Foto’s: Hier is Mnr. SA 2020

Hannes van der Walt is Mnr. SA 2020 (Foto: Mnr. SA)

Hannes van der Walt is Saterdagaand tydens ʼn aanlyn geleentheid as Mnr. Suid-Afrika 2020 aangewys.

Hannes (39), ʼn menslikehulpbronnebestuurder van Kempton Park in Gauteng, is passievol oor familie, gemeenskapswerk en om rolmodelle van goeie gehalte vir die jeug beskikbaar te stel.

Hy vertel aan Maroela Media dat hy vol selfvertroue was toe hy vanjaar vir die eerste keer vir hierdie kompetisie inskryf.

“Ek het nooit ingeskryf met die idee dat ek nie ʼn kans het om te wen nie. Toe ek inskryf, het ek gedink ek kan wen. Ek het ingeskryf om ʼn groter platform te gee aan die gemeenskapswerk wat ek reeds doen,” sê hy.

Hannes, sy vrou, Natasha, en hul twee kinders, Leané (16) en Jovan (12), is gereeld betrokke by hul gemeenskap waar hulle help om mense se slegte omstandighede te verbeter.

Hulle het vroeër vanjaar die niewinsgewende organisasie Shine On net voor inperkingsvlak 5 gestig. Shine On het gehelp om kos te voorsien aan kinders wat normaalweg kos by die skool sou kry.

“Ons het gewonder wat nou van die kinders gaan word as die skole toe is. Ons het toe self in skole gegaan, skenkings bymekaargemaak en kos en toebroodjies aan die kinders voorsien.

Hannes, sy vrou, Natasha, en hul twee kinders, Leané en Jovan (Foto: Facebook)

“Met Shine On wil ons talle ander kwessies ook aanraak. Ons wil help waar daar ʼn nood is, want daar is baie projekte en kwessies wat verdien om die lig op hulle te laat skyn.”

Hannes sê hy was oorweldig die oomblik toe hy hoor hy is die nuwe Mnr. Suid-Afrika. Hoewel hy vol selfvertroue was, bestempel hy dit as ʼn hoendervleis-oomblik.

“Mens weet tog in jou hart wat om te verwag en jy weet wat jy ingesit het om daar te kom. Maar op daardie oomblik kon ek nie glo wat ek hoor nie. Dit is een van daardie groot gebeurtenisse in jou lewe waarna jy jare lank hoop en uitsien, en dit speel binne ʼn paar oomblikke af.”

Sy hele Mnr. Suid-Afrika-ervaring was positief en hy het elke oomblik geniet. Hy sê die geleentheid wat die platform hom nou bied, is asemrowend en hy wil mense daardeur help om goeie rolmodelle vir die jeug te wees.

“Ek wil ma’s en pa’s, of enige ander hoofde van huise, help om hul kinders positief te beïnvloed. As ma’s en pa’s gesond en gelukkig is, sal hul kinders ook so wees. En gesonde gesinne beïnvloed ander gesinne, wat dan die gemeenskap beïnvloed, en wat dan later die land kan beïnvloed,” sê hy.

Hannes van der Walt (Foto: Invest Photos/Facebook)

Hy wil ook die jeug bemoedig en selfstandig maak deur hulle te leer dat hulle alles wat hulle het, moet gebruik om ʼn positiewe lewe te skep.

“Elke klein dingetjie in jou lewe is ʼn boublok wat jy kan gebruik om ʼn positiewe lewe te lei en om daarna ʼn rolmodel te wees vir ander.”

Hannes sal vir sy jaar as Mnr. Suid-Afrika ondersteun word deur die naaswenner, De Villiers Koster van Johannesburg, en Lee Jordan Jacobs van Paarl in die Wes-Kaap, wat derde gekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Baie geluk!!!!! Moet sê ek was verbaas oor sy ouderdom en dis gewoonlik die jonger mans wat wen. Voorwaar n deurbraak vir die ouer en meer ervare SA’se mans

AmY ·

Baie geluk Hannes.
Ek ken Hannes al 20 jaar. Sy pa was vir baie jare ons pastoor gewees hier in Kemptonpark.
Waardige wenner.

Maggies ·

Baie geluk! Ek het reeds vir hom gestem. Maak ons trots hierdie jaar.

Daleen ·

Baie geluk Hannes en die 2 finaliste. Hannes jou gesin is pragtig. Wie is die ontwerper van die baadjies? Dis regtig nie mooi nie.

Androclus ·

vir jou is dit nie mooi nie,maar dis iets anders waaraan jy nie gewoond is nie.

Twopence ·

Hannes, baie geluk. Jy lyk vir my na ‘n waardige wenner en …… gelukkig verskil smaak – die baadjies is vir my baie mooi en interessant, iets anders.

Jaco ·

Is sy ras “reg” dat hy mag wen? Ek vra maar net, want SA onder die ANC raak al hoe meer ‘n land met raskwotas en twee stelle reëls: een stel vir swart mense en ‘n ander, meer drakoniese stel vir swart mense.

Karina ·

My keuse het gewen! Baie geluk Hannes en aan die ander twee mooie jong manne. Almal is wenners waardig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.