Foto’s, inligting ‘bewys’ hulle sou by Isis aansluit

Die is van die foto's wat deur die staat by die hof ingedien is.

Die is van die foto’s wat deur die staat by die hof ingedien is.

Die staat het Vrydag ʼn beëdigde verklaring by die Johannesburg-landdroshof ingedien waarin ‘bewyse’ uiteengesit word vir die saak teen die sogenaamde “terreurtweeling”.

Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie is meer as twee weke gelede in hegtenis geneem op aanklagte dat hulle die Amerikaanse ambassade en Joodse instellings in Suid-Afrika namens die Islamitiese Staat (Isis) wou opblaas.

Staatsaanklaer, Chris MacAdam, het die beëdigde verklaring ingehandig wat deur die ondersoekbeampte, Wynand Olivier, opgestel is en waarin foto’s en inligting vervat is oor items wat gevind is nadat die tweeling in hegtenis geneem is.

Olivier voer in die verklaring aan hy het bewysstukke wat aandui die Thulsie-tweeling het Suid-Afrika by twee geleenthede probeer verlaat en dat ʼn lid van Isis glo geld in ʼn bankrekening inbetaal het vir die tweeling om na Sirië te reis.

Hy het ook ʼn foto ingesluit van ʼn sosialemedia-inskrywing waarin een van die tweeling glo Moslems gekritiseer het vir hul teenkanting teen Isis na die onlangse Parys-aanvalle. Daar is ook glo foto’s van die tweeling met vuurwapens.

Die tweeling se regsverteenwoordiger het egter vroeër vandeesweek aangevoer haar kliënte moet vrygelaat word, aangesien hulle glo onregmatig in hegtenis geneem is.

Hulle is op 10 Julie saam met twee ander mense deur die Valke in hegtenis geneem tydens ʼn klopjag in Newclare en Azaadville. Die vier het glo beplan om na Sirië te gaan om by Isis aan te sluit.

Die Thulsie-broers staan tereg op drie aanklagte wat verband hou met terreuraktiwiteite.

Die voorlopige klagstaat dui daarop dat die tweeling tussen Oktober 2015 en 8 Julie 2016 saamgesweer het om terreurmisdade in Johannesburg te pleeg.

Die saak is tot Maandag uitgestel en die broers bly in aanhouding.

Lees alle vorige berigte oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet ·

Dis heel interessant, maar wat nou is die relevansie van die paintball toerusting in die onderste foto?

john samuel ·

Oh my Magtag…. Hulle is in hegtenis geneem want…. hulle speel met paintball toerusting? Dit is nie eers Effens belaglik nie.

dries ·

Moet tog nou net nie vir ons probeer wysmaak dit is die ters teen wie die Amerikaanse ambasade n paar maande gelede gewaarsku het nie. Ons is meer ingelig as dit.

Dawie ·

As die foto’s bewyse is wat in ‘n hof deur die valke ingedien is dan is dit bewys van hul totale onbekwaamheid / onbevoegheid. Dan is die kommentaar op die berig van die oumatjie in Bloemfontein wat in haar huis dood gevind is heel moontlik korrek dat sy net geval het en dat die arme skepsel onskuldig gearresteer is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.