Foto’s: Gru-ongeluk in JHB

'n Foto van die toneel. Foto: Ridz @ridz801/Twitter

‘n Foto van die toneel. Foto: Ridz @ridz801/Twitter

Nooddienswerkers en paramedici van verskeie ambulansdienste is op ʼn toneel van ʼn gru-botsing in Alberton, Johannesburg, waar ʼn vragmotor tydens spitsverkeer in verskeie voertuie op die N12-snelweg ingeploeg het.

Santie Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het aan Maroela Media gesê die ongeluk het omstreeks 07:30 in ʼn oostelike rigting naby Voortrekkerweg plaasgevind.

“Die toneel is steeds chaoties,” het Steinmann gesê. “Ons het onbevestigde berigte ontvang dat twee vragmotors en tussen 20 en 30 voertuie in die ongeluk betrokke was. Talle mense is beseer. ʼn Helikopter van Netcare 911 is ontbied om ʼn kritiek beseerde pasiënt na ʼn nabygeleë hospitaal te neem.” Steinmann het gesê dit is in die stadium nie bekend of iemand oorlede is nie.

Russel Meiring, ʼn woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê volgens inligting wat hulle ontvang het, het die bestuurder van ‘n vragmotor glo beheer oor die swaarvoertuig verloor en in nagenoeg 22 voertuie ingeploeg. “Daar is berigte van ʼn paar mense wat dood is, en verskeie mense is beseer,” het Meiring gesê. “Die beseerdes word op die toneel behandel en word na verskeie hospitale in die omgewing geneem vir verdere behandeling.”

William Ntladi, ‘n woordvoerder van Johannesburg se nooddienste, het gesê twee mense is sover op die toneel dood verklaar.

Steinmann het motoriste versoek om die gebied te vermy en het motoriste wat tans in die verkeer vassit, gevra om geduldig te wees. “Ons versoek motoriste om asseblief uit die noodbaan te bly sodat noodvoertuie vrylik na en van die toneel kan beweeg,” het sy gesê.

Kyk na die video van die Alberton-ongeluk.

Die foto’s is onder andere deur Ridz @ridz801 en The Mouth @Of_The_South op Twitter gelaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Stuiwer ·

Maroela, ekskuus as ek ‘n pyn is, wil net sê dat julle vergeet het om ‘n koppelteken na “na” in die laaste sin te sit.

Groete

Nico Strydom ·

Beste Stuiwer

Dankie vir jou terugvoer. “Onder meer” is inderdaad volgens die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls twee woorde. Jammer hieroor – ons het dit reggestel. “Na en van die toneel” is egter reg geskryf. Indien daar ʼn koppelteken na die “na” was, sou dit beteken dat dit ʼn afstandsverbinding vorm met “die toneel”, wat dan eintlik sou beteken “na-die toneel”, wat nie korrek is nie. So ʼn afstandsverbinding sou wel gebruik word in ʼn konteks soos “appel- en lemoensap”, wat dan eintlik met die afstandskoppelteken gelees word as “appelsap en lemoensap”. Dis dus korrek volgens Afrikaanse taal- en spelreëls.

Vriendelike groete,
Maroela Media

Stuiwer ·

Dankie vir die terugvoering Nico.

Dit het wel met die afstandsverbinding met “die toneel” te make, maar soos voorheen gesê berus ek my nou maar, en sal in die vervolg probeer om myself in te hou. Dit was glad nie my bedoeling dat daar ‘n onvriendelike debat op julle blad moes ontstaan nie, en ek vra om verskoning daarvoor.

Vriendelike groete.

Louis ·

Stuiwer, jy is gladnie `n pyn nie ……. Jy is `n pyn in die gat !!!!
Hierdie is `n nuus berig en nie `n Afrikaanse spel klas nie !
ASSEBLIEF !!!!!!!!!!!!!!!

Stuiwer ·

“vrylik na- en van die toneel”
nuusberig
Afrikaanse-spelklas

Di’s jammer dat goeie bedoelings negatief opgeneem word. Dit is maar net hinderlik om berigte met spelfoute te lees, en voorwaar glad nie opvoedkundig nie.

Ek berus my nou maar. Laat die volk dan nou maar op elke vlak vervlak word.

Stuiwer ·

En “glad nie” is twee woorde, en van nou af lees ek eerder die Ditsem. Dit is die ènigste Afrikaanse-nuusblad sonder spel- en taalfoute.

Hez ·

“Stuiwer” Dalk moet jy teruggaan skool-toe? Of kry werk vir jou hande. GLADNIE, is reggespel en getik, dis EEN woord!

Stuiwer ·

Hez, “glad nie” is twee woorde. Bewys my verkeerd asseblief.

Dit is beter om sil te bly as mens nie weet waarvan mens praat nie.

Leeutjie ·

Ai Maroela hoekom het julle nie maar die woord geensins i.p.v. gladnie gebruik nie. Ons is nou in ‘n totale taal debat! In Afrikaans praat ons van “ek hou gladnie van jou nie” en “is die pad nie glad nie”? Het gladnie nie twee betekenisse nie Stuiwer? Jy is mos die slim ou hier!

anet ·

My Opinie in verband met die gru-botsing;
1. Te vinning gery
2. Onpadwaardigheid van Voertuig
3. Bestuurder moontlik nie bevoegd om Voertuig te bestuur nie ens.

Jammer vir al die beseerdes en onskuldige motoriste, almal was oppad na hulle werk en wat ‘n ontnugtering en skok.

Simpatie aan die familie van die mense wat die botsing nie oorleef het nie

Winnie van der Merwe ·

Kan jy dit glo? Mense het vanoggend gesterf maar daar word baklei oor spelfoute……dit bevestig net die feit dat ons as mensdom ongevoelig geword het……bid eerder vir die onskuldige slagoffers!!

Alicia Smith ·

Ja nee wragies, kan nie glo dat mense so laag kan daal dat hul meer gepla is oor spelfoute as die feit dat daar groot ongeluk was en dat baie mense seer gekry het en selfs dood is. Pateties!

Martie ·

Ons het Sondag van Pretoria af terug gekom huistoe daar was gewerk op die hoofweg waar ons geduldig gewag en stadig beweeg het kom die bloulig bende en 3 ander voertuie ook in noodbaan verby gejaag hulle het nie n saak nie ry net en almal moet uit hulle pad bly.Na lang gewag draai ons af by n garage en wragtig hier staan die bloulig bende en gesels en koeldrank drink met iemand agter wat ek glad nie herken nie maar hy le,sit en slaap te lekker nou vra ek hoekom moes hulle so jaag in die eerste plek.

lekker man lekker.... ·

Stuiwer…. as jy wil kla oor spelfoute moet dan nie self in jou kommentaar spelfoute maak nie….. want ek sien jy se mense moet “sil” bly as hul nie weet waarvan mens praat nie. Dit is ‘n pyn om kommentaar te lees met spelfoute in….

Magriet ·

ek dink regtig ons moet ophou om onder mekaar te baklei en eerder te bid vir die mense, ten alle tye wens ek dat mense maar eerder slegte komentaar oor woorde en spelling ens vir hulself wil hou. Hierdie blad is vir inligting en nuus, indien jul nie daarvan hou hoef jul mos nie die blad te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.