Soorte resepte:

Foto’s: Hier is die Boereworskampioen!

Olivier Kritzinger, Boereworskampioen 2016 van Shoprite/Checkers

Olivier Kritzinger, Boereworskampioen 2016 van Shoprite/Checkers

Shoprite/Checkers het Donderdag die Boereworskampioen op Robbeneiland bekend gemaak ná ʼn grappige Blitzbokke-wedstryd.

Olivier Kritzinger van Joubertina in die Oos-Kaap is as die Boereworskampioen gekroon met sy wenresep van “goeie gehalte vleis en goeie speserye”.

Dit is die 24ste Boereworskampioen wat deur dié maatskappy aangewys word en die tweede keer in die geskiedenis van die kompetisie waar die publiek ook vir hul gunstelingresep kon stem.

Altesaam 584 persone het vanjaar hul resepte ingeskryf, en ná die resepte beoordeel is, is 541 resepte beoordeel tydens ses kampioenskaprondes in KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Oos-Kaap, Wes-Kaap en Gauteng.

Die top-18 ronde is op 23 Julie by Root 44 in Stellenbosch gehou waar die topdrie finaliste, Olivier Kritzinger (63), Winter Reaobaka Letlhogile (34) van Kimberley in die Noord-Kaap en Vukile Vincent Cele (35) van Britania in KwaZulu-Natal.

Die topdrie finaliste se boereworsresepte is tussen 19 Augustus en 9 September in Checkers-winkels beskikbaar gemaak sodat die publiek die boerewors kon koop, dit kan braai en dan vir hul gunsteling kon stem.

Die kenners van SACA (Suid-Afrikaanse Vereniging van Sjefs) wat die boereworsreseptebeoordeel het, was Thuli Gogela, Jenny Morris, Carmen Niehaus, Jeff Schueremans, Martin Kobald, Reuben Riffel en Pete Goffe-Wood.

“Die wenresep is vanaf 16 September landswyd in Shoprite en Checkers-winkels beskikbaar,” het Willie Peters, bemarkingsbestuurder van Shoprite/Checkers, gesê. “Dit is net betyds vir Erfenisdag – wat ook as Braaidag gevier word, en daarom het ons gedink dit is gepas om die kampioen juis by Robbeneiland bekend te maak. Rugby is natuurlik net so Suid-Afrikaans soos Boerewors, en ons is dankbaar dat die Blitzbokke, wat Olimpiese medalje-houers is, ook deel kon wees van die dag.”

ʼn Paar lede van die Blitzbokke, Dylan Sage, Seabelo Senatla, Stephan Dippenaar, Justin Geduld en Rosco Speckman, het ʼn vriendskaplike wedstryd op die eiland gespeel. Hul mededingers was Derek Hawk, “The Wors Whisperer”, Willie Peters van Shoprite/Checkers, Siv Ngesi (aanbieder van The Man Cave op SABC3), Wardah Hartley van eNCA, Sameer Naik van die Saturday Star, Adnaan Mohamed van Die Son en Lungani Zama van iOL. Percivale Young het as die skeidsregter opgetree.

Die rugbywedstryd was grappig, en die skeidsregter het elke paar minute die wedstryd gestop om self water te drink. Die Blitzbokke het ook hul kant gebring en dit was duidelik dat hulle bietjie moes lyf wegsteek om seker te maak dat die ander span ook ʼn paar drieë kon druk. Die skeidsregter het self in ʼn stadium die bal gehad en het op die doellyn afgepyl voor een van die Blitzbokke hom voorgekeer het.

Die wedstryd was 10 minute aan ʼn kant en is slegs oor die breedte van die veld gespeel.

“Ek kan definitief, sonder twyfel, bekend maak dit was gelykop,” het Percivale ná die wedstryd aangekondig.

ʼn Tjek van R50 000 is ná die wedstryd aan ʼn liefdadigheidsorganisasie van die Blitzbokke se keuse, Boks for Books, oorhandig.

Justin Geduld, een van die Blitzbokke, het daarna die voorreg gehad om ʼn goue rugbybal deur die pale te skop waarna Olivier se naam met ʼn groot vlag aangekondig is (loer gerus na die video onderaan die foto’s).

Olivier was merkbaar oorstelp van vreugde ná die aankondiging. Hy wou nie sy resep bekend maak nie, maar het gesê die geheim lê definitief in “goeie gehalte vleis en goeie gehalte speserye”. Dit is die 16de keer wat hy aan die kompetisie deelneem.

Olivier se passie vir die maak van goeie boerewors het hom oor die jare heen ʼn bekende gemaak in Joubertina. Hy het byna 20 jaar lank ʼn ouetehuis help bestuur en het uiteindelik ʼn slaghuis oopgemaak om die bejaardes te help toe hy gehoor het dat dié ouetehuis in ʼn finansiële verknorsing is. Boerewors wat met sy wenresep gemaak is, is by die slaghuis verkoop en binne twee jaar is die skuld van die ouetehuis afbetaal. Hy help steeds waar hy kan by dié ouetehuis.

Olivier stap weg met die titel as Boereworskampioen en het ook ʼn splinternuwe Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuitbakkie ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jakes ·

Google earth gaan hul kaarte aanpas aangaande Bloemfontein se ligging.

Sune van Heerden ·

Dagsê Jakes

Dankie vir jou terugvoer. Ons kan bevestig Winter Letlhogile is wel van Bloemfontein in die Noord-Kaap, dit is ‘n klein plaasgemeenskap. Dit is nie die groot stad in die Vrystaat nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Jakes ·

Dankie vir terugvoering Suné.
Tragies dat informele nedersettings en plakkerskampe die stadsname gebruik. Die stede en stigters wat nie politiek korrek is vandag.

Sune van Heerden ·

Dagsê Jakes

Ek vra groot om verskoning, daar was ‘n verwarring in die inligting wat Checkers oor die deelnemer uitgestuur het. Winter is eintlik van Kimberley in die Noord-Kaap, maar werk in Bloemfontein in die Vrystaat.

Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné

Kiepie ·

Tekens van die tye as twee van die drie beste “boereworsmaker” in die land nie “boere” is nie. Wel gedaan manne, dit is hoe ons die toekoms van ons land kan verseker. Deur die beste van al die kulture om ons aan te neem en sodoende op die ou einde een groot “super-kultuur” te vestig.

Sune van Heerden ·

Dagsê Leana

Ons vra groot om verskoning, daar was ‘n verwarring in die inligting wat Checkers oor die deelnemer uitgestuur het. Winter is eintlik van Kimberley in die Noord-Kaap, maar werk in Bloemfontein in die Vrystaat.

Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Elizabeth ·

BAIE geluk Olivier… ek kan sien jy het ‘n passie vir wat jy doen – jy is inspiring!

humor ·

Baie geluk Olivier en ook vir die groot okasie daarmee saam. Ek hoop hierdie keer is dit regtig die lekkerste boerewors. Voorheen se wen boerewors was maar dikwels te bevraagteken.

Hendrik ·

Publiseer bietjie die resep vir ons asseblief – St Louis het nie n Checkers / Shoprite nie :-)

suzette McDonald ·

Ons was bitter teleurgesteld oor die smaak van die wors wat ons by Checkers Hyper in Nelspruit gekoop het. dit het nie die smaak voldoen van gehalte vleis en kruie nie. ek weet nie of dit die resep of die winkel se eie resep was nie, maar dit was geadverteer as die nuwe Kampioen Boerewors. ek het eerstens iets raakgebyt wat hard was soos ‘n stukkie been of sening, en tweedens was daar geen smaak aan nie. Niks, het nie eers die vleis geproe nie, wat staan nog die kruie. Ons was bitter teleurgesteld, veral omdat die wors die 16e Sept bekend gestel was, en ons dit die 18e met groot verwagting gekoop het. wat het ander ervaar? sal graag wil hoor

Christien ·

Dankie Maroela vir ‘n goeie berig en foto’s. Dis lekker om gereeld iets in ligter trant te kan lees.

Lynn ·

Suzette, ek stem saam met jou. Ek het die wors gekoop by Shoprite in Goue Akker, Kaapstad. Was glad nie lekker. (Ek sal dit nooit weer koop nie).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.