Foto’s: Hier word jy na vervloë dae teruggeneem

Die oudste stoomlokomotief in die museum is die Emil Kessler, wat in die 1880’s gebou is en meer as 12 ton weeg.

Die Outeniekwa-spoorwegmuseum staan half weggesteek in ʼn systraat in George, maar in dié enorme opgeknapte spoorwegskuur, oftewel goedereloods, word ʼn unieke versameling vervoermiddels uit vervloë dae gehuisves.

Die oop ruimte het geen binnemure nie en beslaan sowat 15 000 vierkante meter onder een dak, byna soos ʼn groot stasiegebou, kompleet met perronne en stootkarre waarop bagasie gelaai kan word.

Die museum bring veral hulde aan stoomlokomotiewe, daardie manjifieke “ystervroue” wat eens die spoorlyne van Suider-Afrika oorheers het.

Soveel as 21 stoomlokomotiewe, wat jare gelede aan diens onttrek is, het ʼn laaste rusplek in die museum gevind en staan sy aan sy en blink gepoets op die vloer.

Die oudste een is Johannesburg se eerste stoomlokomotief, die Emil Kessler, wat in die 1880’s gebou is en meer as 12 ton weeg. Dis in Esslingen in Duitsland vervaardig en in Suid-Afrika aangekom, is dit van die hawe af in stukke met ossewaens na Elandsfontein aangery waar ʼn driemanspan dit weer in ʼn oop veld aanmekaar gesit het.

Die museum bring hulde aan die “Ystervroue” wat eens die spoorlyne van Suider-Afrika oorheers het.

Nog ʼn indrukwekkende kolos, die Klas Garratt GL, pronk ook op die museumvloer. Die Garratt was tussen 1930 en ’38 deur die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë op die roete tussen Durban en Cato Ridge gebruik.

Die geartikuleerde Garratt kon gemaklik die steil hellings en skerp draaie op die roete bemeester, maar met die koms van elektriese treine is dié lokomotief tot in 1972 ingespan om swaar steenkoolvragte te sleep.

Die museum huisves ook 22 ou treinwaens, kompleet met houtbeslaande panele, groen leer sitplekke en slaapbanke.

Die Wit Trein is deur die staatspresident gebruik om van Pretoria na Kaapstad te reis.

ʼn Luukse eetsalon, wat in 1947 vir die Wit Trein van die destydse goewerneur-generaal aangekoop is, is ook te siene. Dit het selfs lugversorging en bevat ʼn lang tafel waarby sestien mense kan aansit.

Die eetsalon word dikwels verkeerd beskryf as deel van die trein waarmee die Britse koninklikes in 1947 deur die land gereis het, maar dit was uitsluitlik vir die Wit Trein bedoel. Na Republiekwording het die land se staatspresidente vir die parlementsopening vanaf Pretoria na Kaapstad daarmee gereis.

Die Swierige eetsalon van die Wit Trein.

Dieselfde eetsalon het ook in Augustus 1975 as konferensiekamer gedien tydens die brugberaad by die Victoriawaterval wat een van vele pogings was om vrede in die destydse Rhodesië te bewerkstellig. Dit is kort daarna aan diens onttrek.

In die museum staan dit langs ʼn perron geparkeer sodat besoekers deur die vensters kan inloer om te sien hoe swierig ʼn langafstand‑treinrit jare gelede kon wees.

Daar is ook ʼn minder swierige treinwa waarmee die ZAR se president, Paul Kruger, in die 1800’s van Pretoria na Komatipoort gereis het.

Die hoogtepunt van ‘n besoek aan die museum is die rit op ‘n ou dienstrollie wat die sowat 30 km na die stasie by Groot Brakrivier per spoor aanpak.

Meer as vyftig antieke motors in private besit, insluitend ou Mercedesse, Borgwards en Studebakers uit die vyftigerjare, word ook uitgestal.

Die hoogtepunt van ʼn besoek aan die museum is die rit op ʼn ou dienstrollie wat die sowat 30 km na die stasie by Groot Brakrivier per spoor aanpak. Die spoorlyn kronkel deur melkplase en plate fynbos, oor ou treinbrûe al langs die kus af, verby Glentana tot by Grootbrak, waar dit omdraai.

Die trollie het voorheen ook ʼn skouspelagtige rit in die Outeniekwaberge al langs die historiese Montagu-bergpas onderneem, maar ʼn deel van die spoor word nog herstel na dit in verlede jaar se brand in die George‑omgewing beskadig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frm ·

Klink my daar is meer treine in die museumas huidiglik in gebruik deur prasa. Goeie ou dae toe goed nog opgepas was.

Dirk ·

Ons het die museum in 2015 besoek,dit laat mens regtig terugdink na doe ou dae.Veral die treine,ou dae met die slaap kit toe ons nog in die wermag was.Ons gaan die jaar weer soontoe en ek gaan dit defnitief weer besoek..

Raymond Oosthuizen ·

Kan julle asb n atikel plaas oor Reef Steamers wat onder vrywillige likwidasie gaan van vandag af asb? Hulle het hul bes gedoen om stoom treine te bewaar.

Strandloper ·

Goeie berig van toeka se dae sonder “nat steenkool” toe n boer nog aan die roer was.

Manie van Worcester ·

Die goeie ou dae toe daar nog trots in alles was en alles gewerk het

Erik ·

Ons was verlede jaar daar en dit baie geniet.

Die hele George omgewing gee my hoop. Ons wou emigreer, maar na ons vakansie in daai omgewing het ons gesien dat daar nog dele is waar die munisipaliteit werk, waar dit skoon, mooi, Afrikaans en veilig is. Jammer die werksgeleenthede is min daar – anders het ons lankal getrek!

Louis leeu ·

Baie Dankie aan die mense wat nog hulle tyd op offer vir die behoud van die ou treine en voertuie

Werner Kemp ·

Hi Stoom liefhebbers.

EK is so bly,om tekan Lee’s,DAT ons stoomerfnis bewaar word.
EK is baie bly om the kan Se, ek het dit Kon beleef, as kind,en net voor die OU regime van Stoom tot n einde gekom hey.

Stoomtreine was treinry voorwaar.
Stoomtreine laat men’s ver verlang en dink.

How LYK dit, met n stoomtreine DVD , in die Nuwe Jaar asoonk n gedenk album van die stoomtreine wat daar by JULLE op George in die museum bewaar word.?
Dit is net n vooorstel.

Goedgaan
Werner Kemp
Port Elizabeth

Pierre ·

Bring terug stoomtreine, sal werk skep, krag spaar, goedkoper goedere vervoer en passasiers, paaie dalk effens veiliger maak. Ai om dit nou gedoen te kry is seker ook ‘n baie dom vraag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.