[Foto’s] Groot skade na kitsvloede in Heidelberg

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Dele van Heidelberg in Gauteng, wat sedert Dinsdagaand sonder elektrisiteit is na swaar reën en gevolglike kitsvloede die gebied getref het, sal moontlik vandag weer krag hê.

Volgens berigte het dit binne 30 minute omtrent 70 mm gereën. Mandy Wieben Liebenberg, ʼn inwoner van Heidelberg, het aan Maroela Media vertel hulle het Dinsdagaand omstreeks 20:30 gereed gemaak om te gaan slaap toe dié verskriklike reënbui uitgesak het.

“Hier by ons in Jordaanpark, het ons omtrent 61 mm gemeet, maar elders op die dorp het mense tot 85 mm gemeet,” het Wieben Liebenberg gesê. “My man is deel van die GPF en ons het net ewe skielik al hierdie boodskappe op die groepies begin kry van mense wat hulp soek. Ons het, saam met ʼn hele span, mense tot laat bygestaan. Sommige mense se huise is heeltemal oorstroom en die kindertjies moet Woensdag weer skool toe. Een van my vriendinne het ons almal bymekaargekry en ons samel nou skryfbehoeftes en skoolklere in vir dié kinders.”

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Arthur Thokoane, woordvoerder van die Lesedi-munisipaliteit, het gesê die kitsvloede het ernstige skade aan huise en munisipale geboue aangerig.

“Paaie is weggespoel, stormwaterafvoerpype is geblokkeer en elektrisiteitspale het omgewaai. Huise naby die Blesbokspruit het oorstroom, terwyl ander huise se dakke afgewaai is.” Die storm het ook tot gevolg gehad dat groot gebiede sonder elektrisiteit gesit het.

Volgens Thokoane is redding- en tegniese spanne onmiddellik ontplooi om paaie en stormwaterafvoerpype skoon te maak, gebarste pype te herstel en die elektrisiteit te probeer herstel. “Die skade is geweldig weens die omvang van die storm en daarom sal dit langer neem om alles te herstel.”

Inwoners kan die inbelsentrum tydens kantoorure bel op 016 330 0400 of na-ure by 016 341 3116.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mariné Lourens ·

Dagsê TS

Ons vra om verskoning vir die verwarring. Dit is Heidelberg in Gauteng. Die berig is gewysig om dit aan te dui.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Ekke ·

Ek hoop van harte dat die mense wat skade gekry het deur die vloed dat hulle versekerring het en gedek is op al daardie skade. Ek het n lelike stel afgetrap met n bekende versekerringsmaatskappy. Baie sterkte aan almal wat n verlies het deur die vloede.

CHRISTA ·

Ek lees dat selfs van die huise se dakke afgewaai is; was dit ‘n gewone storm of dalk ‘n tornado of orkaan?

Realiteit ·

Kan ek voorstel “kitsvloede” word eerder “blitsvloede” genoem? Wie stem saam?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.