[Foto’s] Groot probleme by Grootfontein  

Foto: AfriForum Jeug.

Daar blyk nie veel uitkoms te wees vir studente van die Grootfontein Landboukollege in Middelburg nie.

Talle ontevrede studente het verlede week begin om uiting te gee aan hul misnoeë oor die verblyftoestande by dié kollege uiting deur ’n varkhok voor die ingang van die kollege op te rig.

Dié protesaksie het gevolg nadat herhaalde pleidooie deur AfriForum Jeug en studente aan Tino Herselman, direkteur van die kollege, op dowe ore geval het. Die jeugorganisasie het ook versoek dat studente se griewe onder Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, se aandag gebring word tydens sy onlangse besoek aan die kollege. Geen terugvoer is tot dusver ontvang of dit wel gebeur het en of daar opgetree gaan word nie.

“Die bestuur dring daarop aan dat ons die regte kanale moet volg om ons klagtes aan te meld, maar wanneer ons dié kanale volg, kry ons weinig tot geen reaksie nie. Indien die bestuur wel ’n klagte aanspreek, bied hulle slegs tydelike oplossings,” sê Jan-Hendrik Goosen, voorsitter van AfriForum Jeug se Grootfontein-tak.

Maroela Media kon daarin slaag om Herselman in die hande te kry, maar hy wou nie kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie. Hy het alle medianavrae na die departement van landbou, bosbou en visserye verwys.

Ná verskeie herhaaldelike pogings om kontak te maak met die departement, asook beloftes van terugvoer, het Maroela Media egter steeds geen terugvoer ontvang nie.

Volgens Marike van As, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Universiteit van die Vrystaat en Grootfontein Landboukollege, is die verblyftoestande egter nie die enigste probleem by dié kollege nie. Daar is ook probleme soos swak bestuur van die koshuis en sewe opleidingsplase, onregverdige afdwinging van transformasie en miskenning van taalregte. Sy sê AfriForum Jeug en verskeie studente is ook bekommerd oor die gehalte van onderrig by dié kollege.

“Die staat druk vir grondhervorming, maar die instansies waar jong boere opgelei moet word, gaan ten gronde. Dit blyk dat die privatisering van hierdie instansies die enigste alternatief is indien die politieke wil nie daar is om huidige probleme aan te spreek en op te los nie. Ons wil hê Grootfontein Landboukollege moetweer een van die beste in die land wees,” sê Van As.

Van As vertel van ʼn vergadering wat op 13 Maart met Herselman, ouers en studente gehou is waarby sy ook teenwoordig was. “In die vergadering is daar gesels oor die klagtes oor die verblyf asook die akademiese aangeleenthede. Gedurende die vergadering is daar talle beloftes gemaak, onder meer dat ʼn sekere toets waaroor die studente bekommerd was omdat hulle nie die werk verstaan nie, eers uitgestel sou word tot daar behoorlike klasse in Afrikaans aangebied kon word. Daardie toets het toe wel plaasgevind. Ek het op 17 Maart vir Herselman ʼn brief oor die vergaderings geskryf en alle bewyse aangeheg,” het Van As gesê.

Van As het op 27 en 31 Maart met Herselman opgevolg toe sy geen terugvoer ontvang nie. Sy het eers op 3 April terugvoer ontvang. “Daar is hoofsaaklik aandag gegee aan die akademiese klagtes en nie aan die verblyfklagtes nie. Die kollege het sewe miniplase en studente leer dan boer op een van hierdie plase. As gevolg van inmenging van ʼn vakbond is die befondsing van dié plase gevries en kon daar nie verkope of aankope gedoen word nie – dit sluit die voer en enting van die diere in.

“Herselman kon gelukkig die kwessie oplos. Hy het ook teruggeskryf dat daar nou ʼn tolk aangestel is. Die bogenoemde toets waaroor die studente gekla het, kon glo ook oorgeskryf word as hul punte swak was. Die taalbeleid van die instansie is verander, maar die studente was veronderstel om nog dié jaar in Afrikaans te kon voltooi,” het van As verduidelik.

Verder het daar glo klagtes van ouers gekom dat die foto’s op die instansie se webtuistes ou foto’s was en dat dit glad nie meer so lyk daar nie. “Die dag wat ons hulle gaan besoek het, was ek in een van die badkamers langs die klaskamers – dis die badkamers wat besoekers ook moet gebruik – dis absoluut verskriklik,” het Van As gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

jean ·

Niks gaan nooit weer gebeur………fighting a losing (lost) battle..

Rina Pretorius ·

HIERDIE LYK NA MOEDSWILLIGE SAAKBESKADIGING DINK EK. ALLES SO VERNIET OM AANDAG TE TREK. HOEKOM SPRING DIE STUDENTE NIE SELF IN EN MAAK MOOI EN REG NIE. HULLE IS LANDBOU STUDENTE EN HULLE HOU NIE EERS DIE GRAS MOOI NETJIES NIE, STAAN SAAM EN HELP UIT WANT GELD IS NIE MEER DAAR VIR ALLES NIE ONS REGERING GAAN HONGER SLAAP AS HULLE DAAI PLEK MOET LAAT REGMAAK

Rudolph ·

Ek stem saam. Hier is ‘n goeie geleentheid vir studente wat eendag hul eie gebou en omgewings in stand gaan hou om te ervaar wat dit behels. Om hantjies gevou te wag dat iemand anders iets gaan doen gaan nie resultate oplewer. Doen eerder self iets daaraan. Aksie is soms aansteeklik

Ouvrou ·

Nogals, en waar moet die arme studente geld kry om die plek mee instand te hou? Hulle betaal tog reeds om daar te studeer.

humor ·

Is alles, absoluut alles in hul hande dan gedoem tot n mislukking?

Pedro Heller ·

A-nee-a! Hoekom lyk dit so sleg? Hierdie studente is die toekomstige plaasboere, en hulle kan nie eers ‘n bietjie instandhoudingswerk doen nie!
Nee wat , haal julle hande uit julle broeksakke uit en vat beheer oor julle omgewing!

Oud-Pampoen ·

Die Landboukollege in Potch, lyk net so sleg. Ek is ‘n oud student en was geskok oor hoe baie afgebreek is. Die studente van vandag beslis nie ingestel op vooruitgang en volhoubare produksie. Ek het soveel geleer daar, jammer dat jongboere nie meer dieselfde geleentheid het nie.

Sputnik ·

Hoewel ek nie vir ‘n oomblik dink dat die studente nie sal omgee om ‘n bietjie te help met instandhouding as die materiaal, morele ondersteuning en leierskap verskaf word en die werk NIE inbreuk maak op hul studies nie, is hul hoofverpligting tog om te studeer. Instandhouding is NIE hul verpligting nie. Dit is die staat se verpligting, maar nou ja, ons sien mos hoe dit gaan. Jare gelede was dit ‘n spogkollege gewees – my oom was daar die hoof.

Gert ·

Nee. Dis een van hulle modules daai, n tiepe van toets om hulle phd in plant te kry. Die module se naam is boer maak n plan.

Middies ·

Altyd 2 kante van ‘n saak. As geboue sleg lyk beteken nie die opleiding is swak nie. Vandalisme vind gereeld daar plaas en in die dorp deur die studente. Hoe kan hul kla as hul self die deure afskop en sekuriteit toestelle breek en dronk studente nie agter hulself skoonmaak nie? Die stoor is hulle stoor vir hulle goed. Ek wonder hoekom het hulle nie fotos van hul kamers op nie, want dit is nog meer deurmekaar en varkhokke. Mense in glashuise moet nie klippe gooi nie. Moenie net ‘n hele instansie, personeel en al, sleg sê en verdoem nie. Dit blyk of jul die plek wil toemaak. Ondersteun hul eerder, kom met werkbare oplossings sodat die kollege kan voortgaan. Dis maklik om te kla en niks te doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.