorval van renosterstropery by Mount Camdeboo. Mense met inligting kan die Wilderness Foundation se hulplyn by 078 696 9494 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anita ·

Dit is hartverskeurend! Ons as mens is oor die diereryk aangestel en die foto met die dooie kalfie bring ‘n mens tot trane.

Wens ek kon die dingetjie red en sê sorry bekkie want nie alle mense maak só.

Paul ·

Dir renostermoordenaars se opdragte kom direk van die regering. Voorheen het dit 24 uur geneem om vir ‘n veearts om ‘n permit te bekom om ‘n renoster te verdoof en die horings te verwyder. Nou neem dit ongeveer ses weke om die permit te kry en wanneer die veearts op die plaas aankom waar die renosters is, is hulle reeds gestroop al is die plaas hoe afgelee. Die inligting kom direk van die regerings afdeling wat die permitte uitreik met GPS aanwysings die lot.
Die parkeraad is vrot van informante wat die renosters se posisie dmv GPS data aan die moordenaars deurgee wat dan reguit daarnatoe gaan en die diere vermoor. Kyk maar hoe lank ry jy in die wildtuin om ‘n renoster te sien en dan kyk jy hoeveel word vermoor. Hoe weet die moordenaars waar die diere is – hulle kry GPS data van die informante. Wanneer die moordenaars in hegtenis geneem word het hy net die geweer, mes en byl by hom. As die moordenaar die dier moes soek sou hy tenminste kos en slaapgoed by hom gehad het. Dit is die beste rede om hulle summier dood te skiet en nie te vang nie want binne ‘n week is hy uit op borg van R100 want hy het ‘n werk om te doen vir die gulsige opdraggewer in die regering.
Ek weet die feite is korrek want ons ken ‘n veearts wat spesifiek met die probleem van stadige permitte sukkel en werknemers in die wildtuin wat bevestig het dat die diere se inligting aan die moordenaars gevoer word.

faith ·

Ai dit is hartverskeurend. Ek hoop die skuldiges word gou opgespoor en die sleutel moet weggegooi word. Hulle moet ook gestroop word van hulle horings………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.