Foto’s: Huise, paaie verspoel in die Oos-Kaap

(Foto: NationalCoGTA/Twitter)

Huise, ondernemings en paaie in Port St. Johns en omliggende gebiede in die Oos-Kaap is onder water, nadat swaar reën Donderdagaand in dié gebied begin uitsak het. Duisende mense moes hul huise en ondernemings intussen ontruim en van die paaie is vir motoriste gesluit.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Donderdagaand die waarskuwing vir donderstorms, hael en verwoestende winde vir die Oos-Kaap van ʼn oranje vlak 5 na ʼn oranje vlak 6 aangepas.

Zimkitha Macingwane, woordvoerder van die OR Tambo-distriksmunisipaliteit, het bevestig drie mense is in Lusikisiki, naby Port St. Johns, as vermis aangemeld. Die munisipaliteit bedien dorpe soos Flagstaff, Libode, Lusikisiki, Mqanduli, Mthatha (Umtata), Ngqeleni, Port St. Johns, Qumbo and Tsolo.

Die OR Tambo-ramp- en risikobestuurspan is Vrydagoggend saam met polisieduikers na die dorp om meer inligting oor die vermiste persone te kry.

Kragonderbrekings in Port St. Johns het boonop tot probleme met netwerkverbindings gelei. Die werking van die Mzimvumbu- en Port St. Johns-watersuiweringsaanleg is ook beïnvloed, wat daartoe gelei het dat sommige gebiede ook wateronderbrekings ervaar.

Verder is ʼn gedeelte van die R61 naby Isinuka erg deur die swaar reën beskadig.

Thembi Nkadimeng, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het die nasionale rampbestuursentrum opdrag gegee om in kontak te bly met die Oos-Kaapse provinsiale en distriksrampbestuursentrums.

Dit is nie die eerste keer dat die dorp deur oorstromings en swaar reënval getref word nie. In April 2022 het die dorp erge oorstromings ervaar, wat daartoe gelei het dat huise beskadig is.

Swaar reën het ook sedert Donderdag in dele van die Wes-Kaap uitgesak, met gelokaliseerde oorstromings wat in die omgewing van Worcester, Touwsrivier, Montagu, Bonnievale en Robertson aangemeld is.

Die Wes-Kaapse verkeersowerhede het bevestig dat die N1-snelweg tussen Touwsrivier en Laingsburg onder water is.

Aangesien meer reën verwag word, het Nkadimeng die publiek versoek om ekstra waaksaam en versigtig te wees, veral in gebiede wat geneig is tot vloedwater en oorstromings, en om die gereelde opdaterings en waarskuwingsboodskappe van die weerdiens te volg.

“Gemeenskappe word versoek om met die betrokke owerhede saam te werk deur hul instruksies te volg om almal se veiligheid te verseker,” het Nkadimeng gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.