[Foto’s] Gru-botsing in Vrystaat eis ses

Die motor se wrak. Foto: Verskaf

Ses mense is dood in ʼn gru-botsing laat Donderdagaand op die N3-snelweg in die Vrystaat.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê ʼn motor en ʼn vragmotor het by die Montrose-afrit, sowat 30 km buite Harrismith, gebots.

“ʼn Motor met vyf volwassenes en ʼn kind wou in die Montrose-pad indraai toe die swaarvoertuig die motor teen die kant getref het,” het Botha gesê.

Vier van die mense in die motor was reeds dood toe paramedici en die brandweer omstreeks 23:40 by die toneel opgedaag het. “Die kind en nog ʼn volwassene was in ʼn kritieke toestand. Paramedici het onverpoosd gepoog om hulle te stabiliseer terwyl die brandweer almal uit die verfrommelde wrak gesny het.”

Die volwassene en die kind is na ʼn hospitaal in Harrismith geneem waar hulle aan hul beserings beswyk het.

Die polisie ondersoek die ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Hierdie lyk vir my na ‘n moedswillige ongeluk, kla die bestuurder van die vragmotor aan

Tanya ·

@Johann, jy was natuurlik daar om te kon sien presies wat gebeur het, neh. Ek hoop die mense rus in vrede. Het self my ouma en my kind in ‘n ongeluk verloor. Daar is nooit antwoorde nie al soek mens hoe hard.

Fanie ·

Verduidelik asseblief hoe jy tot hierdie wonderbaarlike gevolgtrekking gekom het? Lyk vir my asof die motor voor die vragmotor ingedraai het.

Wessel ·

Ek weet ook nie hoe kom jy by daai gevolgtrekking uit nie. Jou kommentare laat partykeer veel te wense oor! As jy daai pad goed genoeg ken, sal jy weet dit is n gevaarlike indraai na Mont Rose. Vir die verkeer van Durban se kant af, is daar n draai na links en n afdraende wat dit moeilik maak vir vragmotors om n noodstop te doen, sou van die aankomende verkeer voor hom indraai na Mont Rose.

Scalla ·

Johann, waar val jy uit, ek weet dis Vrydag, is die boeing al oor daar by jou, die motor moes voor hom ingedraai het, die vragmotor se voorkant en die motor se sykant is beskadig. Cheers

Tiaan ·

Van die swaarvragmotor-bestuurders is dodelik intimiderend. Hulle voel ‘n veer vir mense in ander motors. Wag gister by ‘n rooi robot by ‘n groot kruising. Agter my, staan ‘n swaarvragmotor. Die bestuurder ry letterlik tot teenaan my motor, blaas op die toeter en forseer my so om in die kruising in te beweeg – die lig vir ons nog steeds rooi. Hulle word ‘n wet op hul eie- net soos die taxis. Die boosheid neem oor in ons land.

Ian ·

Baie hartseer. Ek ry baie die pad. As jy daar wil indraai ry jy reg voor die verkeer in. Mense vat kanse en dink n trok ry stadig. BAIE ONGELUKKE OP DAAI PLEK. Moet regsdraai verbied op daai plek.

Jo ·

Daar is altyd onverskillige bestuurders op al die paaie, met die selfoon op die oor. Sê dankie as jy veilig gery het.

Liza ·

Dis waar die groot trokke voel vere vir jou ….. hulle jaag soos duiwels met daardie trokke en jy het nie ‘n kans om te oorleef nie, en op die ou einde kom hulle niks oor nie…..so hartseer hierdie storie………

Johan ·

Ek wonder of diè wat die trok summier beoordeel al self so swaarvoertuig bestuur het. Baie motoriste besef nie hoe hulle kanse neem met ondeurdagte maneuvers nie- verbysteek en in hul volgafstandspasie induik is maar een vd. Daar is volgens ‘n radiostasie sprake dat die motor ‘n u-draai gemaak het. Die fotos wys motor het vóór die vragmotor beland. Wat ook al gebeur het, daar is ‘n klomp onnodige reperkussies agv 1 onnosele onverskillige handeling. Terloops, ek is nie ‘n trokdrywer nie maar ‘n motoris wat aan trokke hoflikheid betoon.

sharon ·

Blykbaar vergeet meeste v julle dat die vragmotors deesdae tracking devices in het. Dus… Enigiets kon daar gebeur het. Mense is dood… Dit is erg genoeg vir daardie families. Sterkte aan die naasbestaandes

Kobus Viviers ·

Mense vergewis julle eers van die feite voordat ongekwalifiseerde uitlatings gemaak word. Die motor het n u- draai in die pad gemaak en sodoende voor die vragmotor beland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.