[Foto’s] Hollander vas oor dwelmlaboratorium in Kaapstad

Van die toerusting wat in die huis in Durbanville, Kaapstad, opgespoor is Foto: Verskaf deur die SAPD

Van die toerusting wat in die huis in Durbanville, Kaapstad, opgespoor is Foto: Verskaf deur die SAPD

ʼn 55-jarige man van Holland is in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn klopjag uitgevoer het op ʼn huis in Durbanville, Kaapstad, en op ʼn onwettige dwelmvervaardigingsfasiliteit afgekom het.

“Lede van die grenspolisie by die Kaapstadse Internasionale Lughawe het ontdek dat pakkies van ʼn individu gepos word na verskeie internasionale bestemmings,” het kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hulle het een van die pakkies getoets en gevind dat dit spore van heroïen bevat.”

Die provinsiale dwelmeenheid het ondersoek ingestel en hulle het al die pakkies teruggehou. Spesialiste het een van die pakkies ondersoek en bevind dat dit ʼn onwettige middel, soortgelyk aan heroïen, bevat.

“ʼn Span saamgestel deur die Wes-Kaapse dwelmeenheid, metropolisie, doeanebeamptes van die SAID, departement van handel en nywerheid en beamptes van medisynebeheer het Donderdagoggend om 10:00 op die huis in ʼn woonkompleks in Durbanville toegeslaan,” het Van Wyk bygevoeg. “Die span het die fasiliteit ontdek waar medikasie onwettig vervaardig word. Die polisie het beslag gelê op verskeie toerusting soos glasbuise en -houers, en ʼn verskeidenheid chemikalieë in twee kamers in die huis.”

Die man is op die toneel in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.