Foto’s: Inwoners van Kalahari-dorp spoel amper weg

Deben onder water (Foto: Kris-Mari Theron, Verskaf)

Deben, ’n klein dorpie noordwes van Kathu in die Noord-Kaap, is oorstroom en mense is genoop om hul huise te ontruim nadat swaar reën in die gebied uitgesak het. Reën het die afgelope week in groot gedeeltes van die Noord-Kaap uitgesak.

Volgens inwoners is dit die eerste keer sedert 1988 wat die Gamagara-rivier wat deur Deben vloei loop.

Kris-Mari en Louwrens Theron, inwoners van Deben, sê reën het sedert Dinsdag in die omgewing begin uitsak en hulle het in die 24-uur siklus sowat 180 mm reën aangeteken.

Volgens Louwrens het water Woensdagmiddag met die Gamagara se riviertak van die groot opvangsgebied van Kathu en die Sishen-myn se kant gekom. Teen Donderdagoggend het die Gamagara-rivier ook van Olifantshoek se kant afgekom en sowat 1 km van Deben by die ander tak van die river, wat die vorige dag afgekom het, aangesluit.

(Foto: Adam Myburgh, Verskaf)

“Ná die eerste waters wat Woensdagmiddag afgekom het, was die rivier reeds oorstroom. Toe die water wéér verbykom, het die watermassa net meer geword,” vertel Louwrens.

Die laagwaterbrug op die R380 tussen Kathu en Deben wat baie inwoners gebruik, is heeltemal oorspoel. Die Gamagara-munisipaliteit se brandweer- en nooddienste, in samewerking met die Kumba-myn se reaksiespan, het vandag (Donderdag) ʼn reddingsbootjie ingespan om mense wat dringend in Kathu moet uitkom, te help om oor die oorspoelde brug te kom.

Die reddingspan staan gereed (Foto: Adam Myburgh, Verskaf)

Adam Myburgh, hoof van die Gamagara-munisipaliteit se brandweer- en nooddienste, sê hulle het gister net na 21:00 ʼn noodoproep ontvang van mense wat gestrand is nadat hulle die rivier wou oorsteek pas nadat die brug oorstroom is.

“Ons het toe saam met die Kumba-myn se reaksiespan, onder leiding van Johan Zietsman, deur die aand mense in die dorp probeer help waar ons kan,” vertel Myburgh.

Volgens Myburgh het die reddingspan gehelp om water uit mense se oorstroomde huise te pomp en het alles in hul vermoë gedoen om te keer dat die water verder mense se huise binnestroom.

“Vanoggend omstreeks 06:00 het die rivier in breedte toegeneem en het water by baie meer huise in die dorp ingestroom.”

Myburgh sê daar is heelwat skade op die dorp. Talle inwoners moes noodgedwonge hul huise ontruim nadat hul huise oorstroom is. Party inwoners was nie so gelukkig om betyds weg te kom nie en het groot waterskade.

Karin Kalp, inwoner van Deben, se huis is onder water (Foto: Karin Kalp, Verskaf)

Karin Kalp is een van dié inwoners wat enorme waterskade opgedoen het. Sy is moedeloos nadat water gisteraand haar erf en huis binnegestroom het. Sy kon darem meeste van haar meubels betyds vanoggend uit haar huis verwyder.

“Belangrike dokumente en kosbare foto’s van my kinders en my troufoto’s was onder water. Toerusting soos elektriese ware in my stoor is beskadig,” vertel Kalp.

“Ons het meeste van ons goedere gisteraand hoër begin pak, maar vanoggend het die water net meer geword. Ons kon darem van ons meubels betyds uithaal.”

Volgens Kalp gaan die pad vorentoe moeilik wees.

(Foto: Karin Kalp, Verskaf)

“Daar moet skoongemaak word, mure moet weer geverf word, daar sal weer na die huis sê teëls en vloere asook die elektriese bedrading gekyk moet word.”

Myburgh vertel ʼn hommeltuig gaan in die lug opgestuur word om die totale omvang van die skade in die dorp te bepaal.

Volgens Louwrens en Myburgh is die rivier besig om te sak.

“Ons vermoed hy het reeds so 3 tot 4 cm gesak, hoewel die stroom nog baie sterk is,” sê Louwrens.

Kathu se strate was Woensdag ook onder water nadat meer as 200 mm reën sedert Dinsdagaand op dié dorp geval het.

Myburgh sê hul reddingspan was Woensdagoggend in Kathu. Hy sê hy weet van agt huise wat erge waterskade opgedoen het.

“Die water het egter vinnig gesak en teen omstreeks 13:00 was die dorp weer terug na normaal.”

(Foto: Kris-Mari Theron,Verskaf)

(Foto: Kris-Mari Theron,Verskaf)

Die reddingspan het gehelp om mense oor die oorspoelde brug te kry (Foto: Adam Myburgh, Verskaf)

Die reddingspan staan gereed (Foto: Adam Myburgh, Verskaf)

Karin Kalp het erge waterskade opgedoen na water haar huis binnegestroom het (Foto: Karin Kalp, Verskaf)

(Foto: Karin Kalp, Verskaf)

Karin Kalp se erf onder water (Foto: Karin Kalp, Verskaf)

(Foto: Karin Kalp, Verskaf)

(Foto: Kris-Mari Theron, Verskaf)

(Foto: Kris-Mari Theron, Verskaf)

(Foto: Kris-Mari Theron, Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Die reën is seker welkom maar dit is jammer daar is soveel skade.Die NOORD KAAP het mos gebuk gegaan onder ergere droogtes die afgele paar jaar.

Megan Swart ·

Dagsê Stephan
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit moet inderdaad laagwaterbrug wees.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Raakvatter ·

Dis jammer vir die baie skade, maar om so baie water in die Noord Kaap te sien is mooi. Ek hoop die skade lyk meer as wat dit is.

Natasha ·

Ten spyte van die skade jubel almal oor die reën! Ons het die reën meer nodig as enige materialistiese besittings. Dis net ‘n tydelike terugslag…

QueenB ·

Ons het gevra en die Meester het geluister die skade kan weer reg gemaak word die reen het ons so nodig gehad..Dankie Vader

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.