Foto’s: Gru-ongeluk bring N3 tot stilstand

Foto: @Kwagga07 op Twitter.

Foto: @Kwagga07 op Twitter.

Die N3-snelweg in albei rigtings tussen Montrose en die Tugela-tolhek is Vrydag vir verkeer gesluit ná ongelukke in die Van Reenenspas.

Russel Meiring, ʼn woordvoerder van ER24, het Vrydag in ʼn verklaring gesê sover vasgestel kan word is vier mense dood en 14 is beseer.

“By die eerste ongelukstoneel het ʼn vragmotor geknipmes en teen ander voertuie gebots,” het Meiring gesê. “Sewe mense het geringe en matige beserings opgedoen.” Die beseerdes is op die toneel behandel.

Paramedici was besig om pasiënte van die eerste toneel in ambulanse na nabygeleë hospitale te neem toe hulle op ʼn tweede ongeluk afkom. “By dié toneel het die liggame van vier mense in die middel van die pad gelê. ʼn Vragmotorbestuurder het glo beheer verloor oor die voertuig en in verskeie ander voertuie ingeploeg.” Die vier mense was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Sewe ander mense is beseer.

Volgens Andy Visser, ʼn woordvoerder van die N3-tolkonsessie, is inligting oor die ongeluk nog skaars, maar kan hulle bevestig dat verskeie voertuie betrokke was. “Die verkeer is baie druk en beweeg baie stadig,” het Visser gesê.

Die eerste ongeluk het omstreeks 08:00 plaasgevind. Verkeer in die omgewing was teen 12:30 steeds erg geraak.
Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, kon nie onmiddellik meer inligting oor die ongeluk bekendmaak nie. Hy het gesê die ongelukke is moontlik veroorsaak deur swak sigbaarheid weens mis. Die ongelukke het glo tot nog ongelukke gelei. Aanvanklike inligting dui daarop dat 25 voertuie betrokke was. Meer as die helfte daarvan behels swaarvoertuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lindie ·

Vragmotors en nog meer vragmotors. Hulle ry soos taxi’s en dink omdat hulle sulke groot goed ry hulle kan ry soos hulle wil want hulle gaan nie seer kry indien iets gebeur nie. Nee o genade ons.

Eric ·

Dit het als met korupsie te doen. Eerste koop die bestuurder sy lisensie, tweede word die trok deur rodworthy gekoop, derde – die einaar van die trok huur die goedkoopste bestuurder wat hy kan eerder as die beste bestuurder. Daar is geen meer wet nie want die wet is die meest korup!

Babs ·

Baie van die vragmotors/afleweringsvoertuie is op kontrak by maatskappye. Word gewoonlik per vrag betaal. Nou jaag hulle sodat hulle soveel as moontlik vragte kan inpas. Moet eintlik nie voor 9h00 en na 16h00 op hoofpaaie toegelaat word.

Sophia Eva ·

My eerlike mening en ondervinding van Van Reenens Pas. WAT SOEK DIE KARRE IN DIE VRAGMOTER BAAN???? Mense raak ongeduldig omdat mens by die spoed hou wat Van Reenen bepaal en dink hulle is slim deur in die vragmoter baan mens verby te steek. Almal weet hoe gevaarlik Van Reenen is, maar is haastig, want hulle dink die see gaan weghardloop. Daarom is dit gerieflik om liewer onverskillig te wees en die vragmoter drywers die skuld te gee, wetende dat so n swaar voertuig nie onmiddelik kan stop nie.

2Roedolf1 ·

Donderdag oggend 1Hoo R28 sebokeng stop ek as swaervoertuig bestuurder by n vier rigting STOP volg al die reels ,amper oor die kruising kom VW golf uit sebokeng sonder om te stop tref my voertuig so hard dat die diff en chassis gebuig is .wat se spoed het hy gery So kom ons volg almal die pad reels dan gebeur van reenen en die R59 glad nie

charles ·

Ek vind dit amusant dat trok drywers altyd beskuldig word wanneer daar n ongeluk plaas gevind het. Ongelukkig wat meeste kar bestuurders nie besef en baie keer eers laat agterkom is dat n gelaaide trok 50 plus ton weeg en jou kar net 1 tit 2 ton. Wanneer die trok op spoed is kan dit nie soos n kar vinnig tot stilstand kom nie. By stop strate kry ek gereeld karre wat voor my inswaai enkele meters van n stop. As ek nou daai kar sou stamp wie se skuld is dit. Maar ja daar is baie voertuie wat onpadwaardig is, trokke en karre en pad reels geld deesdae nie eers meer vir die verkeers beamtes nie.

Juan Melvin ·

Regoor die wêreld is daar ‘n phenomena wat vir my 1 + 1 = 3 gee. As ‘n trok ‘n ongeluk veroorsaak volg daar gewoonlik soortgelyke gevalle plaas met ander trokke?,Treine wat bots of ontspoor volg daar ook soortgelyke insidente en so kan ek aangaan. Probeer Moeder aarde vir ons iets sê, of is dit blote toeval .of dalk Karma .

Bev Uys ·

Trokke en hulle bestuurders moet meer deeglik getoets word vir padvaardigheid en die bestuurders vir bestuurs vernuf, dit is deesdae ‘n groot probleem op ons paaie bestuurders wat nie PDP’s het nie en is nie ordentlik opgelei om so groot trok te bestiur nie, maar word toegelaat op ons highways en biways. Pleks die verkeers personeel meer aandag aan dit bestee en dronk bestuurders, en ook oorgelaaide Taxi’s sal ons paaie meer veilige wees, maar hulle worry oor onbenullige goedtjies

Jasper ·

Dis maklik om die vinger te wys na vragmotor bestuurders, nie so maklik om erken dat die meeste van die bestuurders met hierdie spog motors geen respek het vir ander pad gebruikers nie. Begin elk by homself voor jy vinger na ander wys. Geen opleiding gaan n vragmotor bestuurder help as onbedagsame padvarke soos wafferse James Bonds ry en dink die pad behoort net aan hulle nie, kom aan, mense kom by!!!

Hans Drom ·

Ons regering is die oorsaak dat ons infrastruktuur in duie stort. Spoor vrag moes meeste van die goedere vervoer het soos in die verlede, maar nou is dit vragmotors wat ons paaie oorvat en stukkend ry.

Robin ·

Weet julle ne ek werk vir ‘n insleep maatskappy wat spesialiseer in Trokke ens… En dis nie altyd die vragmotor bestuurder se skuld nie. ek het al gesien op die pad hoe karre ens net voor hulle in draai … “n Vragmotor kan nie so vinnig stop soos ‘n voertuig nie, veral nie as die vragmotor ‘n vrag op het nie….. Dink eers voor julle net aantuigings gooi!

Patat ·

Ek stem saam. Die meeste motorvoertuigbestuurders bestuur met ‘n “houdinkie”. Hulle bestuur tog so “cool”. Min verstand!

Marinda ·

Ek ry gereeld daardie pad en vroegoggend is daar altyd mis wat sigbaarheid baie moeilik maak. En ek stem so saam met Patat en Robin en Sophia. Die meeste motorbestuurders dink nie daaraan dat ‘n groot trok met ‘n swaar vrag nie so maklik beheerbaar is soos jou grênd BMW of Mercedes nie. Daar is heel waarskynlik vragmotorbestuurders sonder die nodige lisensies, PDP en ondervinding, maar die gevolge van so ‘n waagstuk vir die bestuurder sowel as die eienaar van daardie voertuig is baie negatief.
Ek stel voor dat ons almal ons deel moet doen vir veiligheid op die pad. Gehoorsaam die padreëls GEE DIE VRAGMOTOR OOK ‘n KANS en moenie kanse waag nie. Soos ‘n vorige person gesê het: die see gaan nie weg nie. EN kom liewers LAAT as NOOIT!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.