[Foto’s] Inwoners gons oor ‘tornado’ in Viljoenskroon

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Sosiale media was Saterdagoggend aan die gons oor ʼn tornado wat glo Vrydagaand die Viljoenskroon-omgewing in die Vrystaat getref het.

Verskeie mense het foto’s van die swaar weer en die beweerde tornado op sosiale media gedeel en bespiegel of dit wel ʼn tornado was. Ignaz Streicher, ʼn inwoner in die dorp, het aan Maroela Media vertel die storm het die dorp omstreeks 17:30 getref.

“Ek weet nie of dit wel ʼn tornado was nie, maar dit het beslis soos een gelyk. Donkergrys wolke het saamgepak en ek het iets gesien wat gelyk het soos ʼn reuse stofwolk wat na ons toe aankom. En toe skielik steek ʼn verskriklike yskoue wind op, net so onverwags. Alles om my het begin waai en mense het gehardloop vir skuiling,” het Streicher gesê.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Hy vertel die keëlvormige ‘tornado’ het reg deur sy tuin beweeg en aansienlike skade aangerig. “ʼn Reuse voëlhok, van 10m x 4m, is soos ʼn stukkie papier in die lug rondgewaai, reuse ou bome is uit die grond geruk en die roldeur van my motorhuis is reg uit die muur geruk. Dit was vreesaanjaend,” het hy gesê.

Streicher sê nadat die windstorm verby is, het dit vir ʼn ruk lank gestortreën soos hy nog nooit voorheen gesien het nie. “Ek wou vanoggend gaan kyk hoeveel dit gereën het, maar die wind het my reënmeter saamgevat!”

Hy het ook gesê die dorp se krag was af ná die storm en is eers later herstel. Volgens berigte is die krag steeds plek-plek af in Viljoenskroon.

Jan Vermeulen, ʼn voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het aan Maroela Media gesê die weerdiens het berigte van ʼn tornado in Viljoenskroon ontvang, maar kan nog nie bevestig of dit wel ʼn tornado was nie. “Dit is heeltemal moontlik dat dit ʼn klein tornado kon wees, aangesien ons hewige storms in die gebied verwag het,” het Vermeulen gesê.

“Ons wag eers vir foto’s en berigte van skade wat aangerig is voordat ons kan oordeel of dit wel ʼn tornado was.” Vermeulen het gesê nog donderstorms kan vandag in die gebied verwag word.

Die munisipaliteit is intussen besig met opruimingswerk in die gebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sharon ·

Jinne dit lyk erg!!!!! Hou jul self maar veilig!!!!! En dit lyk defnetief soos n tornado!!!!

Rachel nel ·

hier in sasolburg plus minus daardie tyd gisteraand vrydag die 11 november was daar ook n verskriklike wind toe die verskriklike harde reen en geklink na hael. Die yorkie wat by ny bly was vreeslik bang en het bo op die bed regop gesit en na die venster gekyk . dit was nie lank nie toe is alles oor

Buitestander ·

Suid-Afrika was nog altyd geseën om nie “Tornado,s” te kry nie.

Ek weet nie wat dit nou ander sal maak nie.

Mike ·

Nee jy is verkeerd Buitestander Welkom in die Vrystaat is in die vroeë negentigs deur n groot tornado getref met baie skade. Huise se dakke was afgeruk. Mure was omgewaai.

james ·

Ag tog – soos wat lyk die vir jou. Lyk dit nie vir jou na “iets anders” nie?. Noem dit wat jy wil – ek wil dit nie beleef nie.

Werwel ·

Die oumense het name gehad soos ‘warrelwind’ en hierdie een sal beskryf word as ‘n ‘werwelwind’. ‘n Meneer om met rekening te hou.

Cherokee ·

Ons in Durban het ‘n geweldige donderstorm gehad tot sowat 20 minute gelede met blitse bo die see en blitse oor die binneland. Nou stortreën dit. Hillcrest het ‘n geweldige haelbui gehad.

Martie ·

Dit was vreeslik ek bly in hillcrest een oomblik sonskyn en toe swart wolke dit het gelyk soos skemer en dit was 2nm

Cherokee ·

By ons op die strand was dit net so donker om 2nm, Martie, Ligte was aangeskakel vanaf voormiddag.

Jennifer Taljaard ·

Ons het ons huis in die vroeer negentigs op Piet Retief verloor en dit was vir ons n vreeslike verlies. Die hoof krag draad het in my huis geval maar dank die Here, ons het net ure voor dit na my suster op Newcastle gaan kuier, so Vader het ons dit gespaar. Ons het alles verloor, maar ons lewens gehou.

Marius Calitz ·

AI julle mense…watse bespiegeling is dit die of dit “regtig” ‘n tornado was? Op die fotos is dit duidelik dat dit REGTIG een was maar nie baie groot nie.

Cherokee ·

Jy het Jan Vermeulen se opinie gelees en spog daarmee asof dit jou eie is.

Pote ·

Ons het op 20 Maart 1990 ook bykans alles in daardie tornado in Welkom verloor. Ek dink Buitestaander moet net na google toe gaan, dan sal hy sien dit is nie asof ons in Suid-Afrika nie tornados kry nie.

Cherokee ·

Daardie ‘alles verloor’ storie word nie aan gebyt nie want as jy nie versekering gehad het nie beteken dit jy het geen verband gehad nie en niemand anders as jyself is skuldig nie.

Amber ·

Paarl het n paar jaar ook n ‘tornado’ beleef, alhoewel die weerkantoor gesê het, dit was nie een nie. Dit het n gedeelte van die dorp getref. ‘n Reuse gat is in n betonmuur by die ou tronk uitgeruk en, bome van 80 jaar oud is ontwortel in die begrafplaas onderkant die Boulevard. Dit was beslis nie n gewone windstorm nie.

ROOIKOP ·

Wel ek moet sê dit was beslis nie net ‘n “gewone” warrelwind vrydag aand nie want hier in Vanderbijlpark ook na 19h00 het die wolke opgesteek en dit was ‘n vreeslike wind van alle kante af en omtrent gereën maar daardie wind was koud en saterdag oggend met skok gesien hoeveel bome omgewaai en heeltemal ontwortel is. Groot skade met beton mure vir mense hier en daar in die S-areas wat bome omgeval het!! Selfs borde en groot ligte is omgewaai….ja dit laat mens wonder of daardie “tornado” se stert gedeelte oor die dorp is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.