[Foto’s] Honderde ‘Hardloop vir Lise’

Lise Brink by van die ondersteuners wat aan die #HardloopVirLise-veldtog deelgeneem het. Foto: Maroela Media

Lise Brink by van die ondersteuners wat aan die #HardloopVirLise-veldtog deelgeneem het. Foto: Maroela Media

Duisende mense het Saterdag douvoordag by die Harlequins-klub in Groenkloof, Pretoria bymekaargekom vir die Medihelp Sunrise Monster.

Vanjaar was dit egter die honderde mense met hul groen #hardloopvirlise-hemde wat die oog gevang het. “Ek hardloop vir Lise sodat sy kan hardloop” lui die boodskap agter op die T-hemp.

Die Brink-gesin was in Desember in ‘n noodlottige ongeluk. Lise was op 16 Desember saam met haar man, dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, en hul vyf kinders op pad na Kaap St. Francis toe die linkeragterband van hul gesinsvoertuig losgekom en die voertuig buite beheer geraak en gerol het. Die ongeluk het buite Theunissen in die Vrystaat gebeur. Rachel (8) en André (13) is op slag dood. Lise was vir ’n geruime tyd in ’n kritieke toestand en haar been is op 21 Desember geamputeer.

Om geld vir Lise se prostese in te samel, het vriende van die gesin en kollegas uit die Solidariteit Beweging besluit om met die Hardloop vir Lise-veldtog te begin. Verskeie atlete en lede van die publiek het aan die Medihelp Sunrise Monster deelgeneem om geld in te samel.

Lise het in ‘n rolstoel gesit en kyk hoe die een persoon na die ander met ‘n groen hemp om die draai gekom en die resies voltooi het. Sy en Danie het hulle persoonlik aangemoedig en bedank.

Hardlopers het ook na die tyd met Lise gaan gesels en die wit ballonne waarmee hulle gehardloop het aan haar gegee. Volgens Lise is sy totaal oorweldig deur vandag se gebeure. Sy het vertel sy was só lank in die hospitaal dat sy nie vreeslik geweet het wat om haar gebeur het nie. Sy en Danie het gesê hulle is ongelooflik dankbaar vir almal se ondersteuning.

Annelize Brits van die #hardloopvirlise-veldtog het gesê hoewel Danie en Lise se mediese fonds ongelooflike bystand en ondersteuning gee sover dit binne hul regulasies moontlik is, is daar honderde duisende rande se uitgawes wat nog voorlê. Terapie, nasorg en die ontwikkeling van die prostese is van die uitgawes wat gedek moet word.

Danie is ‘n passievolle deelnemer aan uithouwedlope, en een van die stigterslede van die Bo-Karoo Uithouwedren. Sy droom was nog altyd dat Lise eendag sy draf-“buddy” sal wees. Die personeel van die Solidariteit Beweging se instansies wou graag dié droom, wat vir Danie en Lise nog ver in die toekoms lê, help bewaarheid.

Altesaam R480 000 word benodig vir ’n prostese. Dit sluit in alle prostese tot by die finale weergawe en alle terapie wat nodig is om daarmee te leer loop.

Deelnemers kon Saterdag in drie kategorieë deelneem: oor 32 km, 10 km en 5 km. Deelnemers kon ook op backabuddy.co.za registreer waar ander hul deelname kon borg om geld in te samel vir die Brink-gesin.

Volgens Brits is meer as R255 000 tot op hede ingesamel. Mense kan steeds hier tot die veldtog bydra.

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Janee ·

‘n Prostese deur ‘n 3d-drukker is seker onmoontlik in die geval? Baie sterkte aan die familie

Lynette Schultz ·

Ek het soveel kere al gehuil terwyl ek berigte gelees het oor die Brink-gesin – nou weer….

Helene Heyns ·

Ek stem saam Lynette. Hierdie keer is dit trane van dankbaarheid. Lise is so n pragtige vrou en en om haar weer te sien loop en later draf sal die mooiste gesig wees. Aan almal wat deelgeneem het wil ek sê “God sal jul seën.”

Sarie ·

Lisa, jy is ‘n pràgtige vrou. God gee krag na kruis & jý is vir menige vroue, ‘n voorbeeld & inspirasie… God gebruik mense op wonderlike wyses… Sterkte; jý sàl oorwin…

SARIE VAN HEERDEN ·

Die mediese fondse betaal vir die hospitaal, ens. maar betaal hul ook vir enige deel van die prostese wat eintlik ‘n baie duur item is en waarsonder ‘n ma van kinders kwalik oor die weg sal kan kom.

Carien ·

Hang af van jou medies en op watter opsie jy is of n medies ten volle, gedeeltelik of selfs n bietjie sal betaal vir n kunsbeen.

yolandi ·

oorweldigend pragtig…. So staan suid-afrikaners saam , baie dankie aan die Brink gesin vir die pragtige Christelike voorbeeld wat hulle vir duisende suid-afrikaners is….

elvira bothma ·

Ons motor was n Ruk gelede in vir n diens. Oppad was daar n ongewone geluid. Ons het terug gery motor hawe toe waar agtergekom is die boute van die linker agterwiel was nie vasgedraai nie. Wonder of dieselfde met hulle motor gebeur het.

Estelle ·

Elvira ek het al van die eerste berig oor die Brinks se ongeluk gewonder waar is die voertuig se band vervang en hoe het dit gebeur dat die band afgekom het? Weet iemand dalk wat daar gebeur het?

Gustav ·

Ek was in 2014 in ń moterfiets ongeluk betrokke hulle het my been in Desember 2016 my been bokant my knieg geamputeur na 43 operasies om my been te red sonder sukses ek kry n baie goeie prostese wat my weer in staat sal stel om weer my sport te kan doen vir R139 000 so ek verstaan nie hoekom is hare so duur nie geen wonder die medies wil nie volle bedrag betaal my totale medies se koste tot op datum verloop al R4000000 ek was 6 maande op my medies toe my ongeluk gebeur het ek het uit my eie sak so R100000 betaal die medies die res ek is by Discovery net jammer niemand het vir my n byeenkoms gehou nie betaal nog af aan die R100000 maar voorspoed vir die Brink gesin ek was as jy my tyd saam sit wat ek in die hospitaal was ń jaar in die hospitaal

Sune van Heerden ·

Dagsê Gustav

Jaco Deist, ortotis van Deist Orthothists, antwoord soos volg:

“Ek verstaan die leser se vraag, veral omdat hy self ‘n amputasie bokant die knie gehad het. Daar word ongelooflik baie tyd en moeite ingesit vir ‘n persoon wie se been bokant die knie afgesit is, as ons hulle die kans wil gee om normaal na die samelewing te kan terugkeer. Lise is ‘n fisioterapeut, en ‘n ma van drie kinders, waarvan die jongste net twee jaar oud is en wat sy moet kan optel en ronddra – dus is haar en haar kind se veiligheid my eerste prioriteit. Sy moet ‘n ma en ‘n vrou kan wees en tussenin werk. Dis my verantwoordelikheid om dit vir haar moontlik te maak om weer normaal te kan funksioneer en selfs weer te kan draf.

“As ons vir Lise die beste kans wil gee om te rehabiliteer na so na as moontlik aan wat sy was voor die amputasie, moet ek vir haar ‘n prostese gee wat so na moontlik aan die normale knie was. ‘n Knie is ‘n baie komplekse gewrig wat baie stabiliteit bied. Die tipe knie wat Lise gebruik, is ‘n gerekenariseerde knie wat baie veiligheid bied en wat ‘leer’ by die gebruiker soos die gebruiker al beter loop, teen ‘n verskillende spoed loop ensovoorts. Soos die knie al meer en meer ‘leer’, hoef die gebruiker al minder te dink oor die volgende tree, en só raak dit moontlik om uitdagende oppervlaktes soos opdraandes, afdraandes, trappe en ongelyke areas te bemeester.

“Elke persoon wat ‘n ledemaat verloor, se situasie is uniek en moet met ‘n unieke oplossing aangespreek word, selfs al is dit dieselfde ledemaat wat op dieselfde hoogte verloor is. Prostese-tegnologie ontwikkel ook baie vinnig, wat beteken daar is vanjaar reeds beter prostese-tegnologie op die mark as selfs net ‘n jaar gelede, maar die beter tegnologie is ongelukkig ook duurder as ‘n jaar gelede.”

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.