Foto’s: Haelstorm veroorsaak skade in Oos-Rand

Die verkeersopeenhoping op die N12 (Foto: Sanral)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Vrydag ’n vlak 2-waarskuwing van swaar donderstorms vir dele van Gauteng uitgereik.

Hael, sterk winde en swaar reënval word tot vroegaand verwag. Dele aan die Oos-Rand waaronder Benoni en Alberton, asook die suide van Johannesburg, het vroeër vanmiddag reeds deurgeloop onder ’n erge haelstorm. Die stormweer het ook ’n verkeersopeenhoping op die N12 in Gauteng veroorsaak.

Foto’s en video’s stroom in op sosiale media oor die haelstorm in Benoni en kitsvloede in Alberton. Vloedskade is hier aan ’n hospitaal aangerig.

Dit blyk egter dat die ergste teen vanaand vir dié dele verby sal wees.

Volgens die weerdiens word hael, sterk wind en swaar reënbuie later vandag in dele van Noordwes en die noordooste van die Vrystaat verwag.

Mbavhi Maliage, ’n weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het aan Maroela Media gesê hoewel reën oor die naweek vir Limpopo en Gauteng verwag word, is geen ander waarskuwings tot dusver vir die res van die naweek uitgereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.