Foto’s: Groot beloning vir seuns wat hond red

Die Labrador Champ saam met Zubenathi.(Foto: Jackie Wernberg Photography)

Die vyf jong seuns wat verlede week ure lank geloop het om ʼn uitgeteerde hond na die Animal Welfare Society (AWS) in Philippi, Kaapstad, te vat, is vandeesweek in oorvloed beloon vir hulle daad van welwillendheid.

Maroela Media het vroeër berig dat die groep, wat die Magnificent 5 gedoop is, die verwaarloosde hond op 8 September onder ʼn bos langs die straat gekry het. Hulle het van voetpaadjies tot besige paaie getrotseer om die Labrador Champ by die AWS te kry vir behandeling.

Toe Allen Perrins, kommunikasiehoof van AWS, die sewejarige Zubenathi gevra het waarom hulle Champ gered het, het hy gesê dat ons honde moet beskerm, want hulle beskerm ons.

Sedert die groep se onbaatsugtige daad is talle gemeenskapskenkings aan die seuns en Champ oorhandig om hulle te bedank en te bederf.

Vondi’s Holistic Pet Nutrition en Regal Pet Health SA het kos en lekkernye vir Champ geskenk om hom op sy pad na herstel by te staan en hom weer spekvet te kry.

“Champ het al gewig opgetel, sy allergieë is behandel en ons het die bosluise van hom verwyder. Hy sal oor ʼn maand of só gereed wees vir aanneming,” sê Perrins.

Die Labrador Champ.(Foto: Jackie Wernberg Photography)

Die seuns en hul families is Woensdag met ʼn trollie vol inkopies bederf wat deur Rosmead Super Spar geskenk is.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring,” sê Perrins. “Tot op daardie oomblik het die seuns en hul families nie geweet wat gaan gebeur nie. Die mammas was in totale ongeloof en een van die ma’s was so emosioneel dat sy in trane uitgebars het.

“Een van die merkwaardigste dinge was dat die seuns nie met hulle ma’s gestry het oor soetgoed nie. Hulle was gelukkig om hulle te los om te koop wat hul gesin nodig het.

“Dit was een van die gelukkigste en beste dae van my lewe en ek dink ek praat namens almal wat ook by die geleentheid betrokke was,” sê Perrins.

Pick ʼn Pay het die seuns ook verras met nuwe klere, ʼn waterbottel, ʼn sokkerbal, inkleurstelle en boeke, klei en lekkernye.

“Hierdie verhaal het ons daaraan herinner dat ons nooit moet ophou om ons plaaslike helde te identifiseer en erkenning aan hulle te gee nie,” sê Suzanne Ackerman-Berman, transformasiedirekteur by Pick ʼn Pay.

“Hierdie jong kinders se instink het hulle gelei om die regte ding te doen, en ons wou hulle erkenning gee en daarvoor beloon. Ons hoop dat die seuns se optrede meer mense sal inspireer om hul harte te volg.”

Pick ʼn Pay het ook sakke troeteldierkos aan AWS oorhandig wat deur klante geskenk is.

Elke seun het ook met ʼn nuwe paar skoene van Tekkie Town weggestap en ʼn lees- en aktiwiteitsboek van die reeks Hero in my Hood-aktiwiteitsboeke.

“Hoewel die seuns gewillig was om die inkopies vir die ma’s te los, het hulle daarop aangedring dat hulle Adidas-skoene soek,” lag Perrins.

“Een van die seuns hoop om eendag ʼn bekende sokkerspeler te word so hy hoop hy kry ʼn paar Adidas-sokkerstewels.”

Pick ʼn Pay het ʼn heldtoekenningsertifikaat aan die Magnificent 5 oorhandig, waarna Champ en die seuns herenig is.

“Die fokus was aanvanklik op die seuns en hul ma’s; daar was dus redelik baie mense by die prysuitdeling, maar toe Champ vir Zubenathi sien, het hy hom dadelik herken en na hom toe gehardloop,” vertel Perrins.

“Zubenathi is die kleinste van hulle almal, maar Champ het op hom gespring en hom amper omgestamp. Zubenathi het toe sy klein arms om Champ gegooi en hom twee keer op die neus gesoen.”

Die seuns was verbaas om Champ skoon en opgewonde te sien. “Sy houding was heeltemal anders as ʼn week terug. Hy was gelukkig en opgewonde en die seuns het hom heeltyd gevryf.”

Perrins erken dat hy en ʼn paar ander mense by die geleentheid trane moes wegsluk toe hulle die reünie gesien het.

“Die impak wat hierdie klein helde se spontane geneentheid teenoor Champ gehad het, was oorweldigend en een van die vele redes waarom ons glo dat hierdie verhaal aanklank gevind het by diereliefhebbers oor die wêreld heen.

“Die seuns het nie verwag dat hulle só beloon sou word nie. Hulle het dit gedoen uit liefde en besorgdheid oor die welstand van die hond. Ons hoop dat almal wat die storie lees daarna moet streef om dieselfde te doen.”

Die seuns gaan na verwagting nog baie skoene ontvang en het self besluit om hierdie skoene met ander minder bevoorregte kinders te deel.

Perrins hoop dat iemand die seuns onder hul vlerk sal neem om hulle die kans te gee om hul drome uit te leef. Zubenathi wil ʼn sanger word en die ander vier seuns wil onderskeidelik ʼn veearts, prokureur, polisieman en sokkerspeler word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Oom Hennie Pennie ·

Wat ‘n pragtige storie van bemoedigeing en omgee.

RS ·

Fantasties dat dit so goed gaan met woef, maar nog meer merkwaardig is dat die kinders wat n goeie daad gedoen het en onbaatsugtig was beloon is. Dis goeie nuus vir n verandering en ek hoop dat die tipe van optrede deur die kinders aansteeklik sal wees nie net in hul gemeenskap nie, maar dat dit wyer sal uitkring. Ons het meer van die goeie nuus stories nodig. Dit moedig mense aan.

Harold ·

Sjoe ! Met so n jeug is daar tog hoop vir ons land se toekoms !!!

Heksieperfeksi ·

Bring trane na my oe, wys my daar is nog hoop vir mensdom. Well done boys,,may your compassion and kindness be with you always.

Elsabe ·

Ek huil oor die mooi en onbaatsugtige handeling van die kinders. Dis ‘n bitter mooi storie in ‘n land vol wanhoop. Mag jul 5 se drome waar word.

Eerlik ·

Mag hierdie storie ook ander inspireer om beter op te tree teenoor diere. Ons regering voel vere vir diere beskerming en hul welvaard. Dis n wonderlike storie, ek is bly daar is so groot ophef gemaak vir die 5 seuns.

Strandloper ·

Whow! Dink net as ons almal die seuns se voorbeeld volg wat n wonderlike plek ons land sal wees. Welgedaan aan die pragtige kinders!

Eugene ·

Uiteindelik iets goeds in die land wat mens sommer weer moed gee vir die toekoms. Welgedaan aan die seuns hou so aan en n blink toekoms lê voor

Ronel ·

Baie grootmense kan n les by die kinders kom leer. Mag hul drome bewaarheid word.

Elmarie ·

Pragtig! Hul stel nou voorbeeld vir maats en andere en so leer hul dis moeite werd om diere te help. Dankie vir al die omgee, so sal mens, stadig maar seker, dieremishandeling help omkeer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.