Foto’s: Honderde boere toon simpatie met plaasaanval-slagoffers

Honderde boere het saamgedrom om hul simpatie te toon (Foto: Verskaf)

Honderde boere en inwoners van die Komatipoort- en Malelane-gemeenskap het Donderdag hande gevat in gebed om hul simpatie met slagoffers in onlangse plaasaanvalle en -moorde te toon. Boere het in trekkers, bakkies en ander plaasmasjienerie aan dié vreedsame optog deelgeneem.

Hierdie is nou al die soveelste optog teen plaasaanvalle en -moorde wat in die afgelope twee maande gehou is.

Altesaam 337 voertuie het Donderdag omstreeks 09:00 in ʼn konvooi in ʼn sirkelroete op die Strydomblok- en Coopersdalpad naby Komatipoort na die N4 beweeg tot by Lebombo Piesangs. Groot wit kruise is op voertuie gelaai.

Baniere met woorde soos “Stop plaasmoorde” is ook op voertuie geplak. Hier en daar het die Suid-Afrikaanse landsvlag ook in die lug gewapper.

Stop Plaasmoorde (Foto: Verskaf)

Piet van Dyk, ’n lid van die gemeenskap wat deel was van die organisering van die optog, sê by Lebombo het almal hul voertuie parkeer voordat ʼn plaaslike pastoor, Danie du Preez, eers ʼn kort boodskap gelewer het waarna almal saam die “Onse Vader” gesing het. Die optog is toe met gebed afgesluit.

“Dit was ’n besonderse geestelike oomblik wat ons daar as gemeenskap saam ervaar het. Ons het gebid vir al slagoffers van plaasaanvalle en -moorde reg oor die land. Ons het ook ons dankbaarheid betuig dat ons gebied nog sover van die wreedheid gespaar is.”

Van Dyk sê ’n paar lede van die gemeenskap het kragte saamgesnoer om dié optog te reël.

“Behalwe dat ons ons simpatie aan plaasaanval en -moordslagoffers wou toon en vir hulle bid, wou ons ook weer bewusmaking skep. Ons wil hê die regering moet kennis neem van inwoners in landelike gebiede wat in liefde en vrede met mekaar wil saamwoon.”

Die optog is ook ter bewusmaking van die opskerping van landelike veiligheid.

Van Dyk sê die optog het heel positief uitgedraai en die betogers, plaaslike munisipaliteit en verskeie ander instansies het goed saamgewerk om die dag ’n sukses te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Arthur

Dis pragtig! Die rooi berets kan gerus ‘n les kom leer in goeie en gesonde waardes…. dit sal hulle ook baat om navraag te doen oor die Koning van die eeue, die Onverderflike, Onsienlike, Alleenwyse God, Skepper van Hemel en Aarde…. ons Opperheerser!

LiveAndLetLive

Dit is amazing

Nozi

Dit gee my skoon hoendervleis as ek sien hoe die blanke volk al hoe meer begin saamstaan. Ek stem met ONS SAL SELF!!!!

Hennie J

Eendrag maak mag!

Kokerboom

Iets wonderliks is aan die gebeur!!!!