Foto’s: Inwoners maak harte (en beursies) oop vir substasie-werkers

Foto verskaf deur Ernst Botha

Inwoners van Pretoria-Oos word geloof vir hul goedhartigheid terwyl werkers spook om ʼn substasie, waar ʼn brand vandeesweek uitgebreek het, te herstel.

Ernst Botha, wyksraadslid het gesê hy staan verstom oor die goedhartigheid, liefde en aanmoediging wat die werkers ontvang.

“Ons kon Vrydagaand weer kos vir die werkers aanbied, soos wat ons nou al vir ʼn paar dae lank doen,” het hy gesê. “Oom Wim, of ds. Wim Slabbert soos meeste mense hom ken, het ingegryp om kos te reël vir die werkers op die perseel. Inwoners het al van dag een af geld, kos en enigiets anders wat ons benodig, aangedra om seker te maak daar word vir die werkers gesorg.”

Hy sê vrywilligers van wyk 44 het Dinsdagaand met die reusagtige taak begin om 50 persone drie keer per dag kos te gee – vir ongeveer sewe dae. “Selfs met ʼn aanvanklike skenking van R10 000 was die begroting steeds knap. Oom Wim het Carlos, die groenteverkoper by die Faeriedale-sentrum gekontak en Carlos het gesê oom Wim kan – gratis – enigiets vat wat hy nodig het. Die aanvanklike skenking het vir ten minste drie dae se sop gesorg vir die werkers!”

Sedertdien het skenkings ingestroom. Faerie Glen Park, die Farm Inn-hotel en die Voortrekkers het ook ingespring om seker te maak die werkers kry ʼn behoorlike ete.”

Botha het gesê daar is selfs inwoners wat begin het om gratis kerse by verkeersligte uit te deel.

Die Silver Lakes-huiseienaarsvereniging het ook kos, sjokolade, beskuit en selfs serpe vir die werkers gestuur.

Foto verskaf deur Ernst Botha

“Die wyk 44-inwoners het hulself in groepe georganiseer, van ‘Bless the Electricians Group’ tot die ‘Help Group’ wat nou ook ander nieregeringsorganisasies help wat deur die kragonderbreking geraak word. Een van die groepe help spesifiek die Paul Jungnickel-tehuis, omdat hulle nie hul wasgoed kan was nie en die behoefte aan volwasse luiers het drasties toegeneem.

“Ek wil persoonlik vir elke persoon dankie sê wat die uitdaging gesien het en ʼn geleentheid geskep het om te help. Ek het met die werkers op die perseel gesels, wat al 20, 30 en 40 jaar lank vir die stad werk, en hulle sê hulle het nog nooit só iets gesien nie!” het Botha bygevoeg.

Hy sê die stad verbeter waarskynlik rekords om ʼn substasie in minder as ʼn week te bou. “Maar dit sou nie moontlik gewees het sonder die inwoners se ondersteuning om die werkers te motiveer nie! Wyk 44 se inwoners en inwoners van Pretoria-Oos het die stad, selfs die land, gewys wat moontlik is as ʼn gemeenskap hande vat.”

Darryl Moss, woordvoerder vir Tshwane, het intussen gesê beduidende vordering word gemaak by die substasie. “Solank dit nie reën nie, kan ons baie hard werk om seker te maak kragtoevoer word na die betrokke gebiede herstel. Toetse en beskerming op een van die panele is reeds suksesvol afgehandel.

“Die stad se ingenieurs en tegnici werk baie hard om seker te maak dat die kragtoevoer teen Sondag om middernag herstel sal wees. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het egter vir Saterdagaand donderstorms voorspel. As dit reën, sal die werk tot ses ure lank vertraag word.” In die geval van reën sal die kragtoevoer waarskynlik eers teen Maandag herstel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Anoniem ·

Geen kkeurgrense nie net liefhartigheid en doen wat ons liewe VADER sou doen as hy tussen ons mense was GOD SEEN ELK EN IEDERE EEN

Joshua ·

ANC en kleinboetie EFF sal dit ‘mis kyk’ ,of weer met rassistiese opmerkings kom.

Ander Annie ·

Dit was goed vir die hart om die berig te lees. Dankie aan ieder en elk vir hierdie welwillendheid. Dankie aan die Tshwane werkers vir hulle harde werk. Twee pragtige spanpogings. Baie mooi voorbeeld.

Magdalena ·

Alle EER aan GOD!!!!!
Uit my hart uit DANKIE aan elke weldoener en natuurlik aan die werkers.
Saam met GOD hand aan hand kan ons oorwin

Lynette Fisher ·

It is actually so easy to be nice to one another but as long as we adhere to the indoctrination dished out by mostly useless politicians we will not be able to achieve this.

Petro ·

Wat ‘n awesome artikel. So trots op hierdie mense… Julle is ‘n voorbeeld vir ons almal… Respek…..

Johan ·

Wat vrae ons Abba vir ons . Nederigheid. Ons almal regoor hierdie global aarde waarop die mens lewe waarvan die Aarde aan God behoort moet net elke mens gehoorsaamheid aan die Stem en inspraak van die Heilige Gees luister en doen sal die gebroke harte in lyn kom met God se Woord. Shalom

Sarie ·

Sal graag hierdie artikel in die Sowetan of News24 wil lees

Hennie ·

Wonderlike bewys van liefde en mededeelsaamheid wat een en elkeen MOET raak!
God seën almal wat so wonderlik bygedra het.

Wilma ·

Baie dankie aan die werknemers wie so getrou op hul pos is om substasie spoedig te herstel. Baie dankie dat mense nog omgee vi mekaar om te waardeer en te dink aan dai mense wie die werk verrig. Dankie aan almal wie gehelp of bygedra het. Werkers en weldoeners. God seen jul

Anél Engelbrecht ·

Dis verseker ‘n stappie in die regte rigting en elke goeie daad begin met iemand wat met so inisiatief vorendag kom – welgedaan aan almal, die werkers en almal wat help!

Sê maar net ·

Dit wys maar net weer. As die politiek uitgehou word in ons samelewing, dan kan almal goed saam werk en leef. Die politici huts die mense teen mekaar op.

Chrisjan ·

Mooi so, mede SAners. Dis wat ons land so spesiaal maak.

Spike ·

Mooi so jul weldoeners. Julle sal geseën word. Die bybel sê as iemand jou leed aandoen wees goed vir hom en bly stil. Dit sal hom rooi laat word van skaamte. Ek verwys nie na die werkers nie, maar na die rassistiese eff, blf, anc.

Blignauts ·

Dankie Wim en gemeemskap v wyk 44 v julle pragtige voorbeeld aan ons gestel.

Tevrede ·

Dit is diensbaarheid wat ons volkie na die Anglo Boere-oorlog uit die armoede help optrek het. Daardie “kom-uit-my-gemaksone-en-help-my-naaste” ingesteldheid. Laat hierdie vir ons ‘n praktiese herinnering wees wat daar van ons verwag word. Laat die leë blikke maar lawaai – hulle sal ongelukkig maar altyd daar wees.

F Mkhwanazi ·

Wonderwerke gebeur nog. Dankie vir almal se spanwerk.

John ·

Hoekom is die substasie nie gereeld gediens nie? Al die drama kon verhoed gewees het as Eskom sy werk gereeld gedoen het… Gelukkig het dominee se linkhand nou uitgevind wat sy regterhand doen en al die publisiteit is mos wat mens moet kry as jy goed doen…

Lerato ·

John
Dink jy regtig die predikant het dit vir publisiteit gedoen?

Rinette ·

Wat n wonderlike postiewe artikel. Dankie aan elkeen wat betrokke is

Karolis ·

Sopas op 8uur Enca nuus gesien die krag is nog af en daar word geensins melding gemaak van die welwillendheid van die inwoners nie.
Hoe nou?

Diefie ·

Wat ‘n pragtige samewerking is dit nie. Dankie aan elkeen wat ‘n bydrae lewer. Trots op onse mense.

Riaan ·

Dit is net so jammer dat die Burgemeester, Stadbestuurder en ander senior beamptes die goedwilligheid van inwoners vanselfsprekend aanvaar. Hulle doen geen moeite om die rekening gemors aan te spreek nie maar verwag dat inwoners aanhou betaal. My meter word nie gelees nie en ek kry aanhoudend foutiewe rekeninge en al my klagtes val op dowe ore. Gelukkig is die verkiesing om die draai. Cheers Solly!

Veiligheidswag ·

Ja en steeds wil hulle niks spandeer om WAGTE aan te stel om die substasies te secure nie .solank die GEMEENSKAP betaal, solank is dit great . net sodra die munisipaliteit moet begin betaal dan is daar ‘uitdagings’. Ek stel voor ons almal raak so gou moontlik onafhanklik van die munisipaliteit se krag . hierdie is net ‘n begin en sabbotasie word NIE uitgesluit nie.

Maria ·

BAIE DANKIE! Mag Here seen en asook gloeie voorbeeld vir almal x

NB ·

So lekker om goeie nuus te hoor waar mense saamstaan om mekaar te help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.